Nellies, Middies open seisoen in Mpumalanga, Rusties slaggereed vir Trio

Die rugbyseisoen het nog skaars afgeskop of Mbombela kan reeds regskuif vir ‘n liplekker-stryd Saterdag tussen Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Middelburg in die hoofstad van Mpumalanga.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Daar heers taamlike opgewondenheid by Hoërskool Nelspruit om te sien wat die nuwe direkteur van rugby en eerstespan-afrigter, Ryno Luus, met ‘n uiters ervare Rhinos-span beplan. Luus sit met hope talent in die seniorgroep, waarvan die meerderheid reeds verlede jaar reeds vir die Rhinos in aksie was.
Die Nellies het verlede seisoen, vernaam in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling, hul stem dik gemaak met tuisseges oor Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Monument, waarin verál agsteman, Vaughn van Zyl, en die blitsige Tinyiko Silubane ‘n reuse aandeel gehad het en albei is weer vanjaar beskikbaar.
Cravenweek-skrumskakel, Liam Pringle, is ook weer op sy pos in die nr. 9-trui, terwyl binnesenter, Rian Botha, volg in die spore van ouboet, WJ Botha, wat in 2024 gereeld op stut diens gedoen het. Die jonger Botha is een van slegs twee o. 17-spelers wat in die Rhinos se beginspan uitdraf, met steelkantflank, Vian Louw, die ander jongeling.
Die Middies se skrumskakel, Keabetswe Nkgadima, sal sorg vir ‘n opwindende tweestryd met Pringle. Nkgadima was in 2024 reeds een van die Middies se uitblinkers. Oopkantflank, CW Hanekom, versterk die span van Middelburg se pak met sy fisieke benadering en behoort geen duit terug te staan vir Van Zyl in die onderonsies voorlangs nie.
Hoërskool Rustenburg, wat gasheer speel vir Hoërskool Trio, beskik self oor ‘n aantal sterre wat weer die bekende groen trui oor die kop trek. Cravenweek-heelagter, Lorenzo Snyers, is een so ‘n staatmaker, terwyl die fisieke Hendré Robinson in die middeveld wag op die besoekers van Kroonstad.
In Klerksdorp beloof die tweestryd tussen Hoërskool Wesvalia en Witteberg se binnesenters om die vonke te laat spat. Die Wessies se Fafa Calitz, wat ‘n groot aandeel in sy span se geskiedkundige 2024-veldtog gehad het, sal sy hande vol hê met die besoekers se onderkaptein, Sedwin Gysman. Voorlangs behoort Witteberg se kaptein, Pieter Nel, die vuur onder sy pak aan te steek.
Hoërskool Transvalia reis na Alberton waar hy met Marais Viljoen kragte meet, terwyl Montana vir Hoërkool Kempton Park in Pretoria verwelkom. Albei vriendskaplike wedstryde dien as proewe en dus sal die spanne toegelaat word om deurgaans plaasvervangers in te span.
Die spanne:
Hoërskool Nelspruit t. Hoërskool Middelburg om 13:30 in Nelspruit:
Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Vian Louw, 6 Prosper Chillone, 5 André Smit, 4 Ethan Esterhuizen, 3 Gert Coetzee, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.
Hoërskool Middelburg: 15 Lesego Rakale, 14 Bulelani Mcira, 13 Jaco Truter, 12 Lungelo Maseko, 11 Zanempilo Mahlangu, 10 Buhle Mphanhlaza, 9 Keabetswe Nkgadima, 8 Henco Jansen van Rensburg, 7 Khensani Buthelezi, 6 CW Hanekom, 5 Jabu Mathebula, 4 Wihan Jordaan, 3 Dewald du Toit, 2 Roux Grobler, 1 Wian Olwagen.
Hoërskool Rustenburg t. Trio om 13:30 in Rustenburg:
Hoërskool Rustenburg: 15 Lorenzo Snyers, 14 Raqiel Jaftha, 13 Jonré Jefthas, 12 Hendré Robinson, 11 Wes van Loggerenberg, 10 Wade Daivey, 9 Adriano George, 8 Donnie Moster, 7 Dirk Huisamen, 6 Pieta Niemandt, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Ockert Grobler, 2 Xavier Steenkamp, 1 Carel Schoonraad.
Trio: 15 D’Marco Bason, 14 Randolph Burrows, 13 Kyle Kruger, 12 Adams Tyron, 11 Darius Job, 10 Jayden Windvogel, 9 WJ van Niekerk, 8 Dian Serfontein, 7 Killian Kriek, 6 Franco De Wet, 5 Danie Fourie, 4 Richardt Joubert, 3 Cade Swanepoel, 2 Myburgh Jacobs, 1 Janru Janse van Rensburg.
Hoërskool Wesvalia t. Witteberg om 13:30 in Klerksdorp:
Wesvalia: 15 Wilson Letholi, 14 Kea Bereng, 13 Jeandré Snyman, 12 Fafa Calitz, 11 Martin Bierman, 10 Eduard Dreyer, 9 Barry Niemand, 7 Franco Dumond, 6 Qeuwen Fourie, 5 JP Hatting, 4 Deacon Kath, 3 Charl du Preez, 2 Fanie Linde, 1 Ulrigh du Preez.
Witteberg: 15 Qlin Booyse, 14 Donay Williams, 13 JC van Rhyn, 12 Sedwin Gysman, 11 Kenyon Morat, 10 Tshepo Motloung, 9 Christiaan de Boer, 8 Daniel Meintjies, 7 Adieu Cramford, 6 Divan Marais, 5 Jacques Jordaan, 4 Pieter Nel, 3 Mila Oersen, 2 Rico van Vuuren, 1 Cobus Labuschagne.
Ander wedstryde:
12:20 – Marais Viljoen t. Transvalia; 12:25 – Montana t. Hoërskool Kempton Park.