Monnas skrik groot, Florida ontnugter
VANDERBIJLPARK. – Dit was so hittete of die verdedigende kampioen van die Tuks-rugbyreeks, Monument van Krugersdorp, het reeds in sy eerste wedstryd van vanjaar se reeks op sy neus gekyk.
Monnas het met 31-elk gelykop teen Transvalia hier op laasgenoemde se tuisveld gespeel. Die Wit Bulle sal nie tevrede met hul vertoning voel nie.
Transvalia se agttal het nie ‘n tree vir die besoekers se gedugte agttal terug gestaan nie. Dit was veral die flank Nicky Nicholenas wat deurentyd sy lyf op die spel vir ‘n sege gesit het.
Monnas se kaptein en SA Skole-haker, Morné Brandon, het twee keer die doellyn oorgesteek. Sy tweede drie vanaf ‘n rolmaal slegs sewe minute voor die eindfluitjie het aan sy span ‘n voorsprong van 31-24 gegee.
Transvalia se regtervleuel, Damian Jordan, het met sy tweede drie met minder as twee minute se speeltyd oor die telling op 31-29 in Monnas se guns tot stand gebring. Die tuisspan se losskakel, Zian de Jager, het verdoel om sake gelyk te trek. De Jager het goed vertoon en ook ‘n flink skepskop oorgeklits.
Transvalia se vleuel Uli Wiese het gevaarlik gelyk elke keer wat hy bal in die hand gekry het.
Monnas se flank Franco Schutte en vleuel Ruben Barnard kan ook tevrede met hul vertonings voel.
Garsfontein het op sy tuisveld in Pretoria amper te vroeg sy voet van die vet afgehaal. Garsies het die Rooi Bulle van HTS Middelburg met 47-40 geklop.
Die tuisspan het ‘n voorsprong van 47-19 geniet toe HTS Middelburg tot slegs 14 spelers ingeperk is na albei sy hakers in sy 23-tal die veld weens beserings moet verlaat.
Die Rooi Bulle was egter aangevuur en het ‘n terugvegpoging van stapel gestuur. Garsies se skrumskakel, Jurich Claassen, was uitmuntend. Hy het drie keer HTS Middelburg se doellyn oorgesteek waarvan twee van dié drieë danksy sy individuele briljantheid was.
EG Jansen van Boksburg sal ook tevrede met sy oorwinning van 40-15 oor Hoërskool Nelspruit in die reeks voel. Menlopark moes harder as verwag werk om Hoërskool Rustenburg met 32-28 te troef.
In die eerste ronde van die Pukke Prestige-reeks het die Hoërskool Middelburg sy spiere met ‘n gemaklike sege van 63-0 oor Driehoek gebult. Jeugland wil ook weer rugby speel en het Marais Viljoen naelskraaps met 27-26 geklop.
Die Anker het gewys dat hy ook ‘n aanspraakmaker vanjaar kan wees na hy Noordheuwel in Krugersdorp met 18-12 uitoorlê het.
Florida sou verskoon gewees het indien hy na verlede week gedink het die trofee vir die Pukke Super-reeks staan reeds in sy trofeekas. Secunda het egter Woensdag Florida met ‘n sege van 26-21 tot verhaal gebring.
Florida se Tino Swanepoel wat die vorige week 41 punte in sy span se sege van 81-5 oor Hartbeespoort aangeteken het, was egter weer op sy stukke en het twee keer die doellyn oorgesteek.
In die hoofwedstryd van die 19de Pieter Swanepoel Sportdag het die gasheer die Staatspresident Swart van Brandfort vir Aliwal-Noord met 24-22 met die kous oor die kop huis toe gestuur.
Riebeeckstad behoort vanjaar weer ‘n goeie seisoen te beleef. Riebies het Sand du Plessis op die sportdag met 34-13 ore aangesit.
Die nuwe Sentrale Skolereeks het ook afgeskop met Witteberg wat met 40-15 te sterk vir Fichardtpark was. Diamantveld het in die tweede helfte teen Goudveld-Hoërskool teruggeveg om met 39-29 as oorwinnaars van die veld te stap.
Helpmekaar-kollege se vleuel Christiaan Bezuidenhout het sy skool se rekord vir die meeste drieë in ‘n eerstespan-wedstryd geëwenaar in sy span se oortuigende sege van 64-21. Bezuidenhout het vier van sy span se tien drieë in die wedstryd gedruk.
