SuperSport Schools Plus

Monnas, Garsies, EG Jansen en Nelspruit deur tot Tuks halfeindronde

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-04-18 Tags: , , ,

Monument van Krugersdorp het Saterdag in Rustenburg met sy oortuigende sege van 46-12 oor Hoërskool Rustenburg in die kwarteindronde van die Tuks-reeks ’n duidelik waarskuwing aan die ander spanne in die reeks gestuur.

Die Wit Bulle kom in die halfeindronde nou teen die Garsfontein Bere te staan. Garsies moes harder as verwag werk om Eldoraigne met 31-22 die loef af te steek. Die span se agttal met die agtsteman Luke Fortuin, flank Ryno Pieterse en slot Jordan van Dyk het voorlangs die grootste bydrae tot die sege gelewer.

Garsies se agterhoede was nie gevaarlik soos hulle gewoontlik is nie en sal teen Monnas op hul beste moet wees indien die span van die Jakarandastad tot die eindstryd wil deurdring.

Monnas se senterpaar, MJ Pelser en Bakkies Potgieter, was op hul stukke teen Rustenburg. Die twee het die tuisspan se verdediging hoofbrekens besorg wanneer hulle besluit het om die voordeellyn aan te val.

Die Wit Bulle se kaptein en haker, PJ Botha, het ook sy goeie vertonings tot dusver voortegesit. Die vertoning van Monnas was sonder twyfel hul beste tot dusver die seisoen.

Vir Rustenburg het sy slotpaar, Christopher Kemm en Nathan Jordan, blink vertonings gelewer.

Die verdedigende kampioen, EG Jansen van Boksburg, mik vanjaar daarna om vir die derde agtereenvolgende jaar met die kroon weg te stap. Die span van Boksburg het in Middelburg vir HTS Middelburg met in hul kwarteindstryd 24-21 geklop.

Die span se losskakel, Ruben Beytell, ken die pad doellyn toe goed en het nog twee drieë by sy totaal van die seisoen gevoeg. Die woelige stut André van der Merwe is ook vir sy goeie spel in die los met ’n drie beloon.

Die Hoërskool Nelspruit se Rhinos sal op EG Jansen in die halfeindronde wag na hulle vir Kempton Park met 28-14 verslaan het. Niemand was beter vir die Rhinos as hulle skrumskakel, Jaco Joubert, nie. Hy het voortdurend vrae aan Kempies om die skrums en losskrums gevra.

Die losskakel, Francois Esselen, kan ook tevrede met sy vertoning voel. Hy het takties goed geskop en sy lyn seepglad weggestuur. Vir Kempies was sy binnesenter, Francois Erasmus, soos gewoontlik ’n staatmaker.

Transvalia het ’n naelskraapse sege van 27-26 oor Florida behaal. Die span van Vanderbijlpark het vroeg ’n voorsprong van 18-5 opgebou, maar ’n geelkaart aan sy senter Franco van Wyk het aan Florida die geleentheid gegee om terug in die wedstryd te kom. Net voor Van Wyk teruggekom het, het Florida die voortou met 19-18 danksy ’n drie deur sy stut Ruan Oosthuizen geneem. Daarna was dit ’n wipplankstryd met die voorloper wat kort-kort verwissel het.

Transvalia se losskakel, JP Pieterse, het met sy skopvoet uiteindelik die wedstryd vir sy span deurgetrek. Hy het vyf stradoele en ’n doelskop oorgeklits.

Puntemakers: 

EG Jansen 24 – Drieë: Ruben Beytell (2), André van der Merwe, Werner Fourie. Doelskoppe: Ginter Smuts (2). HTS Middelburg 21

Garsfontein 31 – Drieë: Luke Fortuin, Lincoln Daniels, Abner van Reenen, Emelio Adonis, Ryno Pieterse. Doelskoppe: Austin Davids (3). Eldoraigne 22.

Monument 46 (24) – Drieë: Arno van der Westhuizen (2), MJ Pelser, PJ Jacobs, Reyno Potgieter, Luke Rossouw, Brendan Buitendag, Keanu Joubert. Doelskoppe: Rossouw (3). Hoërskool Rustenburg 12 (5) – Drieë: Tiaan du Toit, Nathan Jordan. Doelskop: Gerhard Fourie. 

Hoërskool Nelspruit 28 (14) – Drieë: Dewald Maritz, Francois Esselen, Nico de Kock, Riaz Adebayo. Doelskoppe: Esselen (4). Kempton Park 18 (13) – Drieë: Arnant Vorster (2). Doelskop: Lionel Ueckermann. Strafdoele: Ueckermann (2). 

Hoërskool Klerksdorp 32 (8) – Drieë: Grant Marx, Bernie de Beer, Franco Badenhorst, Dirkie Kotze. Doelskoppe: Michael Venter (2), SJ Taljaard. Strafdoele: Venter, Taljaard. Marais Viljoen 31 (12)

Menlopark 24 – Drieë: Hannes Janse van Rensburg, Louis Jordaan, Arrie du Plessis, Ruben Fleischauer. Doelskoppe: Werner Nel (2). Centurion 14 – Drie: Carl Wijburg. Strafdoele: Paul Roos (3). 

Transvalia 27 (18) – Drieë: Xander van der Walt (2). Doelskop: JP Pieterse. Strafdoele: Pieterse (5). Florida 26 (12) – Drieë: Donovan Fourie (2), Ruan Oosthuizen, Maxwell van Louw. Doelskoppe: Bradwin Johnson (3).

Ander spanne: 

o.16: Menlopark 7, Centurion 6; Florida 35, Transvalia 21; Monument 41, Rustenburg 3; Kempton Park 13, Pietersburg 5; HTS Middelburg 10, Marais Viljoen 7; EG Jansen 50, Klerksdorp 0; Garsfontein 26, Eldoraigne 12. 

o.15: Monument 47, Florida 20; Menlopark 48, HTS Middelburg 7; Kempton Park 12, Nelspruit 12 (Kempton eerste drie gedruk); Transvalia 27, Pietersburg 17; Klerksdorp 21, EG Jansen 5; Garsfontein 37, Eldoraigne 20; Centurion 14, Marais Viljoen 5.

o.14: Menlopark 50, HTS Middelburg 7; Rustenburg 17, Transvalia 14; Monument 23, Florida 9; Kempton Park 32, Pietersburg 5; Garsfontein 43, Eldoraigne 0; EG Jansen 59, Centurion 0; Klerksdorp 26, Marais Viljoen 22.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.