SuperSport Schools Plus

Monnas derde keer kampioen van Tuksreeks

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-05-09 Tags: ,

NewsG MonumentDie Hoërskool Monument van Krugersdorp se Wit Bulle het op die ou einde net te veel krag vir die Hoërskool Nelspruit se Rhinos in die eindstryd van die Tuksreeks gehad.

Die Wit Bulle is vir die eerste keer sedert 2010 as kampioen gekroon toe hy Nelspruit met 25-17 in die LC de Villiers-stadion hier getroef het. Monnas het teen lemoentyd ’n skrale voorsprong van 10-6 geniet.

Die verskil tussen die twee spanne op die ou einde was die fisieke aanslag wat deur die kaptein en haker, PJ Botha, die slotte Ruan Vermaak en Christopher Havenga, en die senter Bakkies Potgieter gelei is.

Die Rhinos het nooit handdoek ingegooi nie. Dit was veral die haker, SP Muller, en die flank, WJ Haliday, wat voorlangs gewoel het.

Potgieter het agterlangs ’n hele paar keer Nelspruit se verdediging behoorlik beproef waarna die vleuel Karel Vahrmeijer net soveel keer gedreig het om die doellyn oor te steek.

Nelspruit se twee senters, Riaz Adebayo en Marnus Kruger, was ook goud vir hul span werd. Kruger is vroeg in die wedstryd met ’n geelkaart deur die skeidsregter, Stephan Geldenhuys, van die veld gestuur. Dit was Geldenhuys se vyfde eindstryd van die Tuksreeks wat hy geblaas het.

Monnas was al twee keer vantevore in 2009 en 2010 as kampioen gekroon. Dit was egter sy ervare breier, Hans Coetzee, se eerste titel as kampioen in die reeks. Oupa van der Merwe en Wynand Moolman was onderskeidelik in 2009 en 2010 die afrigters toe die Wit Bulle die kroon gedra het.

In die span van 2009 was die Springbok Jaco Taute een van Monnas se staatmakers gewees.

EG Jansen kon nou wel nie vanjaar sy titel as kampioen van die Tuks-reeks behou nie, maar het danksy ’n strafdoel in die doodsnikke deur sy skrumskakel, Ginter Smuts, met 39-36 oor Garsfontein in die uitspeelwedstryd vir die derde posisie geseëvier.

Jansies se losskakel, Ruben Beytell, het met twee drieë in die wedstryd sy totaal vir die seisoen tot ’n ongelooflike 18 drieë in 11 wedstryde opgestoot. Garsies se skrumskakel, Shaun Williams, het sy span met twee drieë in die tweede helfte in die wedstryd gehou.

Monument is die algehele kampioen van die rugbyreeks. Menlopark se o.14-, o.15- en o.16-spanne was almal in die eindstryde in aksie. Menlopark se o.15-span het sy eweknie van Monnas met 22-12 in die eindstryd getroef.

In die uitspeelwedstryd om die derde plek in die o.15-afdeling het Klerksdorp vir Transvalia met 17-15 getroef. Die wedstryd tussen verlede jaar se twee finaliste in die o.14-afdeling is vyf minute vroeg sonder waarskuwing deur die skeidsregter gestop omdat hy as assistent-skeidsregter by ’n ander wedstryd benodig is.

Garsfontein se o.14-span was met 15-0 oor Menlopark baas. Garsies se breier, Francois de Kock, wat ook sy skool se rugbyorganiseerder is, sal hom later vanjaar by Eldoraigne aansluit.
In die o.16-eindstryd van Monnas met 20-10 oor Menlopark baas

Puntemakers: 

Monument 25 (10) – Drieë: Nathan McBeth, Christopher Havenga, Karel Vahrmeijer. Doelskoppe: Luke Rossouw (2). Strafdoele: Rossouw (2). Hoërskool Nelspruit 17 (6) – Drie: Marnus Kruger. Strafdoele: Stephan van der Bank (4).

EG Jansen 39 (14) – Drieë: Ruben Beytell (2), Franco van Eeden, Dominic McArthur, Henry Pike. Doelskoppe: Ginter Smuts (4). Strafdoele: Smuts (2). Garsfontein 36 (17) – Drieë: Shaun Williams (2), Luke Fortuin, Denzel Liebenberg, Abner van Reenen. Doelskoppe: Van Reenen (3). Strafdoel: Van Reenen.

HTS Middelburg 25 (10) – Drieë: Japie Kleynhans (2), Zander Joubert, Duart Willemse. Doelskop: Riekert Barnard. Strafdoel: Barnard. Hoërskool Rustenburg 19 (7) – Drieë: Riaan van der Spuy, Christopher Kemm, Rassie Breedt. Doelskoppe: Gerhard Fourie (2).

Eldoraigne 17 (12) – Drieë: Cabous Pelser, Delwyn Engelbrecht, De Wet Pretorius. Doelskop: Emilio Potgieter. Kempton Park 10 (10) – Drie: Jeandré Breytenbach. Doelskop: Francois Erasmus. Strafdoel: Erasmus.

Hoërskool Pietersburg 54 – Drieë: Tyrone Thompson, JV Coertze, Xander du Plessis, Morné Venter, Esselen Deetlefs, Miguel de Sousa, Gerhard van Emmenis, Stiaan Pistorius. Doelskoppe: Venter (6), Pieter Kruger. Transvalia 12 – Drieë: Elrich Louw, Kruan Saunders. Doelskop: JP Pieterse.

Menlopark 47 (13) – Drieë: Dylan Nysschen (3), Damian van den Broek, Danie Rousseau, Nathan Nienaber, Dylan van der Bank, Arrie du Plessis. Doelskoppe: Nysschen (2). Strafdoel: Brian Bouwer. Hoërskool Klerksdorp 10 (5) – Drieë: Franco Badenhorst, Christo Pretorius.

Centurion 29 (10) – Drieë: Paul Roos, Jeandré du Preez, Carl Weijburg, Bertus Jordaan. Doelskoppe: Roos (3). Strafdoel: Roos. Florida 22 (10) – Drieë: Maxwell van Louw (2), Hendrico Luit, Phil Farmer. Doelskop: HG de Kock.

Ander spanne:

o.16: Monument 20, Menlopark 10 (eindstryd); Florida 24, Garsfontein 18; Transvalia 28, Rustenburg 13; Eldoraigne 22, Centurion 10; Nelspruit 13, Kempton Park 3; EG Jansen 33, HTS Middelburg 12; Pietersburg 33, Klerksdorp 3.

o.15: Menlopark 22, Monument 12 (eindstryd); Klerksdorp 17, Transvalia 15; EG Jansen 19, Pietersburg 12; Florida 27, HTS Middelburg 24; Garsfontein 34, Kempton Park 15; Centurion 20, Rustenburg 17; Nelspruit 15, Eldoraigne 13.

o.14: Garsfontein 15, Menlopark 0 (eindstryd); Rustenburg 10, Monument 7; Transvalia 19, Florida 0; Eldoraigne 26, HTS Middelburg 0; EG Jansen 25, Kempton Park 10; Klerksdorp 29, Nelspruit 7; Marais Viljoen 50, Centurion 0.

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.