SuperSport Schools Plus

Monnas verbreek sewe jaar se droogte

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-08-27

NewsGMonnaskampMBOMBELA. – Dit was sewe maer jare, maar Monument van Krugersdorp se Wit Bulle is uiteindelik weer kampioene van die Virsekerbeker vir Makroskole.

Monnas het gister vir die Hoërskool Nelspruit se Rhinos met 40-26 in die eindstryd van die reeks hier op Rhino-park afgestof.
Monument was laas in 2010 kampioen van die kompetisie toe dit nog as die Beeldtrofee bekend gestaan het. Daardie span van Monnas het spelers soos Ruan “Stoney” Steenkamp en Paul Willemse in sy geledere gehad. 

Monnas se breier Tjaart van der Walt het hiermee ook ‘n driekuns behaal na hy die vorige twee jaar vir Garsfontein van Pretoria tot dié titel gebrei het. 

Die Wit Bulle se kragtige baldraers met die agtsteman, PJ Jacobs, en die SA Skole-slot, Cristen van Niekerk, aan die spits se vrae aan Nelspruit se verdediging het net te veel in die tweede helfte geraak. Jacobs het twee keer oor die doellyn gestorm vir drieë.

Die uitmuntende balverspreiding van Monnas se losskakel, Jonathan Viljoen, het natuurlik ook ‘n groot rol gespeel in die gate wat die baldraers in die verdediging gevind het.

Daar was nie veel tussen die twee spanne teen lemoentyd te kies nie, met Monnas wat ‘n skrale voorsprong van 19-15 geniet het. Nelspruit se verdediging in die tweede helfte kon net nie meer al die gate toestop nie.

Nelspruit se flank Renier Troskie asook die heelagter, Paul Rheeder, kan tevrede met hul vertonings voel.

Daar kon seker nie daaroor getwyfel gewees het nie, maar eindstryd van die Virsekerbeker vir Grootskole het aan Helpmekaar se flank en kaptein, Mark Snyman, behoort. Helpies het oortuigend met 52-24 oor Transvalia geseëvier en daarmee vir die derde agtereenvolgende jaar met die titel as kampioen van die veld gestap.

Snyman was in ‘n klas van sy eie en is vir die vyfde agtereenvolgende jaar as die Speler van die Wedstryd in die eindstryd van die kompetisie aangewys. Hy het van o.14 elke keer in die eindstryd met die bewys weggestap.

Die heelagter, David Cary, was ook op sy stukke en het soos Snyman twee keer gaan druk. Voorlangs het die slot Michael Amiras ook beïndruk.

Vir die span van Vanderbijlpark het sy skrumskakel, JP Pieterse, goeie spel opgedis.

Hoogenhout van Bethel het sy eerste titel in die gesogte kompetisie verower toe hy Brandwag van Benoni met 27-19 op laasgenoemde uitoorlê het. Teen rustyd met die telling op 7-elk was daar niks tussen die twee spanne te kies nie.
Hoogenhout se Cravenweek-vleuel Prince Nkabinde het weer gewys hoe gevaarlik hy met die bal in die hand is en het twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak. Nkabinde is een van die spelers wat ongelukkig kan voel dat hy nie vanjaar die SA Skole-span gehaal het nie.

Belvedere van Benoni het geskiedenis in die eindstryd van die Middelskole gemaak deur die eerste skool vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes te word wat as kampioen van een van die Virsekerbeker se afdelings gekroon word.

Belvedere het Allen Glen in ‘n strawwe eindstryd met 22-17 in Roodepoort geklop.

In die eindstryd van die Kleinskole het Koster oor te veel skietgoed vir die tuisspan, Morgenzon Landbou, beskik. Koster het met 31-0 as kampioen van die veld gestap.

Die wenspan se losskakel, Kobus Botha, het 17 van sy span se punte aangeteken. Hy het twee keer gaan druk met twee doelskoppe geslaag en ook ‘n strafdoel oorgeklits.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.