NWU 16-reeks skop dié naweek af met ‘n nuwe gesig in sy geledere
Verlede jaar was dit reeds duidelik na die eerste ronde wedstryde in die NWU 16-reeks dat die gort behoorlik gaar sou wees.
Die Hoërskool Piet Retief het vir Pionier van Vryheid met 17-10 verslaan. Dit was die span van Vryheid se eerste nederlaag sedert die eindstryd van 2016 teen die Hoërskool Vryburg (5-57) in die reeks.
Piet Retief het uiteindelik die titel verower toe hy die Hoërskool Wolmaransstad in die eindstryd met 27-23 in Potchefstroom die loef afgesteek het. Die verdedigende kampioen sal vanjaar sy titel teen Pionier in Vryheid afskop.
Die twee spanne sê mekaar vanjaar ook in die Puma-liga die stryd aan met die kragmeting wat in die Jack Botes-stadion in Piet Retief beslis sal word.
Soos gewoontlik is Ferrum van Newcastle en Volksrust saam met Piet Retief en Pionier in ‘n groep geloot.
Daar is vanjaar ook ‘n nuweling in die reeks met Hans Strijdom van Mookgophong (voorheen Naboomspruit) wat sy toetrede tot die reeks maak. Die Hansies kan in Groep C sterk teenstand van Bekker van Magaliesburg, Riebeeckrand en die Leeuwenhof Akademie te wagte wees.
Hans Strijdom behoort egter ‘n sterk aanspraakmaker op vanjaar se titel te wees. Hoërskool Overvaal is die span wat moes plek maak vir die nuwelinge van Mookgophong.
In Groep D sal Wolmaransstad, Vryburg, Fochville en Schoonspruit van Klerskdorp mekaar die stryd aansê. Wollies het verlede jaar in die eindstryd vasgeval en ook in die Noordvaal-trofee (Afdeling 3) tot in die halfeindronde gevorder.
Die Hoërskool Vryburg het die Noordvaal-titel in Afdeling 3 met Die Wilgers van Pretoria gedeel na die twee spanne met 15-elk gelykop in die eindstryd gespeel het. Die Wilgers het die vorige week vir Wollies met 24-20 uitgeskakel.
In Groep A sal Oosterland van Secunda, Stoffberg van Brakpan, Pretoria-Noord en Delmas onder mekaar uitklaar wie ‘n kans gaan staan vir die NWU 16-titel in die uitspeelrondes.
Die bepalings is (tuisspanne eerste vermeld):
25 Februarie 2023
Oosterland vs Stoffberg
Pretoria-Noord vs Delmas
Piet Retief vs Pionier
Ferrum vs Volksrust
Leeuwenhof vs Bekker
Hans Strijdom vs Riebeeckrand
Schoonspruit vs Wolmaransstad
Fochville vs Vryburg
4 Maart 2023
Stoffberg vs Delmas
Oosterland vs Pretoria-Noord
Pionier vs Ferrum
Volksrust vs Piet Retief
Riebeeckrand vs Leeuwenhof
Bekker vs Hans Strijdom
Schoonspruit vs Fochville
Wolmaransstad vs Vryburg
11 Maart 2023
Pretoria-Noord vs Stoffberg
Delmas vs Oosterland
Piet Retief vs Ferrum
Pionier vs Volksrust
Bekker vs Riebeeckrand
Leeuwenhof vs Hans Strijdom
Fochville vs Wolmaransstad
Vryburg vs Fochville




