Middelburg-derby kry groen lig vir 2026

Die stryd om te sien wie die beste rugbyspan in Middelburg is, sal in 2026 voortgaan.
Volg al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Hoewel Hoërskool Middelburg in 2026 in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling gaan uitdraf, en Hoër Tegniese Skool Middelburg in die Plaat, sal die jaarlikse Middelburg-derby steeds plaasvind.
Die rugbybase van albei skole, Jano Venter (HTS Middelburg) en Coene Nolte (Hoërskool Middelburg), het na beraadslaging met die Noordvaal-bestuur uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat dié twee spanne aanstaande jaar op dieselfde naweek ‘n loslootjie kan geniet, waarvolgens die derby dus op 9 Mei 2026, by Hoërskool Middelburg, kan plaasvind.
“Dit is fantasties dat die derby voortgaan,” het Venter gesê. “Dit bied eerstens ‘n taamlike finansiële inspuiting vir die dorp, met mense wat van heinde en ver kom om die wedstryd by te woon.
“Tweedens sou dit ‘n onreg wees om die seuns van só ‘n dag te ontneem. Daar is min dorpe wat bevoorreg genoeg is om twee sulke sterk skole te hê, so ‘n derby so taai soos die afgelope twee jaar s’n is Middelburg weer beskore.”
Nolte meen dat die derby in elke Middelburger se hart leef.
“Vir meeste mense is dit nie bloot ‘n wedstryd nie, maar ‘n erfenis van trots, gees en eenheid,” sê hy. “Alle Middelburgers, oud en jonk, beplan maande vooraf om die jaarlikse derby by te woon.
“Die dorp word waarlik in rooi en groen getooi tydens derby-week. Dit wys ook hoe gesond Middelburg se twee Hoërskole en gemeenskap is. Vir ons by die Middies is dit belangrik dat die tradisie voortbestaan.”
In 2025 het dié spanne mekaar twee keer gepak. Eers was dit die Middies wat op vanjaar se derby-dag met 16-11 baas was. Die Rooi Bulle het egter die bordjies verhang in die eindstryd van die Plaat-afdeling met ‘n sege van 19-11. Daarmee het hulle ook die titel verdedig en ‘n tweede, agtereenvolgende trofee onder Venter, in sy twee jaar by die Rooi Bulle, ingepalm.
Die spanne het in 2024 en 2025 vier keer ontmoet, in 2024 twee keer op Hoërskool Middelburg se veld en in 2025 twee keer by die huis van die Rooi Bulle. Wat die afgelope twee seisoene betref, loop die span in rooi dus met drie seges teenoor een voor, wat van 2026 ‘n reuse affêre maak.





