Noordvaal skop af met reuse-botsing tussen Bere en Helpies

Die groot gewag vir die Beker-afdeling in vanjaar se SDC Noordvaal Cup om aan die gang te kom is Saterdag uiteindelik verby.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – www.supersportschools.com
In 2024 was dit die uiteindelike naaswenners, Hoërskool Waterkloof, en Hoërskool Nelspruit wat dié reeks in Pretoria afgeskop het. Vanjaar loods die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein, sy titelverdediging teen Helpmekaar Kollege in Johannesburg.
Die Bere het reeds vanjaar gewys dat hulle weer ’n krag in die Noordvaal-reeks behoort te wees. Hul vertoning teen Paul Roos Gimnasium het ‘n sterk boodskap uitgestuur oor die bedreiging wat Garsies se gedugte pak voorspelers oudergewoonte inhou.
Die Helpies beskik nietemin ook oor hope ervaring in hul voorry-geledere, wat vir ’n smaaklike stryd in die skrums kan sorg. In die loopgrawe van die konflik voorlangs, sê die tuisspan se loskopstut, Liam Devinier, vir die Bere se skrummasjien, Luan van den Berg, die stryd aan, terwyl die mededinging tussen hakers, Gustav Grotius, ook die Helpies se onderkaptein, en Justin Blom, self ‘n tamaaie konfrontasie kan afgee.
Agterlangs het Helpmekaar se breintrust ’n interessante verandering aangebring, deur vir kaptein, Ty Ax, van buitesenter na heelagter te skuif. Dit bied aan Ax meer ruimte om venynige teenaanvalle te loods en verskerp terselftertyd die verdediging, aangesien sy lakwerk in die laaste linie van uitmuntende gehalte is.
Verdediging kan inderdaad bepalend wees wanneer die Bere se twee snellers op vleuel, Junaide Stuart en verlede jaar se Grant Khomo-uitblinker, Yuvrah George, die krane op die punte oopdraai.
Andreas Badenhorst neem Ax se plek in die nr. 13-trui in, met Francois Tonkin wat van heelagter na regtervleuel skuif.
Die spanne:
Helpmekaar Kollege t. Garsfontein om 14:30 in Johanneburg:
Helpmekaar: 15 Ty Ax, 14 Francois Tonkin, 13 Andreas Badenhorst, 12 Ethan Lourens, 11 John-Higgs Venter, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Llewelyn Vermaak, 7 Zaiden Krige, 6 Eben van Buuren, 5 Zian Smith, 4 Eugene de Lange, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.
Garsfontein: 15 Drewyn Baron, 14 Junaide Stuart, 13 Xian Erasmus, 12 Keagan Knighton, 11 Yuvrah George, 10 Junade Pasensie, 9 Derrick Kuhn, 8 Lourenz de Jager, 7 Stefan van der Vyver, 6 JP Pieterse, 5 Wihan Bezuidenhout, 4 JJ Fourie, 3 Luan van den Berg, 2 Justin Blom, 1 Henré Prinsloo.