Monties rig visier op eerste Noordvaal-titel


Daar is vanjaar aansienlik meer op die spel in die eindronde van die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling.
Volg en lees oor al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoërskool Montana benodig slegs een oorwinning, verkieslik in die eerste span se kragmeting met Hoërskool Pietersburg in die Skild-eindstryd, om promosie terug na die Plaat-afdeling te verseker.
Dié afdeling se promosiewedloop is nog wawyd oop vir drie skole wat elk een of meer spanne in die onderskeie eindstryde van die verskillende ouderdomsgroepe het.
Die Monties is tans algeheel eerste, met 206 ligapunte, gevolg deur Hoërskool Ben Vorster, wat slegs 1.5 ligapunte agter die voorlopers is, en, in die derde plek, die Monties se teenstanders in die eerstespan-eindstryd, Hoërskool Pietersburg, met 201.5 punte. Die Pieties het drie spanne in die onderskeie eindstryde, die meeste van ál die deelnemende skole in dié afdeling.
Daar sal boonop vanjaar ‘n nuwe Skild-kampioen gekroon word, nadat die verdedigende kampioen, Hoërskool Wesvalia, verlede jaar opgeskuif het na die Plaat-afdeling.
Dit is gepas dat die twee voorste spanne op die puntelys mekaar die stryd aansê om die titel. Die Monties het verdien om heel bo te eindig en het reeds vroeër vanjaar met 36-24 vir die Pieties geklop.
Die Pietersburgers gaan nie die eindstryd binne met dieselfde span wat die afgelope vier weke amok gemaak het nie, met Cravenweek-senter, Siya Mahlangu, wat moes onttrek weens ‘n besering. Linkervleuel, Keanu Potgieter, skuif gevolglik na die middeveld, waar dié graad 11-leerder, volgens afrigter, Corstiaan Vermaak, ‘n vars benadering op die aanval bied. Potgieter sal nietemin moet uithaal en wys in sy tweestryd met die Monties se staamaker-senter en kaptein, Hendrew Schoeman.
Benewens moontike promosie, staan die Monties natuurlik ‘n kans om hul heel eerste Noordvaal-titel in te palm. Indien dit gebeur, sal dit die tweede agtereenvolgende jaar wees wat hoofafrigter AJ le Roux, ‘n span na een van die SDC Noordvaal Cup se titels lei, nadat Hoërskool Transvalia verlede jaar die Plaat gedeel het met HTS Middelburg.
Die spanne:
Montana t. Hoërskool Pietersburg om 11:45 in Pretoria:
Montana: 15 Marq de Villiers, 14 Dixie Sethuga, 13 Luan Barnard, 12 Hendrew Schoeman, 11 Sam Schoeman, 10 Rubel Bester, 9 Braam Schutte, 8 Ulrich van Biljon, 7 Dieter Scheepers, 6 Ashton Vorster, 5 Kyle Bronkhorst, 4 Eric Potgieter, 3 Aiden Vorster, 2 Juan Theunissen, 1 Joseph Wilkinson.
Hoërskool Pietersburg: 15 Ryno Mienie, 14 Elkan Esterhuyze, 13 Zuhan Labuschagne 12 Keanu Potgieter, 11 Armand Venter, 10 Juan Randall, 9 Celliers van der Merwe, 8, FC Smith, 7 Juan Jansen van Vuuren, 6 Andru de Beer, 5 Ludke Pienaar, 4 Brent Vorster, 3 Stephan Jansen van Rensburg, 2 Ziahn Lombaard, 1 Krissie Swanepoel.
Skeidsregter: Ruan Benadie (Goue Leeus)
Ander spanne:
o.16 – 10:20 – Hoërskool Pietersburg t. Piet Retief.
o.15 – 09:10 – Ben Vorster t. Piet Retief.
o.14 – 08:00 – Montana t. Secunda.