Nories se halfeind-hoop sneuwel in Pretoria

PRETORIA – Die Norie Blues het die einde van die pad in die SDC Noordvaal Cup se Beker-wedloop bereik, na die opskudding wat Hoërskool Menlopark Saterdag in Pretoria veroorsaak het.
Herleef al die Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Parkies het die besoekende Hoërskool Noordheuwel met ‘n telling van 26-19 verslaan.
Die vier spanne wat deurgedring het na die halfeindronde is Dr. EG Jansen, Waterkloof, Garsfontein en Monument.
Die Nories se nederlaag het vir heelwat mense as ‘n verrassing gekom, verál na die span van Krugersdorp vir een van die voorlopers in die reeks, Hoërskool Waterkloof, skaars ‘n week vantevore gemaklik met 52-32 omgedop het.
Hul vertoning hierdie week kan egter nie met dié van die vorige week vergelyk nie. Dit was aangesien die Parkies deurgaans maniere gevind het om die besoekers onder druk te plaas en dit het daartoe gelei dat ongedwonge foute kop uitgesteek het.
Die Pretorianers se verdediging was boonop rotsvas. Onder leiding van die indrukwekkende Rocco Myburgh op agsteman, asook die slotte, Mattheus Prinsloo en Xander Roets, het die Parkies voorlangs behoorlik die septer geswaai.
Dit het die grondslag gelê vir die agterlyn om aanskoulike, aanvalsrugby te speel en gevolglik is ál vier hul drieë deur agterspelers aangeteken. Die veelsydige Divan Nel het vir die soveelste keer vanjaar geskitter en heel gepas die driedruk-vertoning ingelei.
Nories se flank en kaptein, Meyer Opperman, en losskopstut, Ruben Botes, het moedig probeer om voorwaartse momentum te bewerkstellig, maar hul span het eenvoudig nie van rat verwissel nie. Agterlangs het Cheswill Jooste en Lindsey Jansen soms vir die Parkies hoofbrekens gesorg, maar selfs hulle was nie so giftig soos teen die Klofies verlede naweek nie.
Hoërskool Dr. EG Jansen het sy stempel selfs verder afgedruk deur, met slegs 14 man, sjampanje-rugby op te dis waarmee hy vir die Rhinos van Hoërskool Nelspruit met 50-7 afgestof het. Oopkantflank, Zaide-Leigh Rippenaar, was uitmuntend en het een van sy beste vertonings van die seisoen gelewer.
Die Boksburgers se agterhoede het ook ‘n duidelike waarskuwing gerig dat hulle nie enige spasie gegun moet word nie. Losskakel, Matthew Bergman, het spel van die hoogste gehalte gelewer om sy senters, Steven Williams en Jeandre Jacobs, telkens in gapings te plaas.
Die Jansies het met dié bonuspuntsege ‘n tuishalfeindstryd oor twee weke verseker. Dit is ‘n vooruitsig wat Helpmekaar Kollege of Monument se handpalms sal laat sweet.
Die Blou Tornado, Hoërskool Waterkloof, het, na twee uitdagende weke, na die wenpad teruggekeer en, danksy ‘n dominante vertoning in die tweede helfte, met 47-14 oor Hoërskool Marais Viljoen in Alberton koning gekraai. Dié bonuspuntsege kan beteken dat hy, nes die Jansies, tuisveldvoordeel vir die semi-finale geniet.
Losskopstut, Juan Gouws, het soos ‘n wafferse losvoorspeler in die vastelos gewoel om die lewe ondraaglik vir die tuisspan te maak, en sy kort maar kragtige barslopies het herhaaldelik vir die besoekers oor die voordeellyn gedryf. Dit het ‘n groot aandeel gehad daarin dat die besoekers 35 punte in die tweede helfte aangeteken het.
Boonop het Ronan Bastiaanse, wat vandeesweek op losskakel uitgedraf het, sy ritme gevind in die tweede 35 minute om die agterlyn aan die gang te kry.
Devin Raubenheimer, die tuisspan se linkervleuel, het soos die week vantevore, deurentyd gevaarlik gelyk en met sy bedrieglike vaart en flink voetwerk die Klofies op hul tone gehou.
Puntemakers:
Menlopark 26 (12) – Drieë: Gustav Schaffner, Wynand van Wyk, Leskin Samuels, Divan Nel. Doelskoppe: Phillipus de Bruyn (3). Noordheuwel 19 (5) – Drieë: Jeremo Luiters, Ruben Botes, Meyer Opperman. Doelskoppe: Lindsey Jansen (2).
Dr. EG Jansen 50 (31) – Drieë: Steven Williams, Zade-Leigh Rippenaar, Duwan Potgieter, Jeandre Jacobs, Gerhard van Aswegen, Divan Francis, Ettienne Smit, Jeandre Reynders. Doelskoppe: Jean-Dré Claasen (5), Jeandre Reynders. Hoërskool Nelspruit 7 (0) – Drie: Vaughn van Zyl. Doelskop: Theuns Meyer.
Waterkloof 47 (12) – Drieë: Ronan Bastiaanse, Juan Gouws, Mikhal Odendaal, Happy Makate, Dennis Obi, Migael Prinsloo, Ruan Jacobz. Doelskop: Bastiaanse. Marais Viljoen 14 (7) – Drieë: Claude de Couto, Devin Raubenheimer. Doelskoppe: Tyron Bouw (2).
Ander spanne:
o.16: Noordheuwel 24, Menlopark 18; Nelspruit 24, Dr. EG Jansen 19; Waterkloof 67, Marais Viljoen 0.
o.15: Noordheuwel 41, Menlopark 0; Nelspruit 26, Dr. EG Jansen 19; Waterkloof 28, Marais Viljoen 21.
o.14: Noordheuwel 23, Menlopark 6; Nelspruit 21, Dr. EG Jansen 17; Waterkloof 52, Marais Viljoen 7.

Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




