Nel verf Middelburg groen, Hartkopf neem Tzaneen op horings

Hoërskool Middelburg se Hendré Nel het behoorlik die langsteel ingelê om die Middies se buurskool, Hoër Tegniese Skool Middelburg, in sy eie agterplaas pak te gee.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Nel het die besoekers se jaagtog van 207 lopies gelei met ‘n blitzkrieg, toe hy op nommer sewe die kolfkampie beset het.
Nadat aanvangskolwer, Eduan Strydom, met sy nuttige 53 die grondslag gelê het, kon Nel vanuit die staanspoor aanvallend kolf. In net 47 aflewerings het hy daarin geslaan om agt viere en ses sesse te moker om uiteindelik op ‘n onoorwonne 87 lopies af te sluit.
Die boulers, vernaam Eduan Strydom en Ricardo Ras, verdien ook ‘n klop op die skouer. Strydom was die Middies se voorste paaltjievraat met syfers van 3/25. Ras het hom netjies bygestaan met twee paaltjies vir 41 lopies, wat gehelp het om die tuisspan tot ‘n aanvegbare totaal te beperk.
HTS se Henco Britz was die tuisspan se silwerrand op die dag. Met sy span se rug teen die muur, het Britz steeds hand opgesteek om vier Middie-kolwers se paaltjies op te raap. Sy boulskof van agt beurte het ook slegs 35 lopies afgestaan, maar dit was nie genoeg om die groen golf te stuit nie.
Heidelberg Volkskool se Maro Hartkopf en Quentin Dietrehsen het in Tzaneen Ben Vorster se boulaanval sonder veel moeite baasgeraak. Die Volkies se aanvangsvennootskap van 120 was onoorwonne en het aan die besoekers ‘n yslike oorwinning met 10 paaltjies besorg.
Hartkopf het blitsig 69 lopies van net 41 aflewerings gemoker. Sy kort maar uiters effektiewe beurt het sewe viere en vier sesse ingesluit. In kontras daarmee, het Dietrehsen die beurt geanker deur 69 balle vir sy 51 lopies te trotseer, maar hy het nietemin self met vyf grenshoue gespog.
Dr. Malan se Kegan Meyer en Luka Pretorius het Uplands College se toporde verwoes. Meyer het sy boulskof met vernietigende syfers van vyf paaltjies vir slegs 15 lopies afgesluit, en het, tesame met Pretorius (2/21), die span van Witrivier tot ‘n skamele 104 beperk. Charles Collen (34*) en Dewald Erasmus (27*) het die nodige gedoen om die teiken in ‘n japtrap te bereik en met agt paaltjies koning te kraai.
Beknopte telkaarte:
HTS Middelburg 206 (ST Rorich 30, Ruben Jooste 29, Dawid van Rooyen 29, Eddie Harris 28, Armand Kotze 25, Ekstras 22, Altus van Heerden 20; Eduan Strydom 3/25, Ricardo Ras 2/41); Hoërskool Middelburg 211/5 (Hendre Nel 87*, Eduan Strydom 53, Zubair Desai 24, Herman Potgieter 21, Ekstras 21; Henco Britz 4/35). Hoërskool Middelburg wen met vyf paaltjies.
Ben Vorster 132 (Lourens Kriel 43, Talenta Ndlovu 30; Dave Pelzer 4/39, Jaco Botha 3/16); Heidelberg Volkskool 133/0 (Maro Hartkopf 69*, Quentin Dietrehsen 51*). Heidelberg Volkskool wen met 10 paaltjies.
Uplands College 104 (Mfundo Mthimunye 37, Leam van Zyl 21*; Kegan Meyer 5/15, Luka Pretorius 2/21); Dr. Malan 106/2 (Charles Collen 34*, Dewald Erasmus 27*, Ekstras 26; Leam van Zyl 1/21). Dr Malan wen met agt paaltjies.