SuperSport Schools Plus

Nories se beste kans om Wit Bulle te troef in 24 jaar

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-23 Tags: , , , , , , ,

Wanneer die Krugersdorp-derby Saterdagmiddag op “Die Heuwel” afskop, sal die gasheerspan, Hoërskool Noordheuwel, streef na slegs ‘n derde oorwinning ooit oor die naburige Hoërskool Monument.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) of op DStv kanaal 216. 

Sedert die ontstaan van dié derby, in 1986, kon die Nories nog nét twee keer, in die heel eerste kragmeting en weer in 2001, met 20-18, die knoop deurhak.

Intussen het die Wit Bulle in 16 van die 18 ontmoetings koning gekraai. Die grootste punteverskil was in 1996 toe hulle vir die Blues met 74-3 pak gegee het.

Die tweestryd het sedert 2022 ‘n jaarlikse instelling geword, danksy die destydse Noordvaal-trofee (deesdae die SDC Noordvaal Cup) en ‘n paar rillers opgelewer.

Die Wit Bulle was nietemin steeds baas van die Krugersdorp-plaas in ál drie die onlangse kragmetings. Die vorige keer, tydens die rondomtalie-fase van verlede jaar se Beker-afdeling het die Monumentare naelskraaps met 36-33 die pyp gerook op hul tuisveld, die Ras van Rooyen.

Vanjaar is die algemene gevoel in Krugersdorp dat die Blues dié derby straks as gunstelinge betree, maar, gegewe die onvoorspelbaarheid van skolerugby, kan ‘n mens nooit té vroeg daadwerklike aannames maak nie. Die Nories het op stuk van sake die afgelope paar weke klippe gekou, met ‘n onlangse nederlaag teen King Edward VII School (22-23), wat ‘n bitter pil was om te sluk.

Die beseringspook het intussen by albei skole kom aanklop. Die Wit Bulle se staatmaker-losskakel, Jaydon Viljoen, is steeds op die krukkelys met ‘n gebreekde arm. Cameron Kourie het egter Viljoen se skoene netjies volgestaan as generaal van die span.

Kourie se lakmoestoets wag egter Saterdag in die vorm van Noordheuwel se Jeandré Uithaler. Uithaler is onlangs welverdiend as die Goue Leeus se Cravenweek-losskakel aangewys, maar daar is twyfel oor sy beskikbaarheid na hy die Blues se nederlaag teen KES verlede naweek misgeloop het.

Voorlangs word vuurwerke verwag tussen die onderskeie kapteins, met Nories se haker, Clinton Agu, tans die sterkste aanspraakmaker op die nr. 2-trui vir die SA Skolespan, wat sy stempel sal wil afdruk teen Vincent Roberts en die res van die Monnas-pak.

Om verder tot die opwinding by te dra, is daar twee oud Monumentare, Stefan Lourens en Reinhard Gerber, in die teenoorgestelde hoeke van die kryt.

Hoërskool Rustenburg hervat sy veldtog na ‘n welverdiende blaaskans, wanneer hy vir Hoërskool Nelspruit tuis verwelkom.

Die Rusties, met slegs een uitstappie in dié kompetisie tot dusver vanjaar, sal graag sake wil regstel na hul nederlaag van 13-20 teen Hoërskool Transvalia twee weke gelede. Die Rhinos lek self wonde nadat hulle met 13-22 die knie gebuig het teen ‘n ooglopend “nuwe” Helpmekaar Kollege.

Die Rusties en Nellies is nietemin steeds altwee gedugte spanne, goed afgerig, en die stryd voorlangs behoort verál fel te wees.

Nellies word versterk deur die terugkeer van kantman, Vian Louw, wat so gou as moontlik na sy harsingskudding die spelpeil wil herwin waarmee hy die tuisspan onder druk kan plaas.

Wat die Rusties betref, vervang Ayden Willemse vir Lorenzo Snyers op heelagter, in ‘n taktiese skuif wat Willemse in staat stel om sy aanspraak op die nr. 15-trui in die Luiperds se Cravenweekspan te versterk.

Die spanne: 

Noordheuwel t. Monument om 12:30 in Krugersdorp: 

Noordheuwel (moontlik): 15 Jade Rollison, 14 Aidan Bester, 13 Jayden Steyn, 12 Kieran Reid, 11 JP van der Merwe, 10 Juandré Uithaler, 9 Gillie Diedericks, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Roehan Hoogendyk, 4 Kean Lourens, 3 Steph Botha, 2 Clinton Agu, 1 Skuttie Bezuidenhout.

Monument (moontlik): 15 Ewan van der Walt, 14 Jason Joubert, 13 Viandré van Loggerenberg, 12 Juandré Ehlers, 11 Ruan Genis, 10 Cameron Kourie, 9 Evan Berhardi, 8 Ryn van der Westhuizen, 7 Loghan Huges, 6 Siya Ncube, 5 Dean Hartman, 4 Vincent Roberts, 3 Juandré Marais, 2 Reghardt Ernst, 1 Danie Smith.

Hoërskool Rustenburg t. Hoërskool Nelspruit om 13:30 in Rustenburg: 

Rustenburg: 15 Ayden Willemse, 14 Bradley Snyers, 13 Jon-Ré Jefthas, 12 Hendré Robinson, 11 Waide Davey, 10 Ricardo Enos, 9 Adriano George, 8 Donovan Mosterdt, 7 Dirk Huisamen, 6 MJ Otto, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Jayden Minnie, 2 Xavier Steenkamp, 1 Jan-Paul Nel.

Nelspruit (moontlik): 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Werno Heyns, 5 André Smit, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.