SuperSport Schools Plus

Northerns verniel Sentraal in eerste wedstryd van Wesgrow-reeks

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2020-03-02 Tags: ,

NuusG Noord KaapDie Hoërskool Noord-Kaap se eersterugbyspan het sy eweknie van die Hoërskool Sentraal ‘n rugbyles in die openingswedstryd van vanjaar se Wesgrow-reeks gegee. Northerns het Sentraal met 69-5 plat gevee nadat hulle reeds rustyd ‘n voorsprong van 28-5 opgebou het. 

Die kragmeting is op Fichardtpark se jaarlikse McDonald’s Sportdag in Bloemfontein gespeel. 

Dit was waarskynlik die Tralies se grootste drag slae sedert Marlow Landbou hulle tydens President Steyn se jaarlikse sportdag van 2008 met 94-14 verneder het. Dit is wel nie Northerns se grootste sege nog oor Sentraal nie. Die skool se eerstes het die Tralies in 2012 met 76-0 afgeransel. 

Noord-Kaap se binnesenter, JJ Molete, was die grootste doring in Sentraal se vlees. Molete het feitlik na willekeur deur die verloorspan se verdediging gebars. Hy het ‘n driekuns aan drieë behaal en sal indien hy op sy vertoning kan voortbou ‘n speler wees wie se naam nog baie vanjaar gehoor sal word. 

Die wenspan se losskakel, Corné du Plessis, was ook op sy stukke en het die doellyn twee keer oorgesteek en ook ses van sy span se elf drieë verdoel vir ‘n persoonlike bydra van 22 punte. Du Plessis het ook spel goed dikteer en die agterlyn seepglad weggestuur. 

Voorlangs het die slot Franco Stassen die pap behoorlik dik aangemaak. Hy het met sy fisieke spel die Tralie-agttal op die agtervoet gedwing. Hy het ook met ‘n mooi lopie vanuit sy span se eie kwartgebied die aanvoorwerk vir die vleuel McNeil Cupido se drie gedoen. 

Northerns het met hierdie sege ‘n duidelike boodskap aan die ander spanne in die Wesgrow-reeks gegee dat hulle vanjaar gewis ‘n span is om mee rekening te hou. Die Tralies het Saterdag vir die eerste keer in sy geskiedenis met sy welbekende bloktrui vir sy eerste wedstryd in ‘n seisoen uitgedraf. Dit was die geval reeds omdat dit ‘n ligawedstryd was.   

Sentraal se nuwe Direkteur van Rugby, Ian Campbell-McGeachy, se eerste werksdag was eers Maandag na die wedstryd, maar hy sal na Saterdag ‘n goeie idee hê waarvoor hy homself ingelaat het. 

Die Hoërskool Kroonstad het sy seisoen op ‘n wennoot begin deur St Andrews van Bloemfontein met 15-10 in die openingswedstryd van die sportdag te klop. Blouskool het met ‘n skrale voorsprong van 7-5 gaan rus na Saints se kaptein en kantman, Mahube Leshabane, kort voor rustyd sy span se rekening met ‘n drie oopgemaak het. 

Leshabane was sonder twyfel een van sy span se voorste spelers op die dag. Hy is goed ondersteun deur die binnesenter, Petros Struwig, wat gevaarlik gelyk het elke keer wat hy in besit van die bal geplaas is. 

Vir Blouskool was daar niemand beter as sy haker, Cornel Saunders, nie. Hy het die veld vol gespeel en met ‘n paar duikslae ‘n paar manne na hul asems laat snak. Hy het ook by die afbreekpunte ingeklim. Die loskopstut, Juandré Greyling, het met sy skrumwerk asook spel in die los beïndruk.

Puntemakers: 

Noord-Kaap 69 (28) – Drieë: JJ Molete (3), Corné du Plessis (2), Jayden Eiman, McNeil Cupido, Devanito Vergotini, Franco Stassen, Bradley Human, Douglas le Bretton. Doelskoppe: Du Plessis (6). Sentraal 5 (5) – Drie: Hein du Preez. 

Hoërskool Kroonstad 15 (7) – Drie: Cornel Sanders, Jaco van der Heever. Doelskop: Arno Swart. Strafdoel: Swart. St Andrews 10 (5) – Drieë: Mahube Leshabane, Petros Struwig.

Watch the matches again on DigiTV: 

FichiesTVNoord-Kaap vs Sentraalhttps://digitv.co.za/#/video/26504/27209/Vod
Hoërskool Kroonstad vs St Andrewshttps://digitv.co.za/#/video/26499/27209/Vod

 

[powr-comments id=”818ab00b_1583317193984″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.