Midstream kwalifiseer vir promosie-stryd te midde van reën

Midstream College het sy neus voorgekry in die C-afdeling van die Finsbury-reeks. Dit beteken dat die span van Centurion aanstaande week teen Hoërskool Centurion in die promosie-relegasie-wedstryd te staan sal kom.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Midstream het die vier wat punte benodig was ontvang nadat Hoërskool Monument besluit het om die wedstryd Saterdag in Centurion te verbeur. Die besluit is deur die span van Krugersdorp geneem na minstens vyf reënonderbrekings die wedstryd se momentum versteur het.
Die tuisspan was egter net ‘n paar lopies weg van ‘n bonuspuntsege toe spel om 16:10 hervat sou word en die Monumentare die besluit geneem het. Dit het aan hom die sege en vier ligapunte besorg om as die wenners van die C-afdeling weg te stap en sy plek teen die Woeries te bespreek.
Tehan Mare het die Monnas-kolwers laat bontstaan in uitdagende kolftoestande. Mare, een van sy span se uitblinkers vanjaar, het aan die einde van sy toegelate 10 beurte met vier paaltjies vir net 36 lopies gespog. Logan Weetman was die besoekers se uitblinker met die wilgerlat en het 28 lopies in die moeilike toestande geslaan.
Eckhardt du Toit (39) en Dian de Villiers (25) het die tuisspan se jaagtog op ‘n positiewe noot begin met ‘n aanvangsvennootskap van 73, terwyl Weetman weer die besoekers se staatmaker was met die bal en drie paaltjies vir net twee lopies in sy drie beurte opgeraap het.
Hoërskool Lichtenburg het verras met ‘n yslike vertoning om die relegasiespook weg te hou. Die Liggies het behoorlik geskitter met ‘n reuse oorwinning van 186 lopies oor Hoërskool Dinamika.
In ‘n wedstryd wat feitlik alles bevat het, het die Liggies se voorslagkolwer, Luan Snyman, kop en skouers bo die res uitgestaan. Hy het die langsteel behoorlik ingelê om 160 lopies van net 131 aflewerings te moker, in ‘n beurt wat 22 grenshoue, waarvan 10 anderkant die tou geland het, ingesluit het.
Jurgens Hesse het hom puik bygestaan met 81 lopies van sy eie, om hul span tot ‘n fris totaal van 319 te help. Te midde van die chaos wat die twee Liggie-kolwers onder die Dinamika-boulers gesaai het, het die besoekers se aanvangsbouler, Jayden Smith, kop gehou om vyf paaltjies te laat spat in sy nege beurte, vir slegs 40 lopies.
Asof Snyman nie genoeg skade aangerig het met die kolf nie, het hy ook drie paaltjies vir 46 lopies geneem. Raiyaan Pathan was egter die uitblinker met die bal en het met 4/23 in net 5.2 beurte gepronk om die besoekers vir 133 uit te haal.
Hoërskool Zwartkop was sekerlik die ongelukkigste span vandeesweek. Die Zwarries se wedstryd teen Hoërskool Pietersburg is na net 45.2 beurte afgelas wat beteken het dat hulle slegs twee ligapunte uit die stryd kon kry. Die Pieties was in die moeilikheid op 135/8 toe reën die Zwarries se partytjie kom bederf het.
Beknopte telkaarte:
Monument 132 (Logan Weetman 28, Kaylib Dosantos 21, Rigard Prinsloo 20; Tehan Mare 4/36, Jean Holtzhauzen 2/15); Midstream College 84/4 (Eckhardt du Toit 39, Dian de Villiers 25; Logan Weetman 3/2). Monument verbeur wedstryd, ligapunte gaan aan Midstream College.
Hoërskool Lichtenburg 319 (Luan Snyman 160, Jurgens Hesse 81, Oratile Mmasa 26; Jayden Smith 5/40, Branko Steenberg 2/47); Dinamika 133 (Trent Shrives 29, Ekstras 32, Kyle du Plooy 23; Raiyaan Pathan 4/23, Luan Snyman 3/46). Hoërskool Lichtenburg wen met 186 lopies.
Hoërskool Pietersburg 135/8 (Dian Gouws 36, Celliers van der Merwe 29, Willem Viljoen 21; Christian Visagie 4/17, Zandre van Staden 2/18). Zwartkop (Het nie gekolf nie). Wedstryd afgelas weens gure weer.
- Free State finish with a flourish - 2025-07-11
- Viljoen fires Lions to third straight title - 2025-07-11
- Results – FNB u18 Academy Week – Day 3 - 2025-07-11