Oakdale baas op Die Plaas
Die tradisionele interskole tussen die Hoër Landbouskool Oakdale en Boland Landbou is Saterdag op Riversdal beslis. Die twee skole is bekend vir ʼn sterk tradisie van samehorigheid, skoolgees en dissipline, wat beslis bygedra het tot die skouspel van skolerugby wat al die o.14- tot o.19-spanne ten toon gestel het.
Dit was die o.19A-spanne wat voor ʼn baie groot skare hul status as deel van die top 20 in die land gestand gedoen het. Alhoewel Boland Landbou gedurende die eerste twintig minute die losspel oorheers het, was dit veral twee vinnige drieë deur Oakdale wat die Bolanders onkant gevang het.
Die span van Oakdale het beïndruk met hul hantering tussen voor- en agterspelers. Dit was veral Ewan Coetzee, HP van Schoor, Chrisjan du Toit en Boeta Hamman wat beïndruk het.
Die gesoute skopvoet van Jondre Williams (no. 11-vleuel) van Boland Landbou het die Bolandspan deurentyd in die wedstryd gehou en hy is laat in die tweede helfte teruggeskuif na sy spesialisposisie van skrumskakel.
Die goed afgerigte span van Oakdale verdien hul oorwinning en bevestig hiermee opnuut hoekom hierdie twee landbouskole kan meeding met die grootstes in die land.
Tydens die interskole het 16 spanne teen mekaar gespeel waarvan Oakdale 9 en Boland 5 wedstryde gewen het. Die o.16A-spanne het gelykop gespeel.
Die tellings lyk soos volg:
o.19A: 21-19 (Oakdale)
o.19B: 28-9 (Oakdale)
o.19C: 15-32 (Boland)
o.19D: 14-22 (Boland)
o.19E: 7-32 (Boland)
o.19F: 0-63 (Boland)
o.16A: 15-15 (Gelykop)
o.16B: 0-32 (Boland)
o.16C: 8-12 (Boland
o.15A: 26-7 (Oakdale)
o.15B: 46-0 (Oakdale)
o.15C: 32-12 (Oakdale)
o.15D: 38-0 (Oakdale)
o.14A: 14-7 (Oakdale)
o.14B: 10-5 (Oakdale)
o.14C: 21-10 (Oakdale)
PUNTEMAKERS O.19A
OAKDALE: (15) 21
Drieë: HP van Schoor (2) en Hermanus Botha (1)
Doelskoppe: Darren Adonis (15)
Strafskoppe: Darren Adonis (15) x 3
BOLAND: (9) 19
Drieë: Sergull van Niekerk (14)
Doelskoppe: Jondre Williams (11)
Strafskoppe: Jondre Williams (11) x 4




