Oakdale baas in SWD, Grey-agttal laat Monnas vou
Dit was kliphard op De Eike net buite Riversdal, maar Oakdale Landbou is baas op die plaas en in die Suidwestelike Distrikte.
Die Bulle van Oakdale het vir die Hoërskool Outeniqua met 10-0 in ‘n klipharde tweestryd getroef. Daar was na die eerste helfte nie ‘n enkele punt op die telbord nie.
Dit het geblyk of die wedstryd dalk met ‘n telling soos 3-0 beklink sou word, maar albei stelskoppers – Kobus Janse van Rensburg (Oakdale) en Cliffie Jacobs (Outeniqua) het nie hul skopstewels aangehad nie en met verskeie pogings misluk.
Die eerste punte het eers 13 minute voor die einde gekom danksy ‘n stukkie individuele briljantheid deur die wenspan se skrumskakel, Marcel Strydom.
Hy het spasie gevind met ‘n breekslag na die steelkant van net binne sy span se eie halfgebied. Hy het daarna ‘n steekskop vorentoe gegee wat ook vir hom reg gewip het om te kan afrond.
Wat die uitslag nog meer merkwaardig maak is die feit dat die Kwaggas met 14 spelers in sy geledere sit wat die Volstruisboere later vanjaar op die Cravenweek sal verteenwoordig. Die res van die groep van 23 spelers is die nege Bulle van Oakdale wat in die span opgeneem is.
Die grondslag vir die sege is in die lynstane gelê met die tuisspan wat die Kwaggas hier ontwrig het. Die wenspan se haker, Armand Combrinck, en flank Ramon Uys was uitstaande voorlangs. Die linkervleuel, Therlow Prins, kan ook tevrede met sy vertoning voel.
Die Kwaggas se linkervleuel, Keith Syster, het ook elke keer gevaarlik gelyk wat hy in besit gestel is.
In Bloemfontein het Grey-kollege gewys dat hy nie sommer vanjaar weer geklop gaan word nie. Die span van die Rosestad het vir Monument van Krugersdorp met 41-17 die loef afgesteek.
Dié sege behoort aan die agttal van Grey. Die pak voorspelers het gewys dat hy sy man teen ‘n fisieke agttal soos dié van Monnas se Wit Bulle kan staan. Dit was veral die slot JF van Heerden wat nie ‘n tree in die fisieke aspekte van die spel teruggestaan het nie.
Die skrumskakel, Caleb Abrahams, het ook gewys dat hy ‘n speler is waarvoor daar nog ‘n blink toekoms op wag. Abrahams het twee keer met sy skerp breekslae Monnas se doellyn oorgesteek.
Monnas se senter Zain Henery het ‘n hele paar keer daarin geslaag om Grey se verdediging in die middelveld oop te vlek en kan vandag breëbors na sy vertoning rondloop.
In die Noordvaal-trofee se Beker-kompetisie het Dr. EG Jansen van Boksburg sy onoorwonne status behou danksy ‘n sege van 34-26 oor Waterkloof. Die Jansies se losskakel, Jaydon Bantom, was uitmuntend.
Hy was met 20 punte aan die voorpunt van sy span se oorwinning. Hy het twee van sy span se vier drieë na puik lopies afgerond, twee van sy span se drieë daarvan verdoel en ook twee strafdoele tussen deur die pale gejaag.
In die kragmeting tussen Helpmekaar-kollege en HTS Middelburg se Rooi Bulle het albei spanne van meet af die bal lug gegee. Helpies se buitesenter, Luc van Rhyn, het ‘n driekuns aan drieë in sy span se oorwinning van 46-27 behaal.
Helpies se haker, Ruan Welman, en slot Juandré Labuschagne was ook ysters voorlangs.
