SuperSport Schools Plus

Middelburg weer in rooi getooi

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-08-31 Tags: , , , ,

FOTO: Tap Light Edits.

Hoër Tegniese Skool Middelburg het Saterdag op tuisbodem ‘n tweede agtereenvolgende SDC Noordvaal Plaat-titel onder breier, Jano Venter, ingepalm.

Herleef al die SDC Noordvaal Cup se Plaat-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Venter het verlede jaar amptelik as die Rooi Bulle se afrigter oorgeneem en met die intrapslag die span van Middelburg na ‘n Plaat-titel gelei, ná die gelykopuitslag van 24-24 teen Hoërskool Transvalia in die eindstryd in Vanderbijlpark.

Vanjaar staan die Rooi Bulle egter alleen as nommer een op die podium, nadat hulle Saterdag in vanjaar se tweede Middelburg-derby met 19-11 oor die naburige Hoërskool Middelburg baas was.

Agsteman, Tercuis Bezuidenhout, het nogmaals die wenkbroue gelig met sy indrukwekkende skopvernuf. Dit was van meet af aan duidelik dat enige beskikbare punte gevat moes word, met albei spanne se verdediging wat rotsvas gestaan het, en dus het Bezuidenhout se drie strafdoele ‘n aansienlike bydrae tot sy span se sege gelewer.

Die stryd tussen die twee agttalle was titanies, met geen genade wat gegee of gevra is nie. Die feit dat ál drie drieë in die wedstryd deur voorspelers gedruk is, getuig hiervan.

Die Rooi Bulle se loskopstut, Janco Botha, het wel soos ‘n wafferse senter van die halflyn deurgestorm vir sy vyfpunter, terwyl, haker, Hanro Terblanche, vir die eerste drie van die wedstryd oorgeduik het.

Matthew Abbey het sy Middie-loopbaan met twee strafdoele afgesluit, terwyl oopkantflank, CW Hanekom, vir ‘n laaste keer in ‘n Middelburg trui oorgeduik het. Hul pogings was egter net nie genoeg om die Rooies op hul tuisveld te stuit nie.

Die Middies het egter nie met leë hande huis toe gegaan nie, met die o.16-span wat vir die derde agtereenvolgende jaar as kampioen in die afdeling van die veld gestap het. Hulle het vir Hoërskool Oos-Moot met 24-19 met ‘n drie kort voor die eindfluitjie getroef.

Die feit dat hulle agtereenvolgens as o.14-, o.15- en o.16-spanne koning gekraai het in die Plaat-afdeling, is iets wat die Middies se ondersteuners opgewonde sal maak wanneer dié klomp volgende jaar by die ope-spanne aansluit.

Die uitstaande seisoene deur die twee ouer ouderdomsgroepe en goeie seisoene onder die juniors, het ook verseker dat die Middies promosie na die taaiste afdeling, die Beker, verwerf het, en dus vir Transvalia en Hoërskool Nelspruit, wat albei na die Plaat gerelegeer word, vervang.

Hoërskool Oos-Moot se o.15-span het die teleurstelling van verlede jaar se o.14-eindstryd agter hom geplaas deur vir Hoërskool Zwartkop met 24-11 te verslaan. Die Oosies het verlede jaar met 8-15 teen Hoërskool Transvalia vasgeval.

Hoërskool Wesvalia spog met die beste o.14-span in dié afdeling. Die Wessies het uiteindelik, na ‘n vierkuns deur sy reuse en bedrywige agsteman, Dihan Booyens, met ‘n sege van 27-18 oor Hoërskool Kempton Park se vurige juniors vir Klerksdorp trots gemaak.

Puntemakers: 

HTS Middelburg 19 (11) – Drieë: Hanro Terblanche, Janco Botha. Strafdoele: Tercius Bezuidenhout (3). Hoërskool Middelburg 11 (8) – Drie: CW Hanekom. Strafdoele: Matthew Abbey (2).

Ander spanne: 

o.16: Hoërskool Middelburg 24, Oos-Moot 19.

o.15: Oos-Moot 24, Zwartkop 11.

o.14: Wesvalia 27, Hoërskool Kempton Park 18.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.