SuperSport Schools Plus

Monnas begin nuwe hoofstuk in 2017

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-02-21

MonumentMonnas se Witbulle betree vanjaar ‘n nuwe era onder die breierskap van Tjaart van der Walt. Hans Coetzee wat verlede jaar nog die eerstespan gebrei het se paaie het na 22 seisoene as die eerstes se afrigter geskei. Van der Walt het Garsfontein van Pretoria die afgelope twee jaar tot Beeldtrofee Makroskole-kampioen gebrei.

Van der Walt begin dus ‘n nuwe hoofstuk van Monnas rugby skryf. Van der Walt sal deur Gert Lindeque en Morne Kruger ondersteun word. Lindeque was voorheen Helpmekaar-kollege se eerstespan se hoofafrigter en het verlede jaar sy rugby kennis by Kemptonpark ingespan.

Die bekwame Jan van Rooyen sal na die span se kondisionering omsien, terwyl die Leeus se JP Ferreira ook die span met sy verdediging sal help. Ferreira het verlede jaar probeer om die Springbokke se probleme op verdediging tydens die einde van die jaar toer uit te sorteer.  

Hoewel Monnas ‘n sterk span in die veld behoort te stoot sal die feit dat die span sover slegs drie wedstryde die seisoen op sy tuisveld, die Ras van Rooyen-veld, sal speel een van sy groot uitdagings wees. Die Witbulle sal sover slegs teen Eldoraigne, Florida en die Hoërskool Rustenburg op sy tuisveld in aksie wees.

Die feit dat die Leeus derde op die prioriteitslys van die Virsekerbeker agter die Pumas en Blou Bulle is beteken dat die kanse skraal is dat die span meer wedstryde in Krugersdorp sal speel. Die span sal in die uitspele van die kompetisie slegs ‘n wedstryd op sy tuisveld he indien hy teen Rustenburg of een van die Valke se deelnemende spanne te staan kom.

Die span het sy agtsteman PJ Jacobs, flank Christen van Niekerk, slot Christopher Havenga, skrumskakel Tinus Combrinck, losskakel Luke Rossouw, heelagter Dandre Prinsloo asook die vleuel Brendon Buitendag van verlede jaar se span behou.

Havenga het verlede jaar die SA Skole A-span gehaal. Hy is vanjaar o.19 so sal dus nie weer in aanmerking vir die nasionale skolespan kom nie. Die skakelpaar Tinus Combrinck en Luke Rossouw behoort spel vir die Witbulle te dikteer. Albei was saam met Van Niekerk en Jacobs ook lede van die Goue Leeus se Cravenweek-span.

Monument – 2017
7 Maartvs. Welkom Gimnasium (Loftus)
11 Maartvs. Pietersburg (W)
17 Maartvs. Eldoraigne (T)
25 Maartvs. Tuks Kwarteindronde
13 Aprilvs. Dale College (KERF)
15 Aprilvs. HTS Middelburg (KERF)
17 Aprilvs. Selborne College (KERF)
22 Aprilvs. Tuks Halfeindronde
29 Aprilvs. Oakdale Landbou (WK)
1 Meivs. Boland Landbou (WK)
6 Meivs. Tuks Eindronde
13 Meivs. Waterkloof (W)
20 Meivs. Kemptonpark (W)
27 Mei vs. King Edward VII (W)
3 Junievs. Glenwood (W)
10 Junievs. EG Jansen (W)
14 Junievs. Florida (T)
24 Junievs. Rustenburg (T)
3 Augustusvs. Engelse Toerspan (T)

T=Tuis
W=Weg
WK=Wildeklawer
KERF=Kearsney Easter Festival

PJ Jacobs kon homself ongelukkig geag het dat hy nie in een van die nasionale skolespanne opgeneem is nie. Dit behoort hom aan te gevuur het om vanjaar nog harder te werk.   

Twee spelers van Kemptonpark se eerstespan van verlede jaar Juandre Breytenbach en Eben Brand het boonop ook die Ooste vir die Weste verruil. Breytenbach het verlede jaar op vleuel asook senter uitgedraf, terwyl Brand in die voorry sak. 

Monnas kom tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley teen Oakdale Landbou en Boland Landbou te staan. Albei die wedstryde beloof om strawwe wedstryde te wees. Monnas se drie moeilikste wedstryde gedurende die seisoen behoort teen Waterkloof, Glenwood en EG Jansen te wees.

Die wedstryde teen Waterkloof en Glenwood is albei deel van die Premier Interschools en sal regstreeks op SuperSport gebeeldsend word. Klofies het verlede jaar ‘n jong span gehad en is behoorlik in Krugersdorp met 37-7 in ‘n modderbad verniel. Vanjaar behoort sake nie so glad vir die Witbulle in die Jakarandastad te verloop nie.

Glenwood het ook ‘n appeltjie met Monnas te skil na hy met 40-15 sy rieme verlede jaar in Krugersdorp styfgeloop het. Glenwood was voor die kragmeting nog onoorwonne en het boonop kort voor die wedstryd die titel as kampioen van die Sanix-toernooi in Japan verower.  

Wedstryde tussen Monument en EG Jansen van Boksburg het die afgelope paar jaar vir ‘n hele paar klipharde kragmetings gesorg. Die wedstryd kan dalk ook soos die afgelope twee jaar bepaal wie van die Valke/Leeus/Luiperds die Virsekerbeker as die voorste span sal betree.  

Monument sal vanjaar oor die Paasnaweek net buite Durban op Kearsney College se Paastoernooi in aksie wees. Tydens die toernooi sal hy teen Dale College, HTS Middelburg en Selborne College kragte meet. 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.