SuperSport Schools Plus

Middelburg vroeg reeds vanjaar in groen en rooi getooi

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-24 Tags: , , , , , ,

FOTO: ka_sports.photography – Kamryn Aswin

Middelburg is weer in groen en rooi getooi met ‘n liplekker-stryd wat voorlê tussen die twee naburige skole op die krieketveld.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Die Middies word waarskynlik as gunstelinge beskou aangesien hulle in die laaste paar kragmetings die oorhand oor hul bure geniet het. Tuisveldvoordeel en die opwinding van ‘n derby kan egter ‘n groot rol speel, verál in die spel met die leerbal en wilgerlat.

Die Middies, wat reeds met ‘n oorwinning spog oor Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen, sal vol vertroue wees om daarop voort te bou in 2025. Nóg ‘n positiewe is die feit dat die veelsydige draaier, Gavin Genis, reeds onder die paaltjies baljaar het, terwyl aanvangskolwer, Zubair Desai, ook goeie vorm getoon het vir sy 24 teen die Vossies.

HTS beskik self oor opsies wat draaiboulwerk betref, met Anthoni Smuts, ook ‘n venynige kolwer, en Ethan Dreyer wat belangrike rolle het om te vervul in hul span se boulbeurt. Die tuisspan se veelsydige kaptein, Armand Kotze, sal die pas met die bal en kolf wil aangee, vernaam teen die tradisionele aartsvyande.

Hoërskool Dr. Malan sal wil voortbou op die goeie momentum van die eerste week wanneer hy na Witrivier reis om Uplands College die stryd aan te sê. Die Dokkies was blitsig uit die blokke met ‘n gemaklike oorwinning met agt paaltjies oor HTS Middelburg.

Luka Pretorius, ook ‘n kranige rugbyspeler, het met die eerste oogopslag die gevaarlikste met die kolf gelyk en dus bied hierdie naweek ‘n groot toets vir die span van Meyerton se voorslagkolwer op die Laeveld se blaaie.

Hoërskool Ben Vorster verwelkom Heidelberg Volkskool in wat ‘n bloedige warm en bedompige Tzaneen behoort wees. Alhoewel die Tzaneeners met 61 lopies teen Hoërskool Middelburg vasgeval het verlede week, was daar positiewe tekens. Santag Ramatsuma, die Vossies se ster met die bal, sal byvoorbeeld oorgehaal wees om weer vyf paaltjies te probeer oes.

Bepalings:

Week 2:
HTS Middelburg t. Hoërskool Middelburg
Uplands College t. Dr Malan
Ben Vorster t. Heidelberg Volkskool

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.