SuperSport Schools Plus

Northerns se Dowie word ondersoek na voorval

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-05-13 Tags:

HOËRSKOOL NOORD-KAAP se eerstespan flank, Luaan Dowie het Saterdag in sy span se wedstryd teen Hoërskool Waterkloof van Pretoria op Pirates in Kimberley sy loopbaan waarskynlik ‘n reuse knou gegee.

Dowie het ‘n rooikaart ontvang van die skeidsregter, Francois de Bruin na slegs 15 minute se spel in die kragmeting vir ‘n beweerde vuishou op Klofies se slot Jeandré de Beer. Dowie het beweer dat hy net voor die voorval in die oog deur De Beer gekrap is. Terwyl De Bruin sy rooikaart terug in sy kous gedruk het, het Dowie glo weer vir De Beer met die kop geslaan dat hy omgeval het. Hierna het daar chaos op die veld geheers met die afrigters van die spanne en ‘n ouer van Waterkloof wat glo op die veld gestorm het.

Toe Dowie uiteindelik die veld verlaat het, het Klofies se ondersteuners hom uitgejou waarna hy glo vir hulle gure handgebaar gewys het. Dowie sal na verwag word in dié week deur Griekwaland-Wes se Rugby-unie verhoor word. Hy was verlede jaar lid van die Poubloues se Cravenweek-span na Port Elizabeth en behoort vanjaar weer die span na die toernooi in Polokwane te gehaal het. Indien hy egter skuldig bevind word tydens dié verhoor is daar ‘n groot moontlikheid dat hy nie weer vanjaar op ‘n rugbyveld in aksie mag wees nie.

Northerns het na die voorval daarin geslaag om hulle onoorwonne status in Kimberley sedert 2008 te behou toe hul 34-30 as oorwinnaars van die veld gestap het. Noord-Kaap het laas in Kimberley op sy tuisveld teen Landboudal van Jacobsdal in 2008 verloor.

Dit was ‘n indrukwekkende oorwinning vir die tuisspan as daar in ag geneem word hulle het die grootste gedeelte van die wedstryd met slegs 14 man gespeel. Die span het ook sonder sy kaptein en slot, Lehan Muller opgedraf wat die wedstryd weens ‘n besering misgeloop het. Die span se onderkaptein en senter, Luke Mason het ‘n uitstekende werk in Muller se afwesigheid gedoen om die span aan te voer.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.