SuperSport Schools Plus

Muller-driekuns knak Boland Landbou

By Willem Louw , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2024-04-07 Tags: ,

FOTO: Frans Lombard

‘n Driekuns deur Paarl Gimnasium se opwindende jong buitesenter, Markus Muller, het ‘n oortuigende sege van 47-13 oor hul aartsvyande van die Agter-Paarl, Hoër Landbouskool Boland, Saterdag op die J.A. Kriel-veld beklink.

Beleef die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Muller het binne die eerste 10 minute die tuisspan aan die stuur van sake gesit, toe hy ‘n drietal Boland-verdedigers gefnuik het om die eerste punte aan te teken.

Sy tweede drie het kort voor halftyd gevolg om aan die Gimmies ‘n rustydvoorsprong van 19-8 te bied, en na die omdraaislag het hy sy driekuns voltooi.

Die besoekers se blitsige heelagter, Lyle lewis, het hul rekening oopgemaak en hul ster-losskakel, Retagen van Rooi, het ‘n strafdoel oorgeklits om hulle binne trefafstand te hou, maar dit was die tuisspan wat die pas van meet af aangegee en gehandhaaf het.

Die Paarl se reuse pak voorspelers het die boere oorrompel, met stutte, Ely Williams en JJ du Preez, wat elk met ‘n drieë beloon is.

Heelagter, Freek de Kock, het ook ‘n skitterende vertoning gelewer, deur ses van sy span se drieë te verdoel en self ook agter die doellyn te gaan kuier vir ‘n bydrae van 17 punte.

Boland het in die laaste minuut daarin geslaag om punte by hul totaal te voeg toe Juan Swart, met behulp van sy sentermaat, Danté Christians, oorgebeur het vir ‘n troosdrie, maar teen daardie tyd was die koeël lankal reeds deur die kerk.

Die Gimmies lyk soos dié span om te klop hierdie seisoen. Hulle vertoon vroeg reeds soos ‘n goed geoliede masjien, en die uitslag teen ‘n bekwame Boland Landbou behoort as ‘n waarskuwing te dien vir die res van hul teenstanders vanjaar.

Met opwindende spelbrekers soos Muller, wat verlede jaar reeds by die Grant Khomo-week naam gemaak het, en die ervare Kobus Blanckenberg, wat in 2023 al vir die eerstespan uitgeblink het, aan die spits van die Paarl-aanslag, asook ‘n pak voorspelers wat met enige ander skolespan in die land kan saamgesels, lyk die Gimmies vanjaar soos ‘n bul-span.

Puntemakers:

Paarl Gimnasium 47 (19) – Drieë: Markus Muller (3), Freek de Kock, Jan Koegelenberg, Ely Williams, JJ du Preez. Doelskoppe: Freek de Kock (6). Hoër Landbouskool Boland 13 (8) – Drieë: Lyle Lewis, Juan Swart. Strafdoel: Retagen van Rooi.

Ander uitslae:

o. 19 – Paarl Gimnasium II 12, Boland Landbou II 10; Paarl Gimnasium III 27, Boland Landbou III 19.

o. 16 – Paarl Gimnasium 22, Boland Landbou 8; Paarl Gimnasium B 52, Boland Landbou 0.

o. 15 – Boland Landbou 14, Paarl Gimnasium 9; Paarl Gimnasium B 11, Boland Landbou B 9.

o. 14 – Paarl Gimnasium 18, Boland Landbou 10; Paarl Gimnasium B 22, Boland Landbou B 14.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.