Monnas o.16’s wis 22-punt agterstand uit vir Beker-driekuns


Dit het ‘n terugvegpoging van 22 punte geverg vir Hoërskool Monument se o.16-span om die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling vir ‘n derde agtereenvolgende seisoen as kampioen af te sluit.
Herleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Monumentare moes ‘n agterstand van 13-35 uitwis om uiteindelik in ‘n yslike o.16-eindstryd met 46-42 oor Hoërskool Menlopark by Hoërskool Garsfontein koning te kraai. Die span van Krugersdorp het nou met die o.14-, o.15- en o.16-loure van die Beker-afdeling oor die afgelope drie seisoene weggestap.
Die Parkies het nietemin ‘n uithalervertoning gedurende die eerste 30 minute van die kragmeting opgedis.
Heelagter, Juan Grobler, en buitesenter, Danie Bothma, was die Parkies se groot uitblinkers, met Grobler wat persoonlik verantwoordelik was vir 19 van sy span se 42 punte, insluitend ‘n troosdrie in die doodsnikke, vier doelskoppe en twee strafdoele. Bothma het die doellyn, met ‘n kombinasie van brute krag en groot spoed, twee keer oorgesteek.
Dit was egter nadat Grant Khomo-losskakel, Ray-Nathan van Kolver, die toutjies agterlangs begin trek het, dat die Monumentare se agterlyn lewe gekry het. Vleuel, Dwaylon Swanepoel, het oorgebars vir ‘n tweekuns aan drieë, wat Monnas se verbete terugvegpoging geloods het.
Die tweestryd tussen die buitesenters het vir taamlike opwinding gesorg, vernaam toe Blessing Monareng ook na hoogste versnelling oorgeskakel het. Monareng het by vanjaar se Grant Khomo-week reeds sy driedrukvernuf tentoongestel met vier drieë in ‘n enkele wedstryd, en het Saterdag, hoewel slegs een keer, ‘n uiters belangrike vyfpunter bygedra om sy span na ‘n derde agtereenvolgende Noordvaal-titel te lei.
In die o.15-eindstryd het die gasheerskool, Hoërskool Garsfontein, se woelwaterflank, JD Jordaan, twee keer agter Hoërskool Noordheuwel se doellyn gaan kuier in die Garsies se sege van 29-23. Jordaan en slot, Hanru Botha, het vir die Krugersdorpers taamlik hoofbrekens besorg. Dié twee groot seuns van Pretoria het keer op keer die voordeellyn met kragtige barslopies oorgesteek.
Die Nories het egter nie maklik bes gegee nie en was met die omdraaislag nog met 13-10 voor, nadat buitesenter, JT Strydom, uitstekend afgerond het. Angelo Erasmus, die Nories se oopkantflank, het self in die los gewoel en is met ‘n drie kort voor die eindfluitjie beloon.
Helpmekaar Kollege se groentjies het verseker dat ten minste een Noordvaal-titel na Johannesburg terugkeer. Die Helpies se jongelinge het met ‘n telling van 9-6 met Hoërskool Noordheuwel afgereken. Heelagter, Ariel Meij, het met ál drie doelskoppe geslaag, op die aanval uitgeblink en ‘n paar keer die dag met sy verdediging gered.
Puntemakers:
o.16:
Monument 46 (13) – Drieë: Dwaylon Swanepoel (2), Blessing Monareng, Carlo Claase, Du Plessis, Ongeidentifiseerd. Doelskoppe: Ray-Nathan van Kolver (4). Strafdoele: Van Kolver (2). Menlopark 42 (28) – Drieë: Danie Bothma (2), Dean Field, Jayden Harris, Juan Grobler. Doelskoppe: Grobler (4). Strafdoele: Grobler (2).
o.15:
Garsfontein 29 (10) – Drieë: JD Jordaan (2), Hanru Botha, Jayden Lubbe, Pierre Lombard. Doelskoppe: Le Roux Badenhorst, Lian de Jager. Noordheuwel 23 (13) – Drieë: JT Strydom, Angelo Erasmus. Doelskoppe: MJ Kritzinger (2). Strafdoele: Kritzinger (3).
o.14:
Helpmekaar Kollege 9 (9) – Strafdoele: Ariel Meij (3). Noordheuwel 6 (3) – Strafdoele: Aldré Wohlfahrt (2).