Nóg ‘n bielie van ‘n stryd wag op Boksburg

Hoërskool Waterkloof staan ‘n kans om vir die Jansies se Arende ‘n tweede keer vanjaar in Boksburg te klop.
Geniet al die aksie regstreeks op SuperSportSchools – (www.supersportschools.com)
Die Klofies het Hoërskool Dr. EG Jansen se eerste span reeds op 13 April, in die NWU-sportreeks, met ‘n telling van 45-38 getroef.
Dit is nog onduidelik of ‘n Klofie-span, in die skool se geskiedenis, al twee keer in Boksburg kon seëvier. Dit dra verder by tot die groeiende opwinding onder die twee spanne se ondersteuners.
Daar het egter, sedert die laaste ontmoeting, heelwat water in die see geloop, wat beteken dat Saterdag se kragmeting, in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, beloof om ‘n bielie van ‘n stryd af te gee.
Albei spanne is steeds onoorwonne in vanjaar se kompetisie én is waarskynlik, op hierdie stadium, die groot gunstelinge om weer in dié afdeling se eindstryd te ontmoet.
Die span van Pretoria het nog nét eenkeer vanjaar hul rieme styfgeloop, teen die toonaangewende span in Suid-Afrikaanse skolerugby, Paul Roos Gimnasium (24-47), terwyl die Jansies slegs twee keer die knie gebuig het, waarvan die nederlaag teen die Klofies die seerste sou gemaak het.
“Ons doel hierdie naweek is om op óns te fokus en óns plan uit te voer, met so min as moontlik foute,” het Cobus van Dyk, die Klofies se hoofafrigter vandeesweek gesê.
Dit is ‘n benadering wat tot dusver vanjaar goed vir die Pretorianers gewerk het. Hulle het verál beïndruk in die eerste helfte van hul wedstryde, máár soms die voet van die pedaal afgehaal na rustyd. Dit sal hulle nie teen die Arende kan bekostig nie.
Die Jansies, daarenteen, het dikwels gelyk asof hulle afdraande speel in die tweede 35 minute van ‘n wedstryd en dit is dan ook waar hulle gereeld die knoop deurhak.
Die Arende se buitsenter, Jeandre Jacobs, het verlede naweek in ‘n taai tweestryd met Noordheuwel se Cheswill Jooste daarin geslaag om die oorhand te geniet en was ook verantwoordelik vir die wendrie.
Die Jansie-sneller behoort egter sy hande vol te hê met Klofies se buitesenter en kaptein, Riwan van Aswegen. Van Aswegen beleef ‘n seisoen wat hy vir lank sal onthou en dit was juis hý wat in April die Arende se harte gebreek het, met ‘n drie vanuit sy eie halfgebied.
Daar wag ook ‘n liplekker-stryd onder die losvoorspelers. Dit is veral EG Jansen se oopkantflank, Zaide-Leigh Rippenaar, wat ‘n groot impak kan maak met sy doeltreffendheid by die afbreekpunte.
Hoërskool Marais Viljoen se strewe na hul eerste oorwinning word nie makliker wanneer hulle vir Hoërskool Monument Saterdag in Alberton verwelkom nie.
Die span van Alberton het verlede naweek met 15-33 teen Hoërskool Nelspruit, in Nelspruit, vasgeval, in ‘n kragmeting wat waarskynlik hul beste kans was om die pyp te rook. Die Krugersdorpers lek ook hul wonde na die dragslae van 19-85 wat hulle teen Grey College in Bloemfontein op die lyf geloop het, en sal so spoedig moontlik wil terugekeer na die wenpad toe.
Die Wit Bulle se slot, Jacques Botha, sal sy span oor die voordeellyn wil kry met sy kragtige dryfspel. Botha het vandeesweek ook bevestiging ontvang dat hy opgeneem is in die Leeus se Cravenweekspan, wat volgende maand op Monnas se tuisveld in aksie sal wees. Die twee Cravenweek-flanke, RJ Barnard en Jamaal Feldman, wag ook op Marais Viloen se pak.
Die tuisspan sal sonder hul kaptein en spelskepper, Recce Gerber, se dienste moet klaarkom. Gerber, ongetwyfeld die span se grootste uitblinker vanjaar, word deur die uiters bevoegde Claude do Couto op losskakel vervang, dus rus heelwat verantwoordelikheid op binnesenter, Brandon Els, se skouers om die agterlyn aan die gang te help kry.
Die spanne:
Hoërskool Dr. EG Jansen t. Hoërskool Waterkloof om 12:30 in Boksburg
EG Jansen (moontlik): 15 Ntokozo Ngobese, 14 Jean-Dre Claassen, 13 Jeandre Jacobs, 12 Steven Williams, 11 Keanu van Loggerenberg, 10 Matthew Bergman, 9 Riekus van der Merwe, 8 Storm Labuschagne, 7 Divan Francis, 6 Zaide-Leigh Rippenaar, 5 Zandre Naudé, 4 Gerhard van Aswegen, 3 Duwan Potgieter, 2 Danre Pike, 1 Zian Marais.
Waterkloof: 15 Ronan Bastiaanse, 14 Malcolm George, 13 Riwan van Aswegen, 12 Happy Makate, 11 Jaiden Badenhorst, 10 Dennis Obi, 9 Migael Prinsloo, 8 Marko Kok, 7 Lendrey Janse van Vuuren, 6 Divan botha, 5 Alrich Uys, 4 Stephan de Beer, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Juan Gouws.
Hoërskool Marais Viljoen t. Hoërskool Monument om 12:20 in Alberton
Marais Viljoen: 15 Tyron Bouw, 14 Devin Raubenheimer, 13 Tiaan Joubert, 12 Brandon Els, 11 Ethan Weideman, 10 Claude do Couto, 9 Weon van der Vyver, 8 Rio Tshimbalanga, 7 Dian Scheepers, 6 Lloyd Shoko-Schenck, 5 JD Labuschagne, 4 Bjorn Pieterse, 3 Sifiso Shongwe, 2 Liam Catlow, 1 Clayton Gagiano.
Monument (moontlik): 15 Hanu Fourie, 14 Kealan Milton, 13 Jason Joubert, 12 Theuns du Plooy, 11 Ernesto Oersen, 10 Cruz La Moer, 9 Hanno du Toit, 8 Vincent Robberts, 7 RJ Barnard, 6 Jamaal Feldman, 5 Nathan Erasmus, 4 Jacques Botha, 3 Juandre Marais, 2 Keenan Myners, 1 Wikus Meyer.
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




