Northerns maak in langverwagte verskyning in Wildeklawer-toernooi
TWEE spanne sal vanjaar die eerste keer aan die Wildeklawer-SuperSkole-rugbytoernooi deelneem. Die Hoërskool Noord-Kaap maak sy langverwagte verskyning, terwyl Grey Boys’ High School van Port Elizabeth die ander skool is wat vanjaar die eerste keer aan die gewilde toernooi sal deelneem.
Die toernooi vind van 2 tot 4 April by Maritzburg-kollege in Pietermaritzburg plaas.
Noord-Kaap het in 2011 en 2012 onder die voorste tien spanne in die land getel en sal graag ook sy stempel op die voorste skoletoernooi in die land wil afdruk.
Northerns sal teen EG Jansen en Boland Landbou in sy twee kragmetings op die toernooi in aksie wees. Die span se uithouvermoë sal in dié tydperk getoets word. Die span van die Diamantstad is vandag in sy derde en laaste wedstryd van die Pukke se Skouspel teen die Hoërskool Klerksdorp in Potchefstroom in aksie. Die span neem ook dan van Saterdag in Pietermaritzburg deel aan die feestoernooi ter herdenking van Maritzburg-kollege se 150ste bestaansjaar.
Grey-kollege sal met Oakdale Landbou van Riversdal en Monument van Krugersdorp kragte meet. Die ander span van die sentrale streek wat op die toernooi in aksie is, is Diamantveld. Hy sal teen Grey PE en EG Jansen in sy twee wedstryde te staan kom.
Vanjaar is die vyfde jaar dat dié toernooi aangebied word. Grey-kollege, wat die eerste jaar misgeloop het, is die enigste span wat met ’n onoorwonne rekord spog. Monument en die Hoër Jongenskool Paarl spog met die naasbeste rekord. Albei skole het in ses van hul agt wedstryde tot dusver op die Wildeklawer-toernooi as oorwinnaars van die veld gestap.
Dié wedstryde waarna die meeste uitgesien sal word, is die kragmeting tussen Affies en Paul Roos-Gimnasium, en Waterkloof en Paarl-Gimnasium.
Die toernooi se bepalings is:
Dag 1: A-veld: 07:50 – EG Jansen t. Noord-Kaap; 09:00 – Glenwood t. Boland Landbou; 10:10 – HTS Drostdy t. Monument; 11:20 – Grey-kollege t. Oakdale Landbou; 12:30 – Diamantveld t. Grey Boys’ High School; 13:40 – Paarl-Gimnasium t. Wildeklawer XV; 14:50 – Maritzburg-kollege t. Paul Roos-Gimnasium; 16:00 – Outeniqua t. Waterkloof. B-veld: 10:10 – Affies t. Framesby; 11:20 – Hoër Jongenskool Paarl t. Sharks XV.
Dag 2: A-veld: 07:50 – Oakdale Landbou t. Sharks XV; 09:00 – Waterkloof t. Paarl- Gimnasium; 10:10 – Diamantveld t. EG Jansen; 11:20 – Glenwood t. Hoër Jongenskool Paarl; 12:30 – Boland Landbou t. Noord-Kaap; 13:40 – Affies t. Paul Roos; 14:50 – Monument t. Grey-kollege; 16:00 – Maritzburg-kollege t. Framesby. B-veld: 10:10 – Outeniqua t. Grey Boys’ High School; 11:20 – HTS Drostdy t. Wildeklawer XV.