Garsfontein het oor te veel skietgoed vir Marais Viljoen beskik en met 73-7 die tuisspan van Alberton kaf gedraf. Die span se losskakel, Nic-Allen Gabrielsen, het tien van sy span se 11 drieë verdoel, terwyl Steven Nel (skrumskakel), De Wet Lottering (haker), Dimitre Erasmus (senter), Maynard Kleynhans (agtsteman) en Michail Damon (heelagter) elk dubbelle driedruk-plesier ervaar het.
Noordheuwel se losskakel, JT Kapank, het sy span tot ‘n sege van 33-23 oor Menlopark in Pretoria gelei.
Die Hoërskool Durbanville het ‘n naelskraapse sege van 23-22 teen SACS in die doodsnikke deurgetrek. Durbies se vleuel James Nero het twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak om sy totaal vir die seisoen tot 20 op te stoot.
Dit was ‘n dag met ongiere weer in die Kaap, maar kaptein en haker, Juan Smal, het vir die Hoër Jongenskool Paarl tot ‘n oorwinning van 29-7 aangevoer. Die span se twee flanke, Divan Fuller en Matthew Fick, is besig om saam die agtsteman, Hugo-Ben Horn, ‘n gedugte lostrio te vorm.
Stellenberg se binnesenter, Damian Markus, was met ‘n driekuns aan drieë aan die voorpunt van sy span se sege van 50-11 oor Brackenfell.
FOTO: Eric Waterson Fotografie
Al die uitslae:
NOORDVAAL-TROFEE
Afdeling 1
Beker-kompetisie: EG Jansen 34, Waterkloof 26; Noordheuwel 33, Menlopark 23; Helpmekaar 46, HTS Middelburg 27; Garsfontein 73, Marais Viljoen 7.
Plaat-kompetisie: Hoërskool Nelspruit 38, Montana 14; Transvalia 68, Zwartkop 0; Kempton Park 31, Ben Vorster 15; Hoërskool Middelburg 40, Hoërskool Rustenburg 24.
Skild-kompetisie: Oos-Moot 26, Ligbron 18; Hugenote (Springs) 46, Heidelberg Volkskool 12; Hoërskool Klerksdorp 60, Jeugland 7; Lichtenburg 37, Eldoraigne 28.
Bowl-kompetisie: Centurion 41, Hoërskool Alberton 34; Die Anker 57, Dr. Malan 14; Secunda 31, Hoërskool Pietersburg 7.
Afdeling 2
Brandwag (Benoni) 42, Driehoek 7; Ermelo 44, Rob Ferreira 26; Piet Retief 36, HTS Witbank 22; HTS Tom Naudé 38, Piet Potgieter 5; Merensky 49, Ben Viljoen 33.
Afdeling 3
Frans du Toit 44, Curro Heuwelkruin 7; Louis Trichardt 33, Nylstroom 8; Fochville 24, Linden 10.
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Grey-kollege 41, Monument 17; Welkom Gimnasium 44, Goudveld-Hoërskool 0; Diamantveld 19, Duineveld 12; Sand du Plessis 32, Hendrik Potgieter 17.
KWAZULU-NATAL/EASTERN CAPE
Durban High School 33, Westville Boys’ High 23;
NOORDVAAL
Affies 35, Jeppe 17; Heronbridge College 22, Benoni High 19; Pretoria Boys’ High II 45, Northcliff 3.
WES-KAAP
Oakdale Landbou 10, Outeniqua 0; Hoër Jongenskool Paarl 29, Bishops 7; Wynberg Boys’ High 24, Rondebosch Boys’ High 15; Stellenberg 50, Brackenfell 11; Durbanville 23, SACS 22; Parel Vallei 26, Hoërskool Bellville 17; Charlie Hofmeyr 72, Hoërskool Stellenbosch 5; Hottentots-Holland 14, HTS Bellville 0; Swartland 12, Langenhoven Gimnasium 10; Jan van Riebeeck 13, President 12; Hoërskool Strand 91, Kasselsvlei 12; Bellville-Suid 24, Westerford 3; Bosmansdam 33, Edgemead 6.
[powr-comments id=”1c7a9f9f_1653909137976″]
 



