Midstream oorgehaal vir Marais Viljoen-uitdaging
Midstream College sien uit na die uitdaging daarvan om die nr. 1-span in Afdeling C van die Finsbury-reeks, Hoërskool Marais Viljoen, in Pretoria te verwelkom.
Die Pretorianers sal hul reeks terug op die wenpad wil plaas, na ‘n nederlaag teen Hoërskool Zwartkop in die vorige ronde. Midstream se vooraanstande bouler, Xander Senekal, vaar tot dusver uitstekend.
Hy het regdeur die reeks opspraak gemaak met die bal, terwyl hy ook ‘n belangrike rol vervul op die kolflys.
Die aanvangsbouler, Jonathan Wiseman, lyk ook of hy sy ritme in die vorige ronde herwin het. Wiseman het ‘n ietwat stil reeks beleef totdat hy ‘n indrukwekkende vertoning teen die Zwarries gelewer het.
Jean Holtzhausen se terugkeer na sy besering was ook goeie nuus vir die span van Midrand. Hy het dadelik sy voete weer gevind en sal Saterdag die Marais Viljoen-boulers van meet af onder druk wil plaas.
Jeandre Lourens sal weer sy plek in die middelorde opneem om die Midstream-kolflys verder te versterk.
Marais Viljoen gaan die kragmeting met ‘n uiters sterk kolflys tegemoet. Die meerderheid van hul toporde het deur die loop van die reeks die lopies opgestapel. Aldre Huyzers, na sy spogvertoning met 109 lopies teen Hoërskool Ben Vorster, sal die kolfaanslag lei, terwyl Nathan Coleske se paaltjie ook een is wat Midstream vroeg sal wil laat kantel. Coleske se draaiboulwerk is voorts ‘n gevaarlike wapen in die span van Alberton se arsenaal.
Midstream sal ook ligloop vir die aanvangskolwer, Tyron Bouw. Bouw sal wil opmaak vir ‘n teleurstellende vertoning teen die Tzaneeners verlede naweek, en dit maak hom uiters gevaarlik. Tiaan Kuhn sal die span se boulaanval lei, waarna ‘n bedrieglike draaibalaanval die lewe vir Midstream erg kan bemoeilik.
Hoërskool Lichtenburg pak die reis aan na Centurion waar hulle teen Hoërskool Zwartkop in die laaste ronde te staan kom. Albei spanne het bemoedigende oorwinnings in die vorige ronde behaal, met die Zwarries wat vir ‘n opskudding teen Midstream College gesorg en die Liggies wat koning gekraai het oor Hoërskool Pietersburg.
Die Liggies se gevaarlike duo met die bal, Ona Senokwane en Lethabo Memani, sal gretig wees om Centurion op horings te neem. Die twee spog gesamentlik met 15 paaltjies oor die laaste twee rondes. Senokwane vaar tot dusver uitstekend met die nuwe bal, terwyl Memani die skroewe in die middelste beurte weer styf sal wil vasdraai. Hy is ook een van die Liggies se beste kolwers tot dusver.
Douw Jacobs kon in die laaste twee rondes 114 lopies met die kolf bymekaar maak, en sal uitsien na die uitdaging wat Zwarries se sterk boulaanval bied.
Vir die Zwarries is dit sy aanvangsbouler, Rowan Mclaren, wat ‘n deurslaggewende rol kan speel. Mclaren het uitstekend vertoon in die vorige twee rondes, met ses paaltjies wat hy laat spat het. Lichtenburg sal ook moet “ligloop” vir Liam van Wyk .
Die twee voorslagkolwers, Zandre van Staden en Nicholas Conradie, sal die toon moet aangee om nog ‘n moontlike sege vir die Pretorianers te verseker.
Hoërskool Ben Vorster gaan kuier agter die berg wanneer hulle teen tradisionele aartsvyande, Hoërskool Pietersburg, te staan kom. Albei spanne is nog wenloos in vanjaar se reeks, wat beteken dat ‘n sege in hierdie kragmeting die promosie-relegasie-spook sal weghou.
Die Pieties se keurbouler, Hanno van Zyl, het in bykans elke wedstryd van die reeks met ‘n drietal paaltjies kon spog en hou groot gevaar in met die bal. Sy kolfwerk in die middelorde is ook nie te versmaai nie.
Stephan Swanepoel sal van sy geleendheid in die toporde wil gebruik maak om sy lopietal op te stoot, terwyl die veelsydige Nicholaas Oerlemans ook sy pond vleis sal wil eis.
Die Tzaneeners se kaptein, Njabulo Maseko, het nog nie op alle silinders gevuur nie, en sal in hierdie laaste wedstryd, teen die ou vyand, sy staal wil tentoonstel.
Die draaier, Ndzalama Mushwana, het uitgestaan in die span se dragslae teen Marais Viljoen verlede naweek en, hoewel daar tot dusver nie baie op sy knoppie gedruk is om te boul nie, kan hy die Pietie-kolwers onder taamlike druk plaas. Ruben Pohl sal sy puik werk as paaltjiewagter wil voortsit en is ook ‘n bestendige kolwer in die Vossies se middelorde.




