SuperSport Schools News

Noordheuwel begin sy NWU Prestige-titel se verdediging op tuisveld

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2023-02-14

Die verdedigende kampioen van die NWU Prestige-reeks, die Hoërskool Noordheuwel, sal sy aanslag op vanjaar se titel op sy tuisveld in Krugersdorp teen Oos-Moot op 11 Maart afskop.

Die Nories het verlede jaar vir die Hoërskool Middelburg met 32-21 in die eindstryd van die reeks verslaan om as kampioen gekroon te word. Die span van Krugersdorp het verlede jaar vir die eerste keer tot die halfeindronde van die Noordvaal-trofee ook deurgedring.

Noordheuwel is saam met Marais Viljoen van Alberton die twee spanne in die NWU Prestige-reeks wat ook sy rugbykrag in die Noordvaal-trofee se boonste kompetisie die Beker-kompetisie toets.

Oos-Moot is verlede jaar as kampioen van die Noordvaal-trofee se Skild-afdeling gekroon en behoort nie ‘n maklike eerste wedstryd in die Prestige-reeks vir die verdedigende kampioen te wees nie.

Die Nories sal in sy ander twee groepwedstryde vir Oosterlig en Potchefstroom Volkskool die stryd aansê.

Hoërskool Middelburg is saam met Zwartkop, Jeugland en Wesvalia in ‘n groep geloot. Dit sal dus ook nie maklik wees om dieselfde sukses as verlede jaar in die reeks te behaal nie.

Dit is egter in Groep C waar die vonke behoorlik gaan spat met die Hoërskool Rustenburg, Hugenote (Springs), Die Anker van Brakpan en Montana van Pretoria sake sal uitspook.

Hoewel Hugenote en Die Anker in twee verskillende dorpe is, sit die twee skole minder as agt kilometer uitmekaar. Kragmetings tussen die twee is gewoonlik kliphard.

In Groep D is Lichtenburg, Potchefstroom Gimnasium, Marais Viljoen en Heidelberg Volkskool saam geloot.

Die reeks skop vanjaar reeds op 4 Maart met twee wedstryde, Oos-Moot vs Oosterlig en Wesvalia vs Jeugland, af. Die kwarteindrondes vind op 15 April plaas met Montana/Oos-Moot en Zwartkop wat gasheer vir die wedstryde sal wees.

Die halfeindrondes sal op Hugenote en Die Anker se velde op 22 April beslis word, met die kampioen wat op 6 Mei op die Fanie du Toit-sportgronde in Potchefstroom gekroon sal word.

Die bepalings (tuisspanne eerste vermeld): 

4 Maart 2023 

Oos-Moot vs Oosterlig
Wesvalia vs Jeugland

11 Maart 2023 

Oosterlig vs Potchefstroom Volkskool
Noordheuwel vs Oos-Moot
Zwartkop vs Jeugland
Hoërskool Middelburg vs Wesvalia
Hoërskool Rustenburg vs Hugenote (Springs)
Die Anker vs Montana
Heidelberg Volkskool vs Lichtenburg
Potchefstroom Gimnasium vs Marais Viljoen

15/16/18 Maart 2023

Noordheuwel vs Oosterlig
Potchefstroom Volkskool vs Oos-Moot
Hoërskool Middelburg vs Zwartkop
Die Anker vs Hugenote (Springs)
Montana vs Hoërskool Rustenburg
Lichtenburg vs Marais Viljoen
Potchefstroom Gimnasium vs Heidelberg Volkskool

23 Maart 2023

Potchefstroom Volkskool vs Noordheuwel
Zwartkop vs Wesvalia
Jeugland vs Hoërskool Middelburg
Hugenote (Springs) vs Montana
Hoërskool Rustenburg vs Die Anker
Lichtenburg vs Potchefstroom Gimnasium
Marais Viljoen vs Heidelberg Volkskool

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.