SuperSport Schools Plus

Middies is Zwarries se 15de slagoffer vanjaar

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-07-27 Tags: , , , , , , , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Hoërskool Middelburg het Saterdagmiddag op sy tuisveld Hoërskool Zwartkop se 15de slagoffer vanjaar geword.

Herleef al die SDC Noordvaal Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die Vikings se haker, Regan Blignaut, het nogmaals baljaar op die aanval en met ‘n tweekuns aan drieë sy span na ‘n sege van 30-19 oor die Middies gelei.

Dit is die Zwarries se 15de agtereenvolgende sege in 2025, waarmee hulle ook hul onoorwonne status vanjaar behou.

Blignaut, wat nog in Graad 11 is, het tot dusver vanjaar uitgetroon vir die span van Centurion, en is tans een van sy span se voorste driedrukkers.

Losskakel, Tilon Baron, en senter, Luan Williams, het ook uitgeblink vir die Zwarries in Middelburg. Baron was in die kol met drie doelskoppe en drie strafdoele om die helfte van sy span se punte aan te teken, terwyl Williams ‘n tier was op die verdediging. Sy lakwerk in die middeveld het nie alleen die Middies telkens gestuit nie, maar ook dikwels die druk omgeswaai na die tuisspan toe.

‘n Entjie verder in die pad af, het HTS Middelburg vir Hoërskool Kempton Park met 22-3 afgestof. In die agterlyn het Jacques Greyling (senter) het en CJ Muller (vleuel) hul indrukwekkende spelpeil voortgesit, terwyl steelkantflank, Ethan Kok, voorlangs gewoel het om die Rooi Bulle knaend op die voorvoet te plaas.

Die tendens was dieselfde in Ermelo, waar slot, Abrie Esterhuizen, en flank, Marnus van der Merwe, die grondslag vir Hoërskool Klerksdorp se sege van 46-31 oor Ligbron Akademie gelê het met hul fisieke teenwoordigheid in die loopgraaf-oorlogvoering voorlangs. Esternhuizen en vleuel, Elzeno Schalkwyk, het elk ‘n tweekuns vir Klerksdorp behaal.

Hoërskool Wesvalia moes ‘n rustydagterstand van 3-14 uitwis om vir Hoërskool Marais Viljoen met 28-22 te troef. Haker, Fanie Linde, het die pap dik aangemaak in die vastelos en sy hoë werkverrigting het ook aan hom twee drieë besorg.

Puntemakers:

Zwartkop 30 (20) – Drieë: Regan Blignaut (2), David van Jaarsveld. Doelskoppe: Tilon Baron (3). Strafdoele: Baron (3). Hoërskool Middelburg 19 (5) – Drieë: Roux Grobler, Keabetswe Ngadima, Siyabonga Mokgoatjana. Doelskoppe: Matthew Abbey (2).

HTS Middelburg 22 () – Drieë: Andrea de Wet, Jacques Greyling, Nathan Jansen van Vuuren. Doelskoppe: Danté Lubbe (2). Strafdoel: Lubbe. Hoërskool Kempton Park 3 () – Strafdoel: Stian de Villiers.

Hoërskool Klerksdorp 46 (20) – Drieë: Abrie Esterhuizen (2), Elzeno Schalkwyk (2), Tiaan Koen, Rellston Wilson,Winton Abrahams, Marco Symmington. Doelskoppe: Dorian Isaacs (3). Ligbron Akademie 31 (10) – Drieë: Ian Booysen, Tiaan Botha, Banele Mthombo. Doelskoppe: Gaston Brown (2), Eben Degenaar. Stradoel: Degenaar.

Wesvalia 28 (3) – Drieë: Fanie Linde (2), Joshua Pieters, Stephan Pelser. Doelskop: Eduard Dreyer. Strafdoele: Dreyer (2). Marais Viljoen 22 (14).

Ander spanne:

o.16: Hoërskool Middelburg 40, Zwartkop 16; Kempton Park 48, HTS Middelburg 15; Klerksdorp 40, Ligbron 12; Marais Viljoen 19, Wesvalia 16.

o.15: Hoërskool Middelburg 21, Zwartkop 15; Kempton Park 28, HTS Middelburg 22; Ligbron 17, Klerksdorp 15; Wesvalia 24, Marais Viljoen 15.

o.14: Hoërskool Middelburg 54, Zwartkop 7; HTS Middelburg 10, Kempton Park 6; Ligbron 12, Klerksdorp 7; Wesvalia 35, Marais Viljoen 7.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.