SuperSport Schools Plus

Monties sterk op pad terug Plaat toe, Pieties doof Liggies uit

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-24 Tags: , , , , , ,

Hoërskool Montana is steeds goed op koers om na vanjaar van die SDC Noordvaal Cup se Skild- na die Plaat-afdeling terug te skuif.

Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die Monties, wat verlede jaar gerelegeer is, het vanjaar, saam met Hoërskool Ben Vorster, die Skild oorheers en het bo aan die algehele puntelys geëindig. Die eerste span se naelskraapse sege van 19-18 oor Hoërskool Secunda in Saterdag se halfeind het hul kanse verder versterk.

Dit was egter so hittete of die span van Mpumalanga het die vreugdevieringe in die wiele gery.

Die Monties het die toon vir grootste gedeelte van die wedstryd aangegee en was kort na die omdraaislag reeds met 19-6 voor, met die tuisspan se senterpaar, kaptein Hendrew Schoeman en Luan Barnard, wat in daardie stadium uithalerspel gelewer het. Soos gebruiklik, was albei gevaarlik met bal in hand, maar dit was vernaam hul soliede verdediging teen Secunda se Bismarck Jansen en Armand Underhay wat ‘n groot rol in die uiteindelike oorwinning gespeel.

Drieë deur linkervleuel, Damian de Beer, en steelkantflank, Zander van der Merwe, in die tweede helfte het vir Secunda terug in die wedstryd gebring. Dit was verál Van der Merwe s’n, met sowat vier minute oor, wat die senuwees van die Monties se ondersteuners op hol gejaag het.

Die besoekers het egter uit tyd uit gehardloop en kon op die einde net-net nie die Monties se aanvanklike oorheersing heeltemal uitblus nie.

Goeie nuus vir Secunda was nietemin dat sy o.14 span ‘n skoksege oor Hoërskool Ben Vorster behaal het. Die jongelinge het, slegs ‘n week nadat hulle met 7-38 teen die einste Ben Vorster vasgeval het, die bordjies dramaties met met 16-14 verhang, om die span van Mpumalanga van relegasie te red.

In Pietersburg het Hoërskool Pietersburg vir die tweede keer vanjaar met Hoërskool Lichtenburg afgereken om sy plek in die halfeind, teen Montana, in Pretoria te bespreek. Dit was ‘n kragmeting wat hoofsaaklik deur die voorspelers beslis is, met sewe van die totaal van nege drieë in die Pieties se oorwinning van 36-28 wat deur die twee spanne se voorspelers gedruk is.

Die Liggies het teen rustyd redelik gemaklik met 23-14 voorgeloop, maar daarna het die Pieties se pak sy stem dik gemaak het om die kastaiings uit die vuur te krap. Die voorrymanne, Ziahn Lombaard en Krissie Swanepoel, het die leiding geneem in hierdie verbete terugvegpoging.

Die Pieties het nie minder nie as 22 punte aangeteken in die tweede skof, teenoor slegs vyf van die besoekers, wat ‘n duidelike waarskuwing aan die Monties gerig het voor eerskomende Saterdag se eindstryd.

Puntemakers: 

Montana 19 (12) – Drieë: Aiden Vorster, Luan Barnard, Ulrich van Biljon. Doelskoppe: Rubel Bester (2). Hoërskool Secunda 18 (6) – Drieë: Damian de Beer, Zander van der Merwe. Doelskop: Alonzo Blackenberg. Strafdoele: Blackenberg (2).

Hoërskool Pietersburg 36 (14) – Drieë: Krissie Swanepoel, Ziahn Lombaard, Andru de Beer, Celliers van der Merwe, Elkan Esterhuyze. Doelskoppe: Ryno Mienie (4). Strafdoel: Mienie. Hoërskool Lichtenburg 28 (23) – Drieë: Juan van Rhyn, George Bingudza, KG Legodi, Tiaan Booysen. Doelskop: Luan Snyman. Strafdoele: Snyman (2).

Ander spanne: 

o.16: Piet Retief 23, Montana 20; Hoërskool Pietersburg 21, Ben Vorster 17.

o.15: Ben Vorster 22, Lichtenburg 3; Piet Retief 19, Hoërskool Pietersburg 14.

o.14: Montana 30, Heidelberg Volkskool 0; Secunda 16, Ben Vorster 14.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.