Midstream College dra die kroon as kampioen van Afdeling 2 van die Noordvaaltrofee

Midstream College het met ‘n sege van 22-12 oor die Hoërskool Merensky in die eindstryd van Afdeling 2 van die Noordvaaltrofee finaal die spanne vanuit Limpopo se partytjie in die kompetisie bederf.
Midstream was die enigste span van buigte Limpopo wat tot die halfeindronde van die reeks deurgedring het.
Merensky was sonder twyfel die sterkte span in dié liga vanuit Limpopo, maar die feit dat hulle na Centurion moes reis vir die eindstryd het gewis sake vir hom ietwat moeiliker gemaak.
Frikkie Meyer van Thabazimbi en Ellisras was die ander twee spanne vanuit Limpopo wat in die halfeindronde in aksie was.
Midstream College het die eindstryd goed begin en sake in die eerste 15 minute beheer. Die span kon egter slegs drie punte vir al hul balbesit en gebiedsvoordeel wys danksy ‘n strafdoel deur die losskakel, Jaedon de Leeuw.
Dit was slegs klipharde duikslae van Merensky wat die tuisspan verhoed het om meer punte aan te teken. Die sterk wind het sake ook vir albei spanne bemoeilik met die heelagters, Cale White (Midstream) en Dirk de Nyschenn (Merensky) wat kort-kort met hoë hangskoppe besproef is.
White is onkant betrap met een rolskop wat daartoe gelei het dat sy direkte teenstander, De Nyschenn, die geleentheid benut het om die eerste drie van die kragmeting in die hoekie te gaan afrond. Dit het ook dan aan Merensky ‘n skrale voorsprong van 5-3 teen rustyd besorg.
In die tweede helfte was dit weer Merensky wat sterk begin het en Midstream wat vir ‘n vale moes walgooi. Die besoekers se losskakel, Phillip Ludick, het na ‘n skerp breekslag gaan druk sonder dat enige verdediger ‘n vinger op hom gelê het.
Midstream College se regtervleuel, Hilton Thomas, het daarna ‘n skitterende beweging afgerond om die momentum weer in sy span se guns te swaai. Thomas is die Suid-Afrikaanse 400m-kampioen en sy vaart het met slegs ‘n minuut oor in die eindstryd sy span handig te pas gekom.
Die kampioen se skrumskakel en kaptein, Rhynardt Henning, het omgekeerde besit in ‘n duikslag bewerkstellig en teen die kantlyn afgenael waarna hy vir Thomas in besit geplaas het om die koël deur die kerk onder die pale te gaan plaas.
Voor Thomas se drie was Merensky weer sterk op die aanval, maar Midstream kon daarin slaag om sy voorsprong van 15-12 te behou. Midstream het die voorsprong geneem danksy sy binnesenter, Rowan Lindeque, wat die bal in sy eie kwartgebied onderskep het en die linkervleuel, Nathaniel Manonga, weggesit het.
Dit was ‘n titaniese eindstryd wat albei dié spanne nog lank sal onthou.
Midstream College se beste speler op die dag was sy skrumskakel, Henning, wat spel goed met sy skopvoet dikteer het.
Puntemakers:
Midstream College 22 (3) – Driee: Hilton Thomas (2), Nathaniel Manon. Doelskoppe: Jaedon de Leeuw (2). Strafdoel: De Leeuw. Merensky 12 (5) – Driee: Dirk de Nyschhen, Phillip Ludick. Doelskop: Neil van Vuuren.
Ander spanne:
o.16: Potchefstroom Gimnasium 15, Bergsig 10.
o.15: Brandwag (Benoni) 18, Hans Moore 13.
o.14: Randburg 36, Dinamika 29.




