Monnas ryg tien drieë teen Transvalia in
Daar is weer geen keer aan Monnas se eerste rugbyspan nie.
Die Hoërskool Monument van Krugersdorp het Saterdag in sy eerste volwaardige wedstryd van die seisoen gewys dat hy vanjaar weer onder die voorste spanne in die land sal tel.
Monnas het op hul tuisveld Transvalia met 66-0 verniel. Hulle was rustyd reeds met 31-0 voor en die wedstryd is ná sowat 20 minute in die tweede helfte beëindig. Monnas het altesame tien drieë gedruk.
Transvalia het met meer durf gespeel as wat die telling aandui. Transvalia het en het met drie strafskoppe skeef gekorrel voordat Monnas punte kon aanteken.
Valia se Hardus van der Berg is ook met ’n rooikaart ná ’n vuishou gestraf ná Monnas se eerste drie. Monnas se versoolde senterpaar, MJ Pelser en Reyno “Bakkies” Potgieter het agterlangs amok gemaak.
Voorlangs was die slot Ruan Vermaak uitstekend en is hy as Speler van die Wedstryd aangewys.
EG Jansen gaan nie maklik van sy titel as kampioen afstand doen nie. Die Boksburgers het Saterdag in Pretoria Garsfontein met 40-33 verslaan.
EG Jansen se skakelpaar, Ginster Smuts en Ruben Beytell, het agterlangs rigting aan hul span gegee. Voorlangs het die stut Rehann Baumann die donkiewerk by die afbreekpunte gedoen. Hy was ook ’n paar stewige lopies ingekry.
Garsfontein kan homself vir die nederlaag blameer. Garsies het heeltemal te veel foute op die aanval begaan.
CK Steinhobel se ingooiwerk in die lynstane het ook gelol.
Die losskakel, Austin Davids, het sy span deurentyd met stukkies goeie spel en ondernemingsgees binne trefafstand gehou.
Eldoraigne het ’n belangrike sege weg van die huis af oor Hoërskool Klerksdorp (18-5) behaal. Die flank Riaan Koster was uitstaande en is met twee drieë vir sy skitterspel beloon. Sy flankmaat, Cabous Pelser, en die skrumskakel, Christiaan Claassen, kan ook tevrede met hul vertonings voel.
Nelspruit se SA Skole-stut, Dewald Maritz, het ’n driekuns aan drieë in sy span se oorwinning van 28-21 oor Hoërskool Rustenburg behaal.
Die Hoërskool Pietersburg se senter JV Coertze het ook ’n driekuns Saterdag in sy span se sege van 38-13 oor Florida op sy tuisveld in Polokwane behaal.
Menlopark het Marais Viljoen met 30-17 verslaan, terwyl HTS Middelburg te sterk vir Centurion (33-3) was.
Puntemakers:
EG Jansen 40 (19) – Drieë: Lee-Irven Anderies (2), Rehann Baumann, Dylan Engelbrecht, Franklin Wagner, Gerhard van der Nest. Doelskoppe: Ginter Smuts (5). Garsfontein 33 (12) – Drieë: Abner van Reenen, Lincoln Daniels, Luke Fortuin, Austin Davids, Ryno Pieterse. Doelskoppe: Davids (4).
Monument 66 (31) – Drieë: Karel Vahrmeijer (2), Reyno Potgieter (2), PJ Jacobs (2), Dandré Prinsloo, MJ Pelser, Dewald Schoeman, PJ Botha. Doelskoppe: Luke Rossouw (8). Transvalia 0.
Eldoraigne 18 (3) – Drieë: Riaan Koster (2). Doelskop: Erik Calitz. Strafdoele: Calitz (2). Hoërskool Klerksdorp 5 (0) – Drie: JW Nortjé.
HTS Middelburg 33 – Drieë: Japie Kleynhans, JC Pretorius, Riekert Barnard, Ryan Cloete, Carlo Viljoen. Doelskoppe: Barnard (4). Centurion 3 – Strafdoel: Wayne Joubert.
Hoërskool Nelspruit 28 – Drieë: Dewald Maritz (3), Riaz Adebayo. Doelskoppe: Stefan van der Bank (4). Hoërskool Rustenburg 21 – Drieë: Gerhard Fourie, Riaan van der Spuy, Rassie Breedt. Doelskoppe: Fourie (3).
Menlopark 30 – Drieë: Dylan van der Bank (2), Gerald Lowe, Ruben Fleinhauser. Doelskoppe: Werner Nel (2). Strafdoele: Nel (2). Marais Viljoen 17 – Drieë: Theunis Muller, Jacques van Wyngaardt, Hannes Pretorius. Doelskop: Kwagga Marais.
Hoërskool Pietersburg 38 – Drieë: JV Coertze (3), Gerhard van Emmenis, Heinrich Schoeman, Jan-Barend Meyer. Doelskoppe: Pieter Kruger (2), Morné Venter (2). Florida 14 – Drieë: Maxwill van Louw, Safiso Masemola. Doelskoppe: Bradwin Johnson (2).
Ander spanne:
o.16: Monument 10, Transvalia 6; HTS Middelburg 10, Centurion 8; Eldoraigne 66, Klerksdorp 19; Menlopark 62, Marais Viljoen 0; Rustenburg 13, Nelspruit 12; Garsfontein 29, EG Jansen 7; Florida 30, Pietersburg 7.
o.15: Monument 24, Transvalia 22; HTS Middelburg 41, Centurion 9; Klerksdorp 58, Eldoraigne 0; Menlopark 76, Marais Viljoen 6; Rustenburg 13, Nelspruit 5; EG Jansen 36, Garsfontein 14; Pietersburg 31, Florida 0.
o.14: Monument 20, Transvalia 0; HTS Middelburg 57, Centurion 3; Eldoraigne 28, Klerksdorp 21; Menlopark 50, Marais Viljoen 0; Rustenburg 15, Nelspruit 7; Garsfontein 20, EG Jansen 8; Florida 22, Pietersburg 10.




