SuperSport Schools Plus

Midstream glip verby Pieties in naelbytstryd

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-01-29 Tags: , , , , ,

Midstream College se tog na die hoofstad van Limpopo was die moeite werd, toe hulle ‘n tweede agtereenvolgende sege in Afdeling-C van die Finsbury-reeks behaal het met ‘n naelbytoorwinning oor Hoërskool Pietersburg.

Dian de Villiers het die toon aangegee vir die Pretorianers met die kolf, en was Midstream se voorste lopiemaker met ‘n totaal van 64.

Janco van Heerden het ook ‘n waardevolle beurt van 54 lopies van net 45 aflewerings bygedra, terwyl Jeandre Lourens (44) uitgemis het op sy vyftigtal met net ses lopies.

Die Pieties se aanvangsbouler, Hanno van Zyl, was oudergewoonte dodelik met die bal. Sy balle het Midstream laat bontstaan en het vir hom vyf paaltjies besorg.

Stefan Swanepoel het goeie rugsteun gebied sy drie paaltjies.

Die Pietie-kolwers het hard geswoeg om ‘n eerste oorwinning te probeer bewerkstellig. AJ Galloway (69) en Cilliers van der Merwe (39) het dit so hittete reggekry om die Pietersburgers oor die lyn te kry.

‘n Goeie terugvegpoging deur die Midstream-duo, Janco van Heerden (3/29) en Ricus Cilliers (3/55), het die Pieties se aanslag egter in hul spore gestuit. Die ses paaltjies tussen die twee het beteken dat die Pieties net 231 kon aanteken, 14 lopies kort van ‘n oorwinning.

Marais Viljoen en Hoërskool Zwartkop is behoorlik getoets onder moeilike omstandighede. Die span van Alberton was eerste aan die beurt met die kolf. Nathan Coleske het tot sy span se redding gekom na ‘n wankelrige begin, met ‘n ywerige beurt van 82 lopies. Declan Botes se uithoubeurt van 30 in die toporde het uiteraard ook ‘n waardevolle bydrae tot sy span se totaal van 171 gelewer.

Zwartkop se Wynand Frylinck het weer die bal laat gesels en vroeg reeds  skade berokken met twee paaltjies vir 23 lopies. Zandre van Rooyen (2/33) en Layton Wilson (2/33) het hulself ook goed van hul taak gekwyt met vier paaltjies tussen die twee van hulle.

Die Zwarrie-kolwers kon egter nie die mas opkom teen die sterk boulaanval van Marais Viljoen nie. Hier was Coleske ook die uitblinker met syfers van 4/35 . Declan Botes was ook gevaarlik en die wegbreekbouler het ‘n verdere drie slagoffers geëis om sy paaltjiestand na agt in twee wedstryde te skuif.

Nicholas Conradie was die Zwarries se keurkolwer. Sy 39 lopies het van 39 balle gekom, maar was nie genoeg om sy span tot ‘n oorwinning aan te spoor nie.

Lichtenburg se lang tog na agter die sitrusgordyn was aan die einde van ronde twee die moeite werd. Die Liggies kon daarin slaag om met ‘n  oorwinning met sewe paaltjies oor Hoërskool Ben Vorster huiswaarts te keer.

Beknopte telkaarte: 

Midstream College 245 (Dian de Villiers 64, Janco van Heerden 54, Jeandre Lourens 44, Ryan Strauss 25; Hanno van Zyl 5/22, Stefan Swanepoel 3/20). Hoërskool Pietersburg 231 (AJ Galloway 69, Cilliers van der Merwe 39, Philip Weterman 30, Hanno van Zyl 26; Janco van Heerden 3/29, Ricus Cilliers 3/55). Midstream College wen met 14 lopies.

Marais Viljoen 171 (Nathan Coleske 82, Declan Botes 30; Wynand Frylinck 2/23, Zandre van Staden 2/25, Layton Wilson 2/33). Hoërskool Zwartkop 112 (Nicholas Conradie 39; Nathan Coleske 4/35, Declan Botes 3/45, Jordan Baijnath 2/9). Marais Viljoen wen met 59 lopies.

Ben Vorster t. Lichtenburg: TBC 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.