Moories op koers vir Finsbury-promosie

Hans Moore is stewig op pad om ‘n plek in die promosie-relegasie-wedstryd, met die oog om op te skuif na die A-afdeling van die Finsbury-reeks, los te speel.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Soos die stand van sake huidiglik daar uitsien, behoort die Moories in dié uitspeelwedstryd teen Hoërskool Nelspruit te staan te kom. Die span van Benoni is tans voor in die B-afdeling met 10 ligapunte.
Dis onwaarskynlik dat iemand hom vanjaar kan verbysteek. Die Moories sal nietemin steeds hul storie moet ken hierdie naweek teen Hoërskool Centurion, in Centurion. Die Woeries sukkel ietwat om aan die gang te kom, maar beskik steeds oor die talent van kaptein, Morné Prinsloo, wat die Moories met bal en kolf kan opdraande gee.
Dis egter die veelsydigheid van die besoekers wat hulle só gevaarlik maak, met enige van die toporde-kolwers wat die verloop van ‘n wedstryd in ‘n oogwink kan swaai. Die Centurion-kolwers sal daarna uitsien om die kolfvriendelike blaaie tuis te benut ten einde hul greep op die afdeling te verstewig.
Potchefstroom Gimnasium sal versigtig wees vir die gevaar wat Saterdag uit die Noorde van Pretoria arriveer. Die Gimmies verwelkom Hoërskool Montana in die bekende studentedorp, met die Monties wat verlede naweek teen Hans Moore gewys het hoe gevaarlik hulle kan wees.
Alhoewel Montana met drie paaltjies vasgeval het, het hy die topspan in die afdeling laat sweet vir ‘n sege. Gimmies lek self nog wonde na hulle met 11 lopies teen Marais Viljoen die spit afgebyt het. Hulle sal hierdie week op tuisveldvoordeel en voorslagbouler, Thloni Tabatha, staatmaak om die wa deur die drif te probeer trek.
Tradisionele aartsvyande, Hoërskool Kempton Park en Marais Viljoen, sê mekaar in Kempton Park die stryd aan. Die Kempies is ook ‘n aanspraakmaker op ‘n plek in die promosie-relegasie-stryd, vernaam omdat hulle nog ‘n wedstryd in hand het as gevolg van hul deelname aan die Schools SA20 se streek-uitspele in Benoni verlede naweek.
Dit sal interessant wees om te sien hoe die MV-kolwers, veral aanvangskolwer, Tiaan Hall, en kaptein, Jaden Govender, teen die spoed van die Kempies se aanvangsboulers, Kristian du Plessis en Stian van Breda, te werk gaan. ‘n Sege vir die Kempies sal die Moories onder taamlike druk plaas met slegs een week se aksie wat oorbly.
Bepalings:
Week 4:
Hoërskool Centurion t. Hans Moore
Potchefstroom Gimnasium t. Montana
Hoërskool Kempton Park t. Marais Viljoen