Die SA Skole-sewespan het gister sy titel as kampioen van die Capricorn-toernooi in Windhoek suksesvol verdedig deur Duitsland in die eindstryd met 46-0 kaf te draf.
Al die uitslae:
TUKS-REEKS
Transvalia 31, Monument 31; Garsfontein 47, HTS Middelburg 40; Kempton Park 19, Hoërskool Pietersburg 14; EG Jansen 40, Hoërskool Nelspruit 15; Menlopark 32, Hoërskool Rustenburg 28.
PUKKE PRESTIGE-REEKS
Hoërskool Middelburg 63, Driehoek 0; Jeugland 27, Marais Viljoen 26; Die Anker 18, Noordheuwel 12; Montana 52, HTS Witbank 0; Potchefstroom Volkskool 31, Wesvalia 21; Zwartkop 34, Randburg 24; Potchefstroom Gimnasium 50, Oosterlig 0; Lichtenburg 20, Hugenote (Springs) 18.
PUKKE SUPER-REEKS
Secunda 29, Hans Moore 12; Hoërskool Alberton 50, Hartbeespoort 7; Standerton 28, Linden 21; Florida 55, Hoogenhout 21; Secunda 26, Florida 21; Standerton 22, Hans Moore 17; Hoërskool Alberton 56, Dr. Malan 5; hBastion 51, Hoogenhout 21; Brits 22, Riebeeckrand 17; Dr. Malan 22, Riebeeckrand 7.
PUKKE 16-REEKS
Pretoria-Noord 24, Oosterland 8; Bekker 17, Overvaal 7; Piet Retief 45, Volksrust 9; Stoffberg 24, Delmas 17; Vryburg 20, Fochville 18.
SUPERREEKS
Brandwag (Benoni) 55, Jan Viljoen 0; Heidelberg Volkskool 49, Vereeniging Gimnasium 24; Dinamika 26, Wagpos 22; Hoërskool Tuine 25, Bergsig 22.
PUKKE PROVINSIALE REEKS
Ben Vorster 13, Hoërskool Klerskdorp 5; Frikkie Meyer 23, Oos-Moot 15.
VRIENDSKAPLIK
Helpmekaar 64, Eldoraigne 21; Wonderboom 41, Nylstroom 8; Merensky 28, Rob Ferreira 17; Overkruin 25, Hans Strijdom 14; Piet Potgieter 33, Generaal Hertzog 14; Hugenote (Wellington) 39, Tygerberg 24; Frans du Toit 19, HTS Tom Naudé 5; Ellisras 46, Louis Trichardt 17; Bergvlam 24, Barberton 19; Morgenzon Landbou 50, Hendrina 7; Nico Malan 61, Aeroville 0; Brandwag (Uitenhage) 47, Port Rex 0; Centurion 38, HTS John Vorster 17; Allen Glen 90, Midrand High 12.
PIETER SWANEPOEL SPORTDAG
Brandfort 24, Aliwal-Noord 22; Hentie Cilliers 18, Louis Botha 17; Riebeeckstad 34, Sand du Plessis 13; AHS Kroonstad 42, St Andrews 26; Welkom Gimnasium 62, Stallions 0; Bothaville 22, Kalahari (Kuruman) 10; Bultfontein 19, Hoërskool Bloemfontein 5.
SENTRALE SKOLEREEKS
Witteberg 40, Fichardtpark 15; Diamantveld 39, Goudveld-Hoërskool 29.
BLOU BULLE RUGBYDAG
Boland Landbou 45, Menlopark 10; Affies 30, HTS Middelburg 5; Transvalia 30, Waterkloof 25; Garsfontein 45, Voortrekker (Bethlehem) 0; Monument 10, Welkom Gimnasium 5; EG Jansen 30, Frikkie Meyer 15; Zwartkop 20, Duineveld 20; Oos-Moot 25, Witteberg 5; Diamantveld 20, Pretoria Boys’ High 15; Curro Heuwelkruin 15, Pretoria THS 5; Goudveld 30, Noordheuwel 20; Jeppe 35, Kempton Park 15; St Alban’s College 35, Potchefstroom Gimnasium 5.




