SuperSport Schools Plus

Morkel moker Menlo, Klofies kraai koning

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-21 Tags: , , , , ,

Foto: Hoerskool Eldoraigne op Facebook.

Hoërskool Menlopark se boulers sal waarskynlik vir ’n geruime tyd nog slapelose nagte hê oor Benyael Morkel.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.superpsortschools.com)

Dié jongeling van Hoërskool Eldoraigne, wat verlede jaar nog in Graad 9 was, het blitsig sy stempel afgedruk in die groter Afdeling-A van die Finsbury-reeks, met sy vertoning met sowel die bal as kolf wat verseker het dat die span van Centurion met sewe paaltjies kon seëvier oor Menlopark.

Nadat hul talentvolle jong kolwer, Jan-Willem Pienaar, van voor met die kolf gelei om ‘n uitstaande 75 lopies aan te teken, kon die Parkies, met die bystand van aanvangskolwer, Owen Louwies (46), en Jacques de Villiers (27), die 200-merk verbysteek.

Morkel se heldedade het juis hier met die bal begin. In sy toegelate 10 beurte het Morkel drie paaltjies laat kantel vir slegs 39 lopies, voordat hy met die wilgerlat vir Menlo gelooi het

Dit was inderwaarheid nie slegs Morkel wat met die kolf beïndruk het nie. Die aanvangsvennootskap tussen Ryno Mulder en Kyle de Bruyn het heelwat belofte getoon en kan vorentoe nog heelwat hoofbrekens vir opponente besorg.

De Bruyn het geen tyd vermors om sy 55 lopies aan te teken nie en is uiteindelik, met die Eldos se totaal op 86, deur Pienaar (1/34), terug pawiljoen toe gestuur. Dit het die nodige grondslag gelê vir Morkel, wat bekend staan as ‘n aggressiewe kolwer .

Morkel se beurt was van korte duur, maar dodelik. In die 29 aflewerings wat hy trotseer het, het hy nie minder nie as 10 sesse en een vier gemoker vir sy 70.

Mulder, in teenstelling met Morkel se blitzkrieg, het 92 balle trotseer en was onoorwonne op 54 lopies toe die Eldos die teiken van 224 in slegs die 33ste beurt bereik het.

In Nelspruit het die verdedigende kampioen, Hoërskool Waterkloof, sy veldtog op oortuigende wyse met ‘n 42-lopie oorwinning oor Hoërskool Nelspruit afgeskop. Die tuisspan het die loot gewen en die besoekers uit Pretoria ingestuur om te kolf in uitdagende toestande met die baie reën wat die Laeveld oor die laaste paar weke ontvang het.

Nellies se Safwaan Miller (4/34) was verál ‘n vlieg in die Klofies se salf. Die draaier het vier keer ‘n paaltjie op nét die regte tyd te laat val.

Die Klofies se kaptein, Riley Miller, het egter die pas met die kolf aangegee met 42 lopies van 40 aflewerings, terwyl Jaydon Blom, wat spoedig besig is om sy stempel as ‘n kolwer af te druk, self 42 lopies laer in die orde aangeteken het. In die konteks van die wedstryd was dit van kardinale belang en kon die besoekers 183 haal voordat Miller die laaste paaltjie opgeraap het.

Waterkloof se aanvangsboulers, Jaco van der Walt (3/15) en Darius Marits (2/24), se netjiese lyn en lengte het die Nellies na drie beurte reeds in die pekel gehad, met die telling op 17/3. Ricardo Crous (2/18) het Nellies verder laat wankel.

Slegs Johan Duncan (37) en Vaughn van Zyl (25) kon verby die 20-lopie merk kom en moes toekyk hoe hul span se laaste paaltjie in die 41ste beurt, met die telling op 138, kantel.

Beknopte telkaarte:

Hoërskool Menlopark 223 (Jan-Willem Pienaar 75, Owen Louwies 46, Jacques de Villiers 27, Ekstras 21; Benyael Morkel 3/39, Kyle de Bruyn 2/34, Ruan Boshoff 2/48); Eldoraigne 224/3 (Benyael Morkel 70, Kyle de Bruyn 55, Ryno Mulder 54*; Murray Hofmeyr 1/37). Eldoraigne wen met sewe paaltjies.

Waterkloof 180 (Riley Miller 42, Jaydon Blom 42, Ricardo Crous 25, Darius Maritz 22; Safwaan Miller 4/34, Gherdy van Eededen 3/18); Hoërskool Nelspruit 138 (Johan Duncan 37, Vaughn van Zyl 25, Ekstras 22; Jaco van der Walt 3/15, Ricardo Crous 2/18, Darius Maritz 2/24). Waterkloof wen met 42 lopies.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.