Nories knak Rusties in tweede helfte, Valia laat Bere sweet


Hoërskool Noordheuwel het, danksy 27 onbeantwoorde punte in die tweede helfte van sy stryd met Hoërskool Rustenburg, homself met ‘n waardevolle sege beloon op die vooraand van die skoolvakansie.
Herleef al die Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Voor rustyd was die Nories hulle eie grootste vyand, met ongedwonge foute wat hul ritme totaal in die wiele gery het. Dit was egter grotendeels ook te wyte aan die Rusties se uitstaande verdediging, gelei deur vaskopstut, Jayden Minnie, wat ‘n aantal reuse duikslae uitgevoer het.
Dié aggressiewe verdediging het ook geleentheid geskep vir die tuisspan se haker en kaptein, Xavier Steenkamp, nóg ‘n uitblinker op die dag, om deur te bars vir ‘n drie wat sy span met 7-0 laat voorloop het met die omdraaislag.
Steenkamp se eweknie, Clinton Agu, het egter kort na rustyd teruggeslaan om die momentum te begin terugswaai en namate die Blues stelselmatig ritme gevind het, vernaam in gebroke spel, het die blitsige Aiden Bester en Armand van Eck ook elk gaan druk. Van Eck het vir die soveelste keer ‘n uitstaande vertoning gelewer op agsteman, terwyl loskoptut en kaptein, Skuttie Bezuidenhout, uiters stewig vertoon het in die vaste fasette en los.
Dit was die Nories se tweede sege oor die Rusties vanjaar, nadat hulle vroeër ‘n opwarmingswedstryd met 40-14 gewen het.
Die Ras van Rooyen, Hoërskool Monument se tuisveld in Krugersdorp, het in die Wit Bulle se laaste tuiswedstryd vanjaar ‘n absolute drieëfees opgelewer. Monnas en Hoërskool Nelspruit het gesamentlik 11 keer die doellyn oorgesteek, met die tuisspan wat sewe daarvan aangeteken het om uiteindelik met 41-34 koning te kraai.
Die wedywering agterlangs, vernaam in die middeveld, was besonder fel en ‘n hoogtepunt op die dag. Monument se buitesenter, Ruan Genis, wat in die Goue Leeus se Akademieweekspan opgeneem is, het sy vaart en vermoë om af te rond weer uitgestal. Genis en linkervleuel, Ewan van der Walt, wat spasie aan die buitekant puik benut het, het elk ‘n tweekuns aan drieë behaal.
Op binnesenter, het die Wit Bulle se Juandré Ehlers en Nelspruit se Rian Botha, wat albei verlede jaar aan die Grant Khomo-week deelgeneem het, mekaar behoorlik die stryd aangesê. Ehlers gaan eenvoudig van krag tot krag , terwyl Botha gewys het hoekom hy die Pumas by die Cravenweek in Middelburg sal verteenwoordig. Nellies se vleuels, Tinyiko Silubane en Kamo Monkwe, het ook uitgehaal, maar dit was nie genoeg om die “nuwe” Wit Bulle te tem nie.
Op Berepark het Hoërskool Transvalia vir die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein, al sy dae gegee. Die Bere het egter, soos dit ‘n kampioenspan betaam, ‘n manier gevind om met 43-41 as oorwinnaars uit die stryd te tree.
Valia se fisieke, direkte benadering deur die grootmanne voorlangs het die Bere behoorlik laat les opsê en ook aan haker, Wihandré Kruger, nóg ‘n driekuns vanaf kragtige dryfmale besorg.
Die Bere se Luan van den Berg, terug van ‘n besering, en agsteman, Lourenz de Jager, het egter daarop geantwoord met ‘n drie elk, terwyl die giftige Junaide Stuart agterlangs die opposisie telkens gelooi het wanneer hy spasie aan die buitekant gegun is. Sy twee drieë, tesame met vier doelskoppe en ‘n strafdoel deur losskakel, Joshua Gouws, het uiteindelik die verskil tussen wen en verloor beteken.
Puntemakers:
Noordheuwel 27 (0) – Drieë: Clinton Agu, Skuttie Bezuidenhout, Aiden Bester, Armand van Eck. Doelskoppe: Tsidi Moeketsane, Juandré Uithaler. Strafdoel: Moeketsane. Hoërskool Rustenburg 7 (7) – Drie: Xavier Steenkamp. Doelskop: Ayden Willemse.
Monument 41 (17) – Drieë: Ewan van der Walt (2), Ruan Genis (2), Caleb Sparks, Juandré Ehlers, Jason Joubert. Doelskoppe: Jaydon Viljoen (3). Hoërskool Nelspruit 34 (20) – Drieë: John Duncan, Rian Botha, Gert Cloete, Kamo Monkwe, Tinyiko Silubane. Doelskoppe: Liam Pringle (3). Strafdoel: Pringle
Garsfontein 43 (17) – Drieë: Junaide Stuart (2), Luan van den Berg, Lourenz de Jager, Dian van Aswegen. Doelskoppe: Joshua Gouws (4). Strafdoel: Gouws. Transvalia 41 (17) – Drieë: Wihandré Kruger (3), Johan Smit, Juan Bischoff, Tumi Moloi
Ander spanne:
o.16: Noordheuwel 13, Rustenburg 0; Monument 75, Nelspruit 3; Garsfontein 20, Transvalia 10.
o.15: Noordheuwel 34, Rustenburg 25; Monument 24, Nelspruit 12; Garsfontein 24, Transvalia 20.
o.14: Rustenburg 17, Noordheuwel 17; Monument 43, Nelspruit 5; Garsfontein 48, Transvalia 7.