SuperSport Schools Plus

Monnas en Garsies in stryd om 100ste Noordvaal-titel

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-26 Tags:

Die tafel is gedek vir die 100ste eindstryd van die Noordvaaltrofee, die oudste skolerugbykompetisie in Suid-Afrika.

Dit is die Wit Bulle van Monument teen die Hoërskool Garsfontein se Bere in die hoofmaal wat sal bepaal wie vir die volgende jaar met die titel as kampioen van die gesogte reeks kan spog.

Die kragmeting word op die Ras van Rooyen in Krugersdorp  beslis.

Boonop sal dit ‘n ekstra spesiale oorwinning wees vir die wenspan weens die feit dat dit die 100ste eindstryd van topliga van dié kompetisie is.

Die kompetisie het sy ontstaan in 1920 as die AG Robertson gehad met die Hoërskool Ermelo wat as die eerste kampioen gekroon is. Die toernooi het daarna ook as die Administrateursbeker (1922-1981), Direkteurstrofee (1982-1994), Beeldtrofee (1995-2015) en Virsekerbeker (2016-2021) bekend gestaan.

Monnas het al nege keer sedert die skool se ontstaan in 1920 die titel verower. Hy het sy nege titels in 1953, 1979, 1980, 1984, 2005, 2009, 2010, 2017 en 2018 gewen. Dié titels van 1980 en 1984 was onderskeidelik met Affies en Hugenote van Springs gedeel.

Saterdag sal dit Garsfontein se vierde verskyning in die eindstryd van die kompetisie wees. Die span van Pretoria was al twee keer in 2015 en 2016 as kampioen gekroon.

Die Wit Bulle sal die veld as guntelinge betree om as oorwinnaars van die veld te stap. Die span van Krugersdorp sal egter nie naief wees en dink dat sake so maklik sal gaan as vroeër vanjaar in die ligawedstryd tussen die twee spanne nie.

Monnas het die kragmeting met 43-19 in ‘n kliniese vertoning op die Ras van Rooyen gewen. Dit is boonop Garsfontein se enigste nederlaag tot dusver vanjaar. Die Bere is die enigste span onder die voorste vyf spanne in die land wat nog net een keer vanjaar die knie gebuig het.

Die span van Pretoria kan dus met ‘n sege in die eindstryd die een vlek op sy rekord vanjaar regstel. Maklik gaan dit egter nie wees nie, daar is waarskynlik nie ‘n afrigter wat die Bere beter ken as Monnas se Tjaart van der Walt nie.

Hy was immers deel van Garsies se afrigtingspan toe hulle in 2015 en 2016 die kroon gedra het. Van der Walt het daarna ook in 2017 en 2018 aan stuur van sake gestaan toe Monnas as kampioen gekroon was. Monnas spog ook met ‘n onoorwonne rekord in vanjaar se Noordvaaltrofee.

Die Bere se afrigtingspan van Johan du Plessis en Hendré Marnitz sal gewis ook ‘n paar planne hê om Monnas vir die eerste keer sedert 2018 op die einste Ras van Rooyen te verslaan. Die Garsies moet sonder sy twee SA Skole-spelers, Steven Nel (skrumskakel) en Michail Damon (heelagter), klaarkom.

Nel is betrokke by die nasionale o.18-span se wedstryde in die Paarl, terwyl Damon ‘n ernstige beenbesering opgedoen het voordat hy hom in Paarl by die span moes aansluit.

Monnas het ook vanjaar twee SA Skole-spelers opgelewer. Die span se slot Ulrich van der Westhuizen sal egter more in die eindstryd in aksie wees na hy voor die eerste wedstryd weens ‘n besering vanaf die Paarl teruggestuur is.

Die ander SA Skole-speler, Sifiso Magwaza, het positief vir ‘n verbode middel tydens die Cravenweek in Kaapstad getoets. Hy wag nog op die uitslag van sy B-monster se toets.

Garsfontein se een ligpunt in die nederlaag van 19-43 vroeër vanjaar was in die skrums. Daar kan verwag word dat die Bere weer hul aanslag om hierdie faset van die spel sal bou. Veral met Magwaza nie beskikbaar nie en die man wat sy tokse moet volstaan, Evan Retief, wat vroeër vanjaar nog langs die kant van die skrum gesak het.

Die Garsies se skrumwerk moet vanjaar onder die voorste van alle skolespanne in Suid-Afrika tel met die skrumafrigter, Kevin Buys, wat hier heelwat lof verdien. Die twee voorrymanne, Adriaan van Niekerk en Henco Hugo, sal geen span in die steek laat nie.

Vir Monnas lê die sleutel tot sukses by sy slotpaar, Van der Westhuizen en HJ de Beer, asook die aanvallende vermoë van Tyler Sefoor (losskakel), Zain Henery (buitesenter) en Jody Schambreel (heelagter).

Buiten die Bere se skrumwerk sal sy Cravenweek-senterpaar, Pieter Coetzer en Demitre Erasmus, probleme vir die tuisspan agterlangs besorg. Die slotpaar van Christopher Sjoblom en Luan Taylor, sal ook die pap voorlangs dik moet aanmaak.

Die spanne is: 

Hoërskool Monument: 15 Jody Schambreel, 14 Marcey de Waal, 13 Zain Henery, 12 Conrad Sevenster, 11 Kelvin van Wyk, 10 Tyler Sefoor, 9 Céano Everson, 8 Xander Schoeman (kaptein), 7 Morné Venter, 6 Tristan da Costa, 5 Ulrich van der Westhuizen, 4 HJ de Beer, 3 Dylan du Plessis, 2 Jan Botes, 1 Evan Retief. Plaasvervangers: 16 Stephan Uys, 17 Ricardo du Plessis, 18 Roelf Jacobs, 19 Michiel Burger, 20 Dylan Viljoen, 21 Deon Groenewald, 22 Daylon Myners, 23 Arrie van der Walt.

Hoërskool Garsfontein: 15 Liam Dick, 14 Heinrich Cloete, 13 Demitre Erasmus, 12 Pieter Coetzer, 11 Boeloe Scott, 10 Nic-Allen Gabrielsen, 9 Zian Cilliers, 8 Maynard Kleynhans, 7 Divan Brits, 6 Anrich Engelbrecht (kaptein), 5 Luan Taylor, 4 Christopher Sjoblom, 3 Henco Hugo, 2 De Wet Lottering, 1 Adriaan van Niekerk. Plaasvervangers: 16 Franna Prinsloo, 17 Leighton-Jon Cloete, 18 Eben Stander, 19 Zander Lourens, 20 Ruben le Roux, 21 Zane Pretorius, 22 Tireque Apolles, 23 Franna Weyers.

Afskop: 12:45
SuperSport Schools: https://bit.ly/NoordvaalBekerEindstryd2022 
Skeidsregter: Richard Schwulst (Goue Leeus Skeidsregters-verenining)

Ander spanne: 

o.16 – 11:00 – Monument vs EG Jansen – https://bit.ly/o16Noordvaal2022

o.15 – 09:30 – Menlopark vs Helpmekaar – https://bit.ly/o15Noordvaal2022

o.14 – 08:00 – Monument vs Helpmekaar – https://bit.ly/o14Eindstryd2022

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.