NWU Prestige-reeks geskaapvang deur reën

Die halfeindronde van die NWU Prestige-reeks is Woensdag, 9 April, amptelik afgelas.
Dié besluit is uiteindelik deur die reeks se bestuur geneem nadat hewige reënbuie vir die soveelste keer die afgelope paar weke oor Potchefstroom uitgesak het.
Die rugbyaksie was geskeduleer om Saterdag, 12 April, op die Noordwes-Universiteit se Fanie du Toit-sportgronde plaas te vind.
Die swaar reën, wat ook die sportgronde van sowel Potchefstroom Gimnasium as Potchefstroom Volkskool buite perke geplaas het, het, op kort kennisgewing, geen ander uitweg vir die bestuur gelaat nie.
“Hiermee wil ons u in kennis stel dat die rugbywedstryde wat vir hierdie komende Saterdag geskeduleer was, amptelik gekanselleer is,” luid die amptelike verklaring.
“’n Formele kommunikasie sal ook aan die betrokke skole gestuur word om hierdie besluit te bevestig. Ons verseker u dat die pad vorentoe duidelik en betyds aan alle skole gekommunikeer sal word, sodat verdere beplanning in ooreenstemming gedoen kan word.”
Die gevaarlike Hoërskool Zwartkop van Centurion sou in die eerste halfeindstryd met die krag van Alberton, Hoërskool Marais Viljoen, swaarde gekruis het. In die hoofwedstryd van die dag, sou Potchefstroom Volkskool vir die naaswenners van verlede jaar se reeks, Hoërskool Wesvalia, die stryd aangesê het.
Verdere inligting rakende die toekomstige bepalings van die Prestige-reeks sal gedeel word sodra verdere inligting ontvang word.





