SuperSport Schools Plus

Nuwe kampioen op VKB Stedelike-week gekroon

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-07-02 Tags: ,

Dit sal ‘n spreekwoordelike geval van “Ouboet” teen “Kleinboet” wees wanneer die eindstryd van die VKB Stedelike-week Donderdagmiddag op Piet Geyer-park in Reitz afskop.

Die Vrystaat Arende het hul plek bespreek deur vir KwaZulu-Natal o.18 naelskraaps met 23-17 te troef, terwyl Griffons Platteland vir die Westelike Provinsie Noordelike Voorstede met 28-12 verslaan het om sy plek teen die Vrystaat te bespreek.

Dit beteken voorts dat daar vanjaar ‘n nuwe kampioen by dié week gekroon sal word. Verlede jaar se kampioen, die KwaZulu-Natal Wildebeeste, is nie by vanjaar se toernooi in aksie nie.

Die Arende se sege kan in ‘n groot mate toegeskryf word aan losskakel, Hanco Nel, wat 13 van die Vrystaters se 23 punte aangeteken het met twee doelskoppe en drie strafdoele, terwyl haker, Xander de Beer, voor in die koor was op die aanval. Die voorryman was vir die addisionele 10 punte verantwoordelik met twee kuiers agter die opposisie se doellyn.

Vir die span van KZN het skrumskakel, Jurgens Pretorius, die meeste skade aangerig met ‘n tweekuns aan drieë en behoort hy ‘n sleutelrol te vervul wanneer sy span Donderdag teen die Blou Bulle in die hoofvoorwedstryd te staan kom.

Die Perses se losskakel, Andries De Wet-Steyl, was self in die kol met twee doelskoppe en drie strafdoele in sy span se sege oor die Kapenaars. Oopkanflank, MJ Hattingh, se gewoeker in die los is beloon met twee drieë, wat uiteindelik die verskil tussen die spanne beteken het, terwyl agsteman, Wian Visser, ook prominent was met die bal in hand. Die Griffons se los-duo sal beslis ‘n vername rol speel in Donderdag se eindstryd teen die Arende.

Vir die Blou Bulle o.17, aangevoer deur Hoërskool Garsfontein se Lourenz de Jager, het losskakel, Willie Pieterse, die dag met sy stewel oorheers om ‘n oorwinning van 31-27 oor die Western Cape Disas te beklink. Pieterse het twee doelskoppe, twee strafdoele en twee skepdoele deur die pale gejaag vir ‘n persoonlike bydrae van 16 punte, meer as die helfte van sy span se totaal.

Hoewel die span van die Kaap tweede beste daarvan afgekom het, het hy nietemin steeds vier keer agter die Blou Bulle se doellyn gaan draai.

Puntemakers: 

Vrystaat Arende 23 (17) – Drieë: Xander de Beer (2). Doelskoppe: Hanco Nel (2). Strafdoele: Nel (3). KwaZulu-Natal o.18 17 (12) – Drieë: Jurgens Pretorius (2), Gerber Diedricks. Doelskop: Diedricks.

Blou Bulle o.17 31 (27) – Drieë: Ewald van Niekerk, Jaap Stolp, Reagan Blignaut. Doelskoppe: Willie Pieterse (2). Strafdoele: Pieterse (2). Skepdoel: Pieterse (2). Western Cape Disas 27 (13) – Drieë: Francois de Villiers, Wade Wilfred, Yanick Mwamba, Jaydon Adrie Steenkamp. Doelskoppe: Steenkamp, Rioscoe Julius. Strafdoel: Junior Louw.

Griffons Platteland 28 (22) – MJ Hattingh (2), Wian Visser. Doelskoppe: Andries de Wet Steyl (2). Strafdoele: De Wet Steyl (3). Westelike Provinsie Noordelike Voorstede XV 12 (5) – Drieë: Haddon Plaatjies, Joen Davids. Doelskop: Plaatjies.

Namibië 14 (14) – Drie: Derick Bezuidenhout. Strafdoele: Sergio Pamplin (3). Barbarians 13 (10) – Drieë: Pieter Nel, Joubert Flores. Strafdoel: Nolan du Plooy.

UXI Invitational XV 43 (3) – Drieë: Ntando Radebe (2), Lwandile Nzama, Ethan Haywood, Gerhard Jacobs, Logan Reece, Alex Jankowity. Doelskoppe: Haywood (4). Zululand 13 (6) – Drieë: Fezile Luhlongwane. Doelskop: Okuhle Gumede. Strafdoel: Gumede (2).

Noord-KwaZulu-Natal 36 (17) – Drieë: Samukelo Nthombeki (2), Seluleko Mvelase, Snakho, Jean Theron, Anthony Byrnes. Doelskoppe: Josh Jordaan (3). Diamante 12 (7) – Drieë: William Bloem, Anele Mosweu. Doelskop: Liam Botha.

Die bepalings vir Donderdag 3 Julie: 

09:00 – Diamante t. Westelike Provinsie Noordelike Voorstede XV
10:25 – NKZN o.17 t. Zululand Rhinos
11:50 – UXI Sport School Invitational t. Barbarians
13:15 – Westelike Provinsie Disas t. Namibië
14:40 – Blou Bulle o.17 t. KwaZulu-Natal o.18
16:05 – Vrystaat Arende t. Griffons Platteland

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.