SuperSport Schools Plus

Nories maak vir Grey skrik, Paul Roos verhang bordjies teen Garsie Bere net-net

By Hannes Nienaber , in Featured | Main Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-03-29 Tags: , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix

Dit was ‘n geval van so naby, maar to sover vir die eersterugbyspan van die Hoërskool Noordheuwel op die tweede dag van die NMI Toyota Noord/Suid-toernooi in Stellenbosch.

Grey-kollege het die kragmeting tussen die twee spanne met 24-22 gewen na ‘n hele paar benoude oomblikke.

Nories se puik losskakel, Jeandré Uithaler, het die geleentheid met ‘n strafskop in die doodsnikke gehad om aan sy span ‘n sege te besorg.

Die span van Krugersdorp se agtsteman, Armand van Eck, was ook boonop enkele sentimeters met slegs tien minute oor daarvan weg om ‘n moontlike wendrie te druk.

Van Eck het die bal oor die doellyn verloor met die telling op 22-19 in sy span se guns.

Die Nories het met hul verdediging daarin geslaag om Grey op die agtervoet te plaas. Hulle het ook daarin geslaag om Grey se rolmaalbewegings te ontwrig. Die Nories het keer op keer Grey verhoed om op die voorvoet in die afdeling van die spel te kom.

Grey se heelagter, Lamla Mgedezi, is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys. Hy het ‘n driekuns aan drieë behaal en was elke keer gevaarlik wanneer hy is besit geplaas is. Hy is ook as die Speler van die Dag aangewys.

Só goed soos wat Mgedezi op die aanval was, só goed was sy direkte teenstander, Tidi Moeketsae, op verdediging. Hy het telkemale duikslae uitgevoer wat Grey se aanvalle in sy spore gestuit het. Uithaler was ook op sy stukke op die aanval en as planmaker vir Nories.

Voorlangs het die haker, Clinton Agu, en die slot Kean Lourens uitmuntend vir die verloorspan vertoon.

Paul Roos Gimnasium het die bordjies teen Garsfontein in die hoofwedstryd van die dag met 34-32 verhang. Die twee spanne se enigste vorige kragmeting was in 2022 tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley toe die Garsie Bere met 21-18 as oorwinnaars van die veld gestap nie.

Die span van die Eikestad se losskakel, Travis Pheiffer, het met ‘n foutlose skopvertoning waarskynlik die grootste aandeel in sy span se sege gehad. Hy is tot dusver ook die beste stelskopper wat op vanjaar se toernooi in aksie was. Pheiffer het al vier sy span se drieë verdoel asook twee strafdoele tussen deur die pale gejaag.

Die laaste strafdoel was met vyf minute om aan sy span die beslissende voorsprong te gee. Drie minute voor dit het Garsies se buitesenter, Joshua Gouws, met die doelskop van Luan van der Berg (vaskopstut) se drie aan die Bere ‘n voorsprong van 32-31 gegee.

Van der Berg was soos gewoontlik skitterend in die skrums en het ook in die los ‘n groot rol vir Garsies vertolk. Hy is na afloop van die wedstryd as Speler van die Wedstryd aangewys.

Die twee spanne het mekaar behoorlik opgekeil. Vir Paul Roos was Keanu Stoffels (heelagter), Dylan van Wyk (flank) en Gert Kemp (kaptein en agtsteman) ook ‘n goeie dag op kantoor beleef.

Die Garsie Bere se skrumskakel, Derrick Kuhn, wat ‘n oud-leerling van Paul Roos is, het teen sy ou skoolmaats gewys dat hy speler van gehalte is. Junaide Stuart (vleuel) en Junade Pasensie (losskakel) verdien ook ‘n klop op die skouer.

Puntemakers: 

Paul Roos Gimnasium 34 (21) – Drieë: Jan-Jan Nel, Jordan Steenkamp, Matthew Kleyn, Dylan van Wyk. Doelskoppe: Travis Pheiffer (4). Penalties: Pheiffer (2). Garsfontein 32 (11) – Drieë: Junaide Stuart, Derrick Kuhn, Lourenz de Jager, Luan van den Berg. Doelskoppe: Joshua Gouws (3). Penalties: Gouws (2).

Grey-kollege 24 (12) – Drieë: Lamla Mgedezi (3), JG Badenhorst. Doelskoppe: Jan-Hendrik van der Linden (2). Noordheuwel 22 (15) – Drieë: Gideon Diedericks, Steph Botha, Jeandré Uithaler. Doelskoppe: Uithaler (2). Strafdoel: Uithaler.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.