SuperSport Schools Plus

Nie eens gure weer stuit Monnas nie, Zwarries sit segetog voort

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-02-03 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Hoërskool Monument op Facebook.

Nie eens die slegte weer in Alberton was genoeg om Hoërskool Monument in sy stryd met Hoërskool Dinamika in Afdeling C van die Finsbury-reeks te stuit nie.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die span van Krugersdorp het die tuisspan met ‘n allemintige agt paaltjies verslaan, volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode. Weens die gure weer moes die Monumentare ‘n verlaagde teiken van net 102 in 20 beurte bereik, maar hul kolwers het dit selfs vinniger kafgedraf.

Die tuisspan se Jadin Schelbusch (43) en Trent Shrives (31*) het na ‘n wankelrige begin hard gewerk om ‘n uiteindelik ‘n skaflike totaal van 189 op die telbord te sit, maar, geoordeel aan die spelpeil van die Monnas-kolwers, sou dit waarskynlik ongeag die slegte weerstoestande steeds nie genoeg gewees het nie.

Zian Maritz (3/27) en Ibrahim Haffejee (3/32) was oudergewoonte Monument se gevaarlikste boulers, terwyl Logan Weetman voor in die koor was met die kolf. Hy het Monnas se aanslag met ‘n onoorwonne 38 lopies gelei, nadat Quinton Nel (28) en kaptein, Antonie van Niekerk (26), aanvanklik die grondslag gelê het.

Hoërskool Zwartkop het sy onoorwonne status behou deur vir Midstream College tuis met 26 lopies te troef. Die dag het ongetwyfeld aan die boulers behoort, met Midstream se Dian de Villiers wat verrigtinge met vyf paaltjies vir slegs 17 lopies geopen het. De Villiers het ‘n ewe behendige 25 lopies aangeteken, terwyl sy aanvangsvennoot, Ryan Strauss, met 35, die grootste uitblinker met die kolf was.

Die Zwarries se Layton Wilson het egter ‘n demper op Midstream se verwagtinge geplaas. Hy het, met slegs 135 lopies om mee te speel, die Midstream-kolflys met syfers van 5/21 in sy toegelate 10 beurte verinneweer. Liam van Wyk, met sy 2/19, het gehelp om die besoekers tot ‘n totaal van 109 te beperk.

Die wedstryd tussen Hoërskool Pietersburg en Hoërskool Lichtenburg is weens swaar weer afgelas, met die gevolg dat die spanne punte moes deel.

Die Pieties sou hulself ietwat ongelukkig geag het, met AJ Galloway se blitsige 80 wat die momentum in die tuisspan se guns geswaai het, na slegs Stephan Swanepoel (29) aanvanklik iets kon uitrig met die kolf, vanweë Liggies se Jurgen Hesse (4/28) wat hulle geroer het met die bal. Galloway het 10 viere en vier sesse gemoker van net 53 balle.

Die Liggies was drie sonder verlies toe die spanne noodgedwonge moes bladskud.

Beknopte telkaarte:

Dinamika 189 (Jadin Schlebusch 43, Trent Shrives 31*, Kyle du Plooy 30, Ekstras 23; Zian Maritz 3/27, Ibrahim Haffejee 3/32, Byron Viljoen 2/32); Monument 107/2 (Logan Weetman 38*, Quinton Nel 28, Antonie van Niekerk 26; Jayden Smith 1/24). Monument wen met agt paaltjies, volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode.

Zwartkop 135 (WJ Esterhuizen 29, Dawid Hanekom 24, Vince Matraiotte 23, Ekstras 22; Dian de Villiers 5/17, Barto Oosthuizen 2/10); Midstream College 109 (Ryan Strauss 35, Dian de Villiers 25; Layton Wilson 5/21, Liam van Wyk 2/19). Zwartkop wen met 26 lopies.

Hoërskool Pietersburg 181 (AJ Galloway 80, Stephan Swanepoel 29; Jurgen Hesse 4/28, Douw Jacobs 2/27, Elje Kleynhans 2/53); Hoërskool Lichtenbrug 3/0. Wedstryd afgelas weens slegte weer.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.