SuperSport Schools News

Monnas en Garsies sal gasheer vir die Noordvaaltrofee se halfeindstryde wees

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-10

Céano Everson kookwater skrumskakel van Monnas op die aanval word deur Xander Loubser van Menlo van agter beetgekry. FOTO: Marius Nortje.

Monument en Garsfontein het reeds seker gemaak dat hulle gasheer sal speel vir die twee halfeindstryde van die Beker-kompetisie van die Noordvaaltrofee.

Monnas se Wit Bulle het Saterdag vir die eerste keer die seisoen in die boonste posisie op die puntelys danksy ‘n sege van 38-10 oor die verdedigende kampioen, die Hoërskool Menlopark, geskuif.

Monnas kom het nog een ligawedstryd eerskomende Saterdag teen Noordheuwel oor voor die halfeindronde van die reeks op 20 Augustus.

Garsies en Monnas sal in die uitspeelwedstryde sonder hul SA Skole-spelers betree. Garsies se Michail Damon (heelagter) en Steven Nel (skrumskakel) asook Monnas se Sifiso Magwaza (stut) en Ulrich van der Westhuizen (slot) is in die SA o.18-span gekies wat later vandeesmaand teen Engeland en Frankryk sal kragte meet.

Damon sal egter ook nie vir die nasionale o.18-span in aksie wees nie. Hy het Saterdag in sy span se sege van 43-15 oor Dr. EG Jansen van Boksburg sy been beseer.

Die Turkoois Bere se binnesenter, Pieter Coetzer, was sy span se beste speler op die dag. Hy het twee keer ‘n draai agter die doellyn gemaak en deurgans EG se verdedigers besig gehou. Garsies het teen rustyd reeds ‘n stewige voorsprong van 43-15 geniet.

Voorlangs het die Bere se kaptein, Anrich Engelbrecht, sy terugkeer gemaak. Hy het dit met ‘n drie gevier en sal in die uitspeelrondes die fisieke teenwoordigheid van Abri van der Westhuysen moet help vervang. Van der Westhuysen se seisoen het teen Noordheuwel tot ‘n einde weens ‘n besering gekom.

EG Jansen se slot en kaptein, Ryno van Aswegen, het sake in die lynstane vir die tuisspan bemoeilik. Van Aswegen was ook vir die Valke tydens die Cravenweek ‘n yster in die aspek van die spel. Die loskopstut, Tsepo Ledwaba, asook die heelagter, Dawid Twala, kan ook meer as tevrede met hul vertonings voel.

Waterkloof het sy seisoen op ‘n hoogtepunt afgesluit deur HTS Middelburg met 65-0 in Pretoria kaf te draf. Die Klofies se agtsteman, Zander Thirion, was weer uitstaande en veral sy briljante individuele poging van feitlik sy eie doellyn was een van die hoogtepunte in die wedstryd.

Thirion asook die vleuel Etteen Jooste het elk twee keer ‘n draai agter die Rooi Bulle se doellyn gemaak. Die vertoning tel waarskynlik onder die Klofies se beste gedurende die seisoen.

Helpmekaar-kollege het sy seisoen ook met ‘n sege afgesluit deur Marais Viljoen van Alberton met 38-25 te klop. Helpies het teen rustyd ‘n voorsprong van 24-15 opgebou.

Helpies se loskopstut, Boela de Wet, was op die dag sy span se beste speler. Hy het die veld vol gespeel en ook elke keer wat hy die bal onder die arm vasgeknyp het oor die voordeellyn gestorm.

Vir die verloorspan het sy agtsteman, Enrico Germishuyse, ook met sy lopies beindruk.

Puntemakers: 

Monument 38 (14) – Drieë: Xander Schoeman (2), Morné Venter, Ulrich van der Westhuizen, Arrie van der Walt, Conrad Sevenster. Doelskoppe: Tyler Sefoor (4). Menlopark 10 (3) – Drie: Hanru Potgieter. Doelskop: Marco Strydom. Strafdoel: Strydom.

Waterkloof 65 (24) – Drieë: Zander Thirion (2), Etteen Jooste (2), Herman Viljoen, Francois Viljoen, Dale Arlow, Guillaume Marais, Christof Luus, Hernus Marais, Jayde Austin. Doelskoppe: Thorn Bester (5). HTS Middelburg 0.

Garsfontein 43 (31) – Drieë: Pieter Coetzer (2), Demitri Erasmus, Michail Damon, Christopher Sjöblom, Steven Nel, Anrich Engelbrecht. Doelskoppe: Nic-Allen Gabrielsen (4). EG Jansen 15 (5) – Drië: David Twala, Gordon Smith, Juandré Jacobs.

Helpmekaar-kollege 38 (24) – Drieë: Michael van Rooyen (2), JP Beyer, Ruan Nel, Ruan Welman, Boela de Wet. Doelskoppe: Ivan Mouton (4). Marais Viljoen 25 (15) – Drieë: Mark Harrison, Ryan Langford, Franco Herbst, Dominque Demenez. Doelskop: Charl de Kock. Strafdoel: De Kock.

Ander spanne:

o.16: Monument 26, Menlopark 21; EG Jansen 43, Garsfontein 17; Helpmekaar 54, Marais Viljoen 25; Waterkloof 61, HTS Middelburg 7.

o.15: Menlopark 7, Monument 5; Garsfontein 19, EG Jansen 14; Helpmekaar 22, Marais Viljoen 15; Waterkloof 65, HTS Middelburg 0.

o.14: Monument 26, Menlopark 15; EG Jansen 17, Garsfontein 10; Helpmekaar 97, Marais Viljoen 0; Waterkloof 37, HTS Middelburg 7.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.