Nories sonder twee staatmakers vir Rustie-stryd


Hoërskool Noordheuwel moet Saterdag die laaste wedstryd voor die vakansie sonder twee van sy groot staatmakers aandurf.
Volg al die Beker-aksie resgtreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) of Kanaal 216.
Die Nories reis na Rustenburg om ‘n uiters onvoorspelbare Hoërskool Rustenburg die stryd aan te sê. Die Rusties het verlede naweek gewys hóé moeilik dit is om hulle op hul tuisveld te tem deur so hittete die verdedigende kampioen van die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, Hoërskool Garsfontein, te laat les opsê.
Die Blues, op hul beurt, het reeds in ‘n moeilike wegwedstryd teen Hoërskool Nelspruit met 27-14 geseëvier.
Hierdie naweek se uitdaging is egter ietwat moeiliker vanweë die afwesigheid van Nories se Cravenweek-slot, Kean Lourens, en vaskopstut, Steph Botha. Botha, steeds o.17, is ook in die Leeus se provinsiale strukture opgeneem en sal die Welpies by die Akademieweek in Middelburg verteenwoordig. Albei ervaar las van skouerbeserings, met Lourens s’n die ernstigste, wat ook sy Cravenweek-verteenwoordiging in gedrang stel.
Botha word deur Johan Helberg vervang, terwyl die Blues se breiers steeds koukus oor Lourens se plaasvervanger. Daar bestaan ‘n sterk moontlikheid dat die veelsydige JB Blount Lourens se skoene sal volstaan.
Die Rusties het self ‘n paar veranderinge aan hul span gemaak, met die vleuels, Waide Davey en Bradley Snyers, wat truie ruil. Davey speel regtervleuel met Snyers aan die linkerkant van die veld. Voorlangs loop steelkantflank, Thian Labuschagne, die Norie-stryd mis en word vervang deur Marais Röcher. Die res van hul fisieke pak bly dieselfde, wat ‘n titaniese voorspelerstryd beloof.
Hoërskool Monument verwelkom sy spelskepper op losskakel, Anthony Viljoen, terug in die beginspan vir die stryd met Hoërskool Nelspruit op die Ras van Rooyen. Viljoen was vir bykans twee maande buite aksie weens ‘n armbesering. Die span van Krugersdorp het verlede week sy eerste sege van die reeks behaal, teen Hoërskool Transvalia (24-22), danksy ‘n strafdoel deur Viljoen, vanaf die plaasvervangerbank.
Kantman, Siyabonga Ncube, keer ook terugkeer, maar vir eers ook van die bank af. Haker, Tristan Rodrigues, is egter nou op die krukkelys, wat noodsaak dat Reghard Ernst van flank na haker skuif. Ernst het vroeër vanjaar reeds in die middel van die voorry gesak, en word deur Jordan Swanepoel op steelkantflank vervang.
Die Rhinos verwelkom die giftige Tinyiko Silubane terug op linkervleuel, na sy skorsing van ‘n week. Dit is die enigste verandering aan die span van Nelspruit, wat ‘n oorwinning broodnodig het indien hulle in die wedloop wil bly, terwyl die Wit Bulle óók hul kanse met ‘n sege kan lewendig hou.
Garsfontein, tans eerste op dié afdeling se puntelys na sy oorwinning in Rustenburg verlede Saterdag, verwelkom die indrukwekkende nuweling, Hoërskool Transvalia, op Berepark. Hoewel die Garsies steeds met beserings aan vier sleutelspelers sit, het hulle ‘n beduidende hupstoot ontvang met die terugkeer van vaskopstut, Luan van den Berg. Van den Berg was vir die laaste twee kragmetings buite aksie en verleen heelwat oemf aan die enjinkamer.
Valia behou dieselfde beginspan vir sy besoek aan die Jakarandastad. Die span van Vanderbijlpark se direkte en fisiese benadering sal ongetwyfeld die verdedigende kampioen toets, maar terselftertyd besef hy dat ‘n besoek aan Berepark allermins maklik is.
Die spanne:
Hoërskool Rustenburg t. Noordheuwel om 12:30 in Rustenburg:
Rustenburg: 15 Ayden Willemse, 14 Waide Davey, 13 Zack Swaenpoel, 12 Hendré Robinson, 11 Bradley Snyers, 10 Ricardo Enos, 9 Adriano George, 8 Dirk Huisamen, 7 Marais Röcher, 6 MJ Otto, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Jayden Minnie, 2 Xavier Steenkamp, 1 Xander Stickling.
Noordheuwel (moontlik): 15 Jeandré Uithaler, 14 Aidan Bester, 13 Tristan Helmund, 12 Kieran Reid, 11 Jayden Steyn, 10 Pablo Moeketsane, 9 Gillie Diedericks, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Roehan Hoogendyk, 4 JB Blount, 3 Johan Helberg, 2 Clinton Agu, 1 Skuttie Bezuidenhout.
Monument t. Hoërskool Nelspruit om 12:30 in Krugersdorp:
Monument: 15 Loghan Langeveldt, 14 Jason Joubert, 13 Ruan Genis, 12 Juandré Ehlers, 11 Ewan van der Walt, 10 Anthony Viljoen, 9 Evan Bernhardi, 8 Ryno van der Westhuizen, 7 Jordan Swanepoel, 6 Caleb Sparks, 5 Dean Hartman, 4 Vincent Roberts, 3 Daniel Smith, 2 Reghard Ernst, 1 Kamogelo Katisa.
Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Kamo Monkwe, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Dhandré van Wyk, 5 André Smit, 4 Jason Cogill, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Christiaan Viljoen.
Garsontein t. Transvalia om 13:30 in Pretoria:
Garsfontein: 15 Junade Pasensie, 14 Junaide Stuart, 13 Levi Jordaan, 12 Keagan Knighton, 11 Drewyn Baron, 10 Joshua Gouws, 9 Derrick Kuhn, 8 Lourenz de Jager, 7 Stefan van der Vyver, 6 JP Pieterse, 5 Derik Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Luan van den Berg, 2 Justin Blom, 1 Morné Coetzer.
Transvalia: 15 Lorenzo Flynn, 14 Dihan Crause, 13 Danté Oosthuizen, 12 Declan Hattingh, 11 Tumi Moloi, 10 Jay-Dee Maree, 9 Johan Smit, 8 Wynand Stolz, 7 Daniel Kazambo, 6 Juan Bischoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Kyle Maartens, 3 Damian van Heerden, 2 Wihandré Kruger, 1 Vusi Morathi.