Muller drop, place en score OP tot sege oor Boland
KAAPSTAD. – Logan Muller, losskakel van die Oostelike Provinsie, het sy span tot ‘n sege van 25-12 oor die Boland gedrop, geplace en gescore.
Die twee spanne het mekaar tydens die derde dag van die jaarlikse Cravenweek vir hoërskole op die Tinkie Heyns-veld van Rondebosch Boys’ High hier ontmoet.
Muller het een van sy span se drie drieë gedruk, twee daarvan verdoel, met ‘n strafdoel geslaag en ook ‘n skepdoel oorgeklits vir ‘n persoonlike bydra van 15 punte.
Die wenspan se flank, Max du Pisani, het vir Boland met sy kraglopies probleme besorg. Hy het elke keer wat hy in besit gestel is ‘n hele paar meters veld gewen. Du Pisani het ook by die afbreekpunte vir Boland sake bemoeilik.
Die linkervleuel, Luvuyo Nkompela, het ook gewys dat hy oor hope vaart beskik en indien hy te veel spasie gegun word hy enige span aan flarde kan hardloop.
Boland het ‘n veel beter vertoning opgedis as in hul eerste wedstryd met veral die heelagter, Jayden Fortuin, en buitesenter, Boya Diedericks, wat ‘n hele paar gevaarlike aanvalle geloots het. Die linkervleuel, Biggie Claassen, het self nie ‘n slegte wedstryd beleef nie en twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak.
Die Valke was in ‘n opwindende wipplank-wedstryd teen die Griekwas met 34-28 baas.
Die twee spanne het in die laaste tien minute opwindende hardlooprugby opgedis en ‘n hele paar keer was die uitslag op ‘n mespunt gebalanseer.
Die Valke se haker, Devon Strydom, het twee die doellyn oorgesteek. Die span se agtsteman, Nathan Matthee, het ook ‘n goeie wedstryd beleef voorday hy met ‘n rooikaart van die veld gejaag is.
Vir Griekwas het sy flank Ruben Pienaar asook die slot JP Senekal goed vertoon. Die losskakel, Wynand Botha, asook die heealgter, Eldrige Jack, het agterlangs goeie vertonings gelewer.
Puntemakers:
Eastern Province 25 (22) – Drieë: Max du Pisani, Logan Muller, Luvuyo Nkompela. Doelskoppe: Muller (2). Penalty: Muller. Skepdoel: Muller. Boland 12 (12) – Drieë: Biggy Claassen (2). Doelskop: Jayden Fortuin.
Valke 34 (19) – Drieë: Devon Strydom (2), Nathan Matthee, Jaydon Bantom, Juandre Nel. Doelskoppe: Bantom (3). Strafdoel: Bantom. Griqualand West 28 (14) – Drieë: Wynand Botha, Ruben Pienaar, Phillip Visser, Melvin Diedericks. Doelskoppe: Botha (2), Eldridge Jack (2).




