SuperSport Schools Plus

Minnaar en Coetzee lei Hans Moore tot groot sege in Potch

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-02-05 Tags: , , , , , ,

Hoërskool Hans Moore se kaptein, Warren Minnaar, en voorslagkolwer, Xavier Coetzee, se gesamentlike aanslag met die kolf het hul span tot ‘n reuse oorwinning van 221 lopies gestuur oor Potchefstroom Gimnasium, in in vanjaar se Finsbury-reeks.

Minnaar was in ‘n verwoestende bui en het uitstekend gekapitaliseer op die platform wat deur Kenan Shaw (24) en Stephan Vermaak (34) gelê is.

Sy beurt van 91 lopies het vanaf slegs 68 aflewerings gekom. Coetzee het die Hansies se posisie verder verstewig met ‘n ewe indrukwekkende beurt van 85 lopies.

Vir Gimmies was niemand so vernietigend met die bal in hand soos Margeo Joubert nie. Joubert kon aan die einde van die dag met uitmuntende boulsyfers van vier paaltjies vir 36 lopies spog.

In die kolfdepartement het dinge egter skeef geloop vir die Potchefstromers. Adrian Watson, wat verwoed op dreef is in vanjaar se reeks, het nog vier paaltjies op sy kerfstok geplaas, terwyl Vermaak op sy goeie kolfbeurt voortgebou het deur ook by te dra met die bal. Sy twee paaltjies, vir slegs twee lopies, was die spyker in die Gimmie-doodskis.

Die twee se kombinasie van venynige boulwerk en konstante druk het beteken dat Gimmies slegs 78 lopies kon aanteken voordat hulle laaste paaltjie gekantel het.

Hoërskool Eldoraigne het ewe indrukwekkend met die kolf vertoon om Hoërskool Montana met nege paaljies te klop. Die vennootskap van 141 lopies tussen Kyle de Bruin (70, 112b)* en Johan Broekman (65, 78b)* om die tweede paaltjie, was die beslissende faktor tussen die twee spanne.

Die twee voorslagkolwers het op die momentum van die boulers voortgebou. Ruan Boshoff was die Eldo’s se keurbouler. Hy het die Montie-kolwers behoorlik op hul tone gehou, en sy vier paaltjies, vir 33 lopies in nege beurte, het ‘n stewige begin deur die Monties erg in die wiele gery.

Luca Bairos was die voorste lopiemaker vir sy span. Die Monties se voorslagkolwer het hard gespook om die Pretorianers se beurt te stabiliseer na Ruhan Oliphant (2/22) se uitstekende openingskof met die bal. Bairos se 29 lopies van 34 aflewerings, gekombineerd met ‘n waardevolle bydrae deur Schalk van Jaarsveld (24), het die Monties tot ‘n telling van 166 aangehelp.

Bairos was ook sy span se enigste bouler van formaat. Hy het van Eldo’s se aanvangskolwer, Ryno Redelinghuys, vir slegs 13 lopies ontslae geraak.

Hoërskool Kemptonpark het hul onoorwonne status behou toe hulle daarin kon slaag om Hoërskool Monument met 67 lopies te verslaan. Marko van Voorst was die Kempies se beste kolwer met 43 lopies. Joshua Shanker (38) en Stian de Villiers (21) het ook goed vertoon onder druk en in taai toestande.

André van Niekerk het vir Monnas die grootste skade met die bal aangerig. Hy kon spog met puik boulsyfers van vier paaltjies vir 37 lopies. Werner Durrheim het goeie ondersteuning gebied met drie paaltjies van sy eie.

Teleurstelling met die kolf het egter weer kop uitgesteek vir die span van Krugersdorp. Die Kempies se voorste bouler in vanjaar se reeks, Martin Williams, het behoorlik onder die Monnas-kolwers gemaai.

Williams het ‘n uitstekende vyftal paaltjies geneem, wat sy span slegs 33 lopies gekos het. Wian Pieters het hom goed bygestaan, deur self drie Monnas kolwers terug pawiljoen toe te stuur .

Slegs Keagan van Wyk kon iets waardevol bydra tot Monnas se teleurstellende telling van 112. Hy het hardnekkig vir sy 25 lopies, vanaf 38 aflewerings, baklei.

Beknopte telkaarte: 

Hans Moore: 298 (Warren Minnaar 91, Xavier Coetzee 83, Stephan Vermaak 34, Kenan Shaw 24; Margeo Joubert 4/30, Henre Cronje 2/53). Potchefstroom Gimnasium: 78 (Divan van Eldi 10; Adrian Watson 4/17, Stephan Vermaak 2/2). Hans Moore wen met 221 lopies.

Hoërskool Montana: 166 (Luca Bairos 29, Schalk van Jaarsveld 24; Ruan Boshoff 4/33, Reinardt Haasbroek 2/13, Ruhan Oliphant 2/22). Hoërskool Eldoraigne: 168/1 (Kyle de Bruin 70*, Johan Broekman 65*; Luca Bairos 1/29). Eldoraigne wen met nege paaltjies.

Hoërskool Kemptonpark: 179 (Marko van Voorst 43*, Joshua Shanker 38, Stian de Villiers 21; André van Niekerk 4/37, Werner Durrheim 3/41). Monument: 112 (Keagan van Wyk 25; Martin Williams 5/33, Wian Pieters 3/25). Kemptonpark wen met 67 lopies.

 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.