Monnas ontsnap met sege oor EG Jansen en maak daarmee afspraak met Garsies

Monument se Wit Bulle het behoorlik gesweet teen Dr. EG Jansen in die twee spanne se halfeindstryd van die Noordvaaltrofee se Beker-kompetisie in Krugersdorp vir ‘n sege van 29-20.
Die Wit Bulle het met ongeveer drie minute se speeltyd oor in die kragmeting danksy ‘n drie deur sy heelagter, Jody Schambreel, die eerste keer die voortou in die kragmeting geneem.
Met speeltyd reeds verstreke het die linkervleuel, Marcey de Waal, onder die pale ‘n draai gegooi om die sege op die telbord groter te laat vertoon.
Dr. EG Jansen sal met reg voel dat hulle verdien het om die kragmeting te wen, maar op die ou einde was hy slegs drie minute weg van ‘n opskudding. Monnas het nog nie vanjaar in die reeks die knie gebuig nie.
EG se losskakel, Jaydon Bantom, was op sy stukke en het sy span gehelp om eers teen rustyd met 8-5 voor te loop en daarna die voorsprong tot 20-5 te rek. Die span van Boksburg het met vier minute oor in die kragmeting nog ‘n voorsprong van 20-17 geniet, maaar ook sy skrumskakel, Gordon Smith, aan ‘n geelkaart verloor.
Elke speler van EG Jansen verdien ‘n klop op die skouer vir hul vertoning in die halfeindstryd. Bantom sluit hom in die week by die nasionale o.18-spanne in die Paarl aan.
Vir Monnas het sy buitesenter, Zain Henery, nie net die aanvoorwerk vir Schambreel se drie met ‘n skitterende breekslag gedoen nie, maar ook deurgans vrae aan die besoekers se verdediging gevra.
Voorlangs het Monnas se loskopstut, Evan Retief, slot HJ de Beer en agtsteman en kaptein, Xander Schoeman, ook vertonings gelewer waarop hul trots kan voel.
Die Hoërskool Garsfontein se Bere het sy plek in die eindstryd met ‘n klinkende sege van 43-10 oor Noordheuwel in die ander halfeindstryd bespreek. Die Bere het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 7-3 geniet.
Nories het egter met ‘n sterk wind van agter hulle in die eerste helfte gespeel. Garsies se agtsteman, Maynard Kleynhans, asook die slot Luan Taylor het deurgans hard gewerk in die vastelos om hul span oor die voordeellyn te kry.
Garsies kon in die tweede helfte met die wind van agter daarin slaag om na ‘n hoër rat oor te skakel en het ses drieë in die helfte ingeryg. Die regtervleuel, Heinrich Cloete, het twee van die drieë afgerond.
Agterlangs het die binnesenter, Pieter Coetzer, ‘n hele paar verdedigers besig gehou en ook die bal op die regte tye aan die spelers aan sy buitekant gevoer.
Vir Nories was sy vaskopstut, Arne Roux, asook die agtsteman, Marco Maree, vir goeie spel in die vastelos verantwoordelik. Die Nories het ook weer sake vir die tuisspan in die lynstane bemoeilik – hier verdien die slot Keagan Grobbelaar meeste van die lof.
Dit is die eerste keer sedert 2016 dat Garsies daarin kon slaag om tot die eindstryd van die reeks deur te dring. Die Bere kry dus Saterdag op die Ras van Rooyen die geleentheid om hul enigste blaps van die seisoen teen Monument op die einste veld reg te stel.
Die nederlaag van 19-43 in die liga is die Garsies se enigste nederlaag tot dusver vanjaar.
Puntemakers:
Monument 29 (5) – Drieë: Ceano Everson, Morne Venter, Jody Schambreel, Marcey de Waal, Dylan du Plessis. Doelskoppe: Tyler Sefoor (2). EG Jansen 20 (8) – Drieë: David Twala (2), Jaydon Bantom. Doelskoppe: Bantom. Strafdoel: Bantom.
Garsfontein 43 (7) – Drieë: Heinrich Cloete (2), Pieter Coetzer, Divan Brits, Luan Taylor, Demitre Erasmus, Franna Weyers. Doelskoppe: Nic-Allen Gabrielsen (3), Tireque Apolles. Noordheuwel 10 (3) – Drieë: Arne Roux. Doelskop: JT Kapank. Strafdoel: Kapank.
Ander spanne:
o.16: Monument 25, Helpmekaar 23; EG Jansen 34, Noordheuwel 10.
o.15: Helpmekaar 20, Waterkloof 6; Menlopark 14, Noordheuwel 10.
o.14: Helpmekaar 15, Waterkloof 13; Monument 7, Noordheuwel 5.
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup




