SuperSport Schools Plus

Oakdale Bulle baljaar op Riversdal

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-15 Tags: , , , , ,

FOTO: De Villiers Viljoen

Die Hoër Landbouskool Oakdale het Saterdag op die plaas in Riversdal vir Stellenberg met 29-22 die loef afgesteek in ‘n rugbyskouspel wat in goeie gees gelewer is.

Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Nadat die twee spanne verlede seisoen by Stellenberg “sussies gesoen” het met 13-13, het albei ‘n kring om vanjaar se bepaling getrek as een van die hoogtepunte van die seisoen. Die Oakdale-bulle het hul tuisveld met mag en mening verdedig en kon net-net daarin slaag om die “Jade Brigade” met sewe punte te troef.

Gedurende die eerste helfte het Oakdale die meerderheid van die balbesit en gebiedsvoordeel geniet, en ook daarin geslaag om dié voordeel in punte te omskep, aanvanklik deur hul staatmaker op senter, Kurt Coetzee, se stewel.

Die tuisspan se eerste drie het gekom toe heelagter, Waylon Kortjie, op ‘n losbal geduik het, voordat die boere se opwindende jong loskopstut, Kai Pratt, vier Stellies-verdedigers afgestamp het om aan sy span ‘n 15-punt voorsprong te bied.

Pratt het verlede jaar by die Grant Khomo-week as deel van die SWD-span reeds aandag getrek en bewys homself keer op keer vanjaar as ‘n speler om fyn dop te hou.

Die besoekers het in die laaste sekondes van die eerste helfte uiteindelik hul rekening oop gemaak toe hul groot slot en kaptein, Dale du Toit, oorgebars het vir hul eerste drie en losskakel, Eben Rademan die ekstras bygevoeg het.

Na die omdraaislag het Stellenberg hul ritme gevind en die Oakdale verdediging toenemend begin aanvat. Heelagter, Marco Staples, het die agterstand na 12-15 laat krimp met hul tweede drie, maar sy direkte opponent, Kortjie, het onmiddelik daardie drie uitgekanseleer toe hy in die hoekie oorgeduik het vir sy tweede van die dag.

Die besoekers se voorspelers het die boere nogmaals laat sweet en, met sowat 20 minute oor, het hulle vir Almeiro Keizer oorgedryf om weer binne trefafstand te kom.

Oakdale het egter weer onmiddelik reageer. Rademan se lynskop is afgestorm, CT Vosloo het balbesit vir die tuisspan herwin en, toe hy voor die doellyn platgetrek is, het Jannes Snyman afgerond om die buffer te herstel.

Estian Steyn het nog ‘n skitterende drie vir Stellenberg gedruk, maar daar was eenvoudig nie genoeg speeltyd oor om Oakdale se vroeë voorsprong in te haal nie. Die boere kon dus nog ‘n teenstander se naam op die lys van spanne plaas wat vanjaar reeds teen hulle die knie moes buig.

FOTO: De Villiers Viljoen

Intussen het Worcester Gimnasium en Hoërskool Montagu die Boland se naam hoog gehou op die tuinroete.

Die Gimmies het in Mosselbaai vir Hoërskool Punt met 22-15 verslaan, terwyl Montagu kon vasbyt vir ‘n oorwinning van 40-33 oor Hoërskool Oudtshoorn.

Montagu se ster-losskakel, Ronaldo Koker, het Saterdag op binnesenter begin waar hy floreer het. Benewens die 20 punte wat hy eienhandig bygedra het, het hy heelwat slaankrag in die middeveld verleen.

Die tuisspan het egter ook skitterend gevaar om die momentum te swaai, nadat hulle teen halftyd met 14-33 agtergeloop het.

Puntemakers 

Oakdale Landou 29 (15) – Drieë: Waylon Kortjie (2), Jannes Snyman, Kai Pratt. Doelskoppe: Kurt Coetzee (3). Strafdoel: Coetzee. Stellenberg 22 (7) – Drieë: Estian Steyn, Marco Staples, Almero Keizer, Dale du Toit. Doelskop: Eben Rademan.

Worcester Gimnasium 22 – Drieë: Valentino Nomadluka, Ryan Jacobs, Luke Cupido, Elrenzo Swarts. Doelskop: Aiden Abrahams. Hoërskool Punt 15 – Drieë: Caleb Meyer, Dean Vorster. Doelskop: Gabbrielle Hinkman. Strafdoel: Meyer.

Montagu 40 (33) – Drieë: Ronaldo Koker (2), Linden de Silva, Nazeer Ahmed, Peter-Wayne Soldaat, Algurvine Everson. Doelskoppe: Koker (5). Oudtshoorn 33 (14) – Onbekend.

 

Ander uitslae

o. 19 – Langenhoven Gimnasium 50, Hoërskool Langenhoven 19; Oakdale II 19 Stellenberg II 13; Worcester Gimnasium II 49, Hoërskool Punt II 0; Hoërskool Punt III 15, Worcester Gimnasium III 7; Hoërskool Punt IV 7, Worcester Gimnasium IV 7; Oudtshoorn II 24, Montagu II 7.

o. 16 – Stellenberg 20, Oakdale 12; Worcester Gimnasium 24, Hoërskool Punt 22; Hoërskool Punt B 14, Worcester Gimnasium B 14; Montagu 26, Oudtshoorn 12.

o. 15 – Stellenberg 14, Oakdale 8; Worcester Gimnasium 33, Hoërskool Punt 10; Worcester Gimnasium B 55, Hoërskool Punt B 12; Oudtshoorn 67, Montagu 5.

o. 14 – Oakdale 10, Stellenberg 3; Worcester Gimnasium 45, Hoërskool Punt 0; Worcester Gimnasium B 66, Hoërskool Punt B 5; Oudtshoorn 39, Montagu 7.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.