Noordheuwel lewer “Uithaler-spel” by Trio-sportdag

Die losskakel Jeandré Uithaler het Saterdag “uithalerspel” vir Hoërskool Noordheuwel gelewer om sy span tot ‘n hardverdiende sege van 20-12 oor Hoërskool Trio te lei in Kroonstad.
Dit was ‘n riller van ‘n stryd om die seisoen mee af te skop.
Beleef al die askie weer op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die toernooi
Die besoekers het vroeg reeds die eerste slag geslaan toe Lindsey Jansen deur Trio se verdedigingslyn gesny het om tussen die pale te druk.
Uithaler het die ekstras bygevoeg om aan sy span ‘n sewe-punt voorsprong te bied, maar kort daarna het Byron Biennas, Trio se staatmaker in die middeveld, geantwoord met ‘n stafdoel.
Uithaler en Biennas het nog strafdoele uitgeruil om die halftydtelling op 10-6 in die guns van Noordheuwel te staan te bring.
Na rustyd het Biennas voortgegaan om die besoekers met sy stewel te straf, maar die Nories het nietemin daarin geslaag om die tuisspan van hul doellyn weg te hou.
Die span van Kroonstad se losskakel het hulle met 12-10 laat voorloop, maar die voorsprong was van korte duur aangesien Uithaler met ‘n puik lynskop die besoekers weer in Trio se kwartgebied kon kry, vir Mpho Madisaotsile om oor te dryf vir die wendrie.
Die wedstryd was egter tot die laaste fluitjie in die weegskaal.
Met slegs vyf punte wat die twee spanne skei, het Trio aanhou druk toepas, maar Jansen het besit omgekeer, sy ore platgetrek en die Trio-verdediging uitoorlê om weer agter die doellyn te gaan kuier. Die drie is egter nie toegeken nie, maar nog ‘n strafdoel was die laaste spyker in die Trio-kis.
Na twee strawwe voorseisoen-wedstryde is Trio oorgehaal vir hul komende Wesgrow-bepaling teen Hoërskool Sentraal van Bloemfontein volgende naweek.
Die Trio-sportdag het vir hope rugby-aksie gesorg. In die voorlaaste wedstyd van die byeenkoms het Hoërskool Rustenburg so hittete die Grey-kollege “Cherries” laat struikel.
Lorenzo Snyers (senter) het gewys hoe giftig hy kan wees wanneer hy spasie gegee word en, danksy die Rusties se lostrio, bestaande uit MC Smit, Coenraad Coetzer en Dirk Huisamen, het hulle die Bloemfonteiners laat sweet in die eerste 40 minute van die stryd.
Om die waarheid te sê, teen halftyd het Rustenburg ‘n voorsprong van 12-7 geniet, en, met skaars meer as 10 minute oor, was hulle steeds met 26-14 voor.
Grey gaan lê egter nooit.
Die Cherries kon konsolideer om twee keer in die laaste stofe agter die doellyn te gaan kuier, met Heinz Stockenström se ingeoefende skopskoen wat op die ou end die verskil beteken het.
Die Rusties het nietemin met groot eer uit die stryd getree en sal vir heelparty spanne in hul liga vanjaar kopsere besorg.
Puntemakers:
Hoërskool Noordheuwel: 20 (10) – Drieë: Lindsey Jansen, Mpho Madisaotsile. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (2). Strafdoele: Uithaler (2). Hoërskool Trio: 12 (6) – Strafdoele: Byron Biennas (4).
Grey-kollege II: 28 (7) – Drieë: Jean Rossouw, Gerhard Scholtz, Tian Fourie, JT Laney. Doelskoppe: Heinz Stockenström (4). Hoërskool Rustenburg: 26 (12) – Drieë: Lorenzo Snyers, MC Smit, Zulu Khumalo, Wikus Jacobs. Doelskoppe: Awie Alberts (3).
Ander uitslae
o. 19 – Noordheuwel II 14, Ligbron 12; Grey-kollege III 50, Hoërskool Rustenburg II 14; Hoërskool Trio II 15, Noordheuwel II 13; Grey-kollege VII 31, Hoërskool Trio III 5.
o. 16 – Noordheuwel 38, Hoërskool Trio 0; Noordheuwel B 29, Hoërskool Trio B 17.
o. 15 – Hoërskool Trio 10, Noordheuwel 7; Hoërskool Trio B 45, Noordheuwel B 0.
o. 14 – Noordheuwel 42, Hoërskool Trio 3; Noordheuwel B 15, Hoërskool Trio B 5.