Meyer sink ses vir Helpmekaar, Conradie en Prins laat Diamonds les opsê

Helpmekaar het weer gewys dat hulle ‘n groot uitdaging gaan wees by vanjaar se toernooi met ‘n tweede indrukwekkende sege.
Die span van Johannesburg se boulers het ligte werk van Stellenberg gemaak. Henricus Meyer het veral verwoesting gesaai en kon ses paaltjies neem terwyl hy slegs 14 lopies afgestaan het.
Kyk die wedstryde van die HJS Krieketweek regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die toernooi
Kyle Swanepoel se onoorwonne 60 lopies het die span van Johannesburg vinnig tot by hul doelwit gekry, en met hul tweede agtