SuperSport Schools Plus

Middelburgers pak mekaar in buurstryd

By Franco Oberholzer , in Cricket | News , at 2024-02-15 Tags: , ,

Middelburg kan uitsien na ‘n liplekkerstryd wanneer die twee plaaslike skole, Hoërskool Middelburg en Hoër Tegniese Skool Middelburg, in die laaste ronde van die Finsbury-reeks met mekaar kragte meet.

Dit is altyd ‘n reuse naweek wanneer die twee skole op enige gebied meeding, en die gunstelinge in hierdie naweek se stryd, Hoërskool Middelburg, sal oorgehaal wees om die reeks met slegs ‘n enkele nederlaag af te sluit.

In teenstelling daarmee sal HTS Middelburg sy reeks met ‘n sege wil afsluit, na ‘n nederlaag met vyf paaltjies teen Hoërskool Merensky in die vorige ronde.

Die Middies se krag lê in hul sterk kolflys. Shuan Taljaard, die span se voorste kolwer, het in sy laaste twee wedstryde gesamentlik 119 op sy kerfstok geplaas, en Zubair Desai sal op die gholf van selvertroue, na sy beurt van 53 lopies verlede naweek, wil ry.

Eduan Strydom sal die Middies-boulaanval lei, nadat hy ses paaltjies in sy laaste twee verskynings geneem het.

Vir die Rooies sal kaptein, Toy Engelbrecht, van die massiewe geleentheid wil gebruik maak, nadat hy regdeur die reeks, met die bal en kolf, die toon aangegee het, om met ‘n groot vertoning af te sluit.

Ethan Dreyer is die gevaarman met die bal in hand, terwyl die bestendige WJ Enslin ook ‘n groot gevaar vir die Middie-kolwers inhou.

Arman Kotze sal oudergewoonte die anker in die Rooies se kolflys wees, nadat hy oor die laaste twee wedstryde goeie momentum opgebou het. Die voorslagkolwer sal hoop om sy span, met nóg ‘n spogvertoning met die kolf, oor die wenstreep te kry.

Merensky reis vir die tweede agtereenvolgende week Mpumalanga toe wanneer hulle Saterdag teen ‘n omgekrapte Uplands College te staan kom. Die Plasies sal hoop dat hul snelbouler, Topher Elphinstone, sy vertoning teen HTS Middelburg verlede naweek kan herhaal. Die Tzaneeners hou ook asem op om te hoor of hul vooraanstaande bouler, Luka Heinlein, sy terugkeer, na ‘n maagspierbesering, kan maak.

Met die kolf sal die paaltjiewagter/kolwer, JP Botha, weer op sy stukke wees. Botha is uiters gevaarlik wanneer hy eers by die kolfkampie gevestig raak. Die bestendige Rinaldo Bornman sal ook sy plek in die middelorde opneem om die Plasies se kolflys verder te versterk.

Die gewonde Uplands College sal nietemin ‘n handvol wees. ‘n Oorwinning Saterdag sal die span van Mpumalanga uit die stryd vir die houtlepel en promosie-relegasie hou.

Die span se keurbouler, Kai Naylor, was in die laaste twee kragmetings in ‘n verwoestende bui en het agt paaltjies oor die vorige twee rondes ingepalm.

Die veelsydige Leam van Zyl sal ook op die Tzaneeners wag na sy bestendige vertonings deur die reeks, en sal die nuwe bal vir sy span opneem, terwyl hy die kolflys in die middelorde behoort te versterk.

Jack Robson sou ook taamlike selfvertroue uit sy vyftigtal teen Hoërskool Dinamika geneem het. Die voorslagkolwer sal mik om die Plasies se boulaanval voortdurend onder druk te plaas.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.