SuperSport Schools Plus

Monties se Schoeman-tweeling herenig vir halfeind teen Secunda

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-20 Tags: , , , , , ,

Foto: DB Photography.

Die Monties se tweelingpare is weer voltallig vir hul tuishalfeindstryd Saterdag teen Hoërskool Secunda in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling.

Volg al die SDC Noordvaal Skild-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Hoërskool Montana se linkervleuel, Sam Schoeman, keer terug om met broer, Hendrew, die Monties agterlangs teen die besoekers van Secunda aan te vuur.

Die ander tweelingpaar, Aiden en Ashton Vorster, behou hul plekke in die span. Ashton het sedert sy insluiting beïndruk as oopkantflank, terwyl Aiden die donkiewerk in die voorry uitstekend verrig.

Afrigter, AJ le Roux, het besluit om die res van sy span dieselfde te hou. Indien die Monties na die einstryd deurdring, sal dit Le Roux die tweede span in soveel jaar wees wat hy na ‘n eindstryd in die Noordvaal-kompetisie begelei, nadat Hoërskool Transvalia verlede jaar, met hom aan die stuur, die Plaat-titel ingepalm het.

Oorwinning eerskomende Saterdag is egter nie gegewe nie.

Hierdié Secunda span het immers vroeër in die seisoen vir die Monties met 34-19 ore aangesit. Dit was welliswaar in Secunda se agterplaas, maar steeds ‘n veelseggende sege aangesien die Monties uiteindelik bo aan die puntelys geëindig het. Secunda pak die tog na Pretoria aan met met dieselfde span wat verlede week teen Hoërskool Ben Vorster vasgeval het.

Sifiso Hlungwane se skuif na agsteman lyk of dit vrugte afwerp, en bied terselftertyd aan Renier Combrink die geleentheid om te doen wat hy die beste doen. Combrink draf weer uit op oopkantflank, waar sy vernuf by die afbreekpunte deurslaggewend kan wees.

Hoërskool Lichtenburg kry slegs twee weke nadat hy teen Hoërskool Pietersburg in Lichtenburg die aftog moes blaas, ‘n kans om die bordjies te verhang. Vir die Liggies is die halfeindronde bekende terrein, nadat hulle verlede jaar naaswenners was, terwyl dit die Pietersburgers se eerste keer is in ‘n halfeind van die Skild-afdeling.

Pietersburg het nietemin vanjaar twee sterk groepe saamgevoeg, met die jongelinge in die span, die graad 11’s, wat as o.14’s en 15’s die Bowl-afdeling gewen het, terwyl die matrieks onderskeidelik in ‘n eindstryd en halfeindstryd gespeel het as juniors. Corstiaan Vermaak, die Pieties se breier, het vir die vierde agtereenvolgende week sy span onveranderd behou – ‘n goed deurdagte besluit aangesien die tuisspan ongelooflike momentum sedertdien opgebou het.

Dit is ook hoogs onwaarskynlik dat die Liggies se Michael Bondesio veranderinge sal aanbring. Sy leierskorps van KG Legodi en Rea Motsusi het verlede jaar reeds ‘n beduidende rol as jongelinge gespeel en hul ervaring sal Saterdag goud werd wees.

Die spanne:

Montana t. Hoërskool Secunda om 11:45 in Pretoria: 

Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Dixie Sethuga, 13 Luan Barnard, 12 Hendrew Schoeman, 11 Sam Schoeman, 10 Rubel Bester, 9 Braam Schutte, 8 Ulrich van Biljon, 7 Dieter Scheepers, 6 Ashton Vorster, 5 Kyle Bronkhorst, 4 Eric Potgieter, 3 Aiden Vorster, 2 Juan Theunissen, 1 Joseph Wilkonson.

Secunda: 15 Dillon Grundlingh, 14 Ryan Lottering, 13 Armand Underhay, 12 Bismarck Jansen, 11 Damian de Beer, 10 Alonzo Blakenberg, 9 JD van Coller, 8 Sifiso Hlungwane, 7 Zander van der Merwe, 6 Renier Combrink, 5 JC Olivier, 4 Mickey Jordaan, 3 MC Vosloo, 2 Rico Schoeman, 1 Nathan Erasmus.

Hoërskool Pietersburg t. Hoërskool Lichtenburg om 11:30 in Polokwane: 

Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Elkan Esterhuyze, 13 Zuhan Labuschagne 12 Siya Mahlangu, 11 Keanu Potgieter, 10 Juan Randall, 9 Celliers van der Merwe, 8, FC Smith, 7 Juan Jansen van Vuuren, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg, 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.

Lichtenburg (moontlik): 15 Xander Blom, 14 Thatu Seabo, 13 WJ Liebenberg, 12 Oratile Sekoto, 11 Kuzi Mupudzi, 10 Luan Snyman, 9 Rea Motsusi, 8 KG Legodi, 7 MC Shanahan, 6 Ruan Kroëse, 5 Darius Lombard, 4 George Bingudza, 3 Duan Kruger, 2 Juan van Rhyn, 1 Ruben Pretorius.

Afskoptye van Junior spanne in Pretoria en Polokwane (Pretoria eerste): 

o.16: 10:20 – Montana t. Hoërskool Piet Retief; 10:10 – Hoërskool Pietersburg t. Ben Vorster.

o.15: 09:10 – Ben Vorster t. Hoërskool Lichtenburg; 09:00 – Hoërskool Pietersburg t. Hoërskool Piet Retief.

o.14: 08:00 – Montana vs Heidelberg Volkskool; 08:00 – Ben Vorster t. Secunda.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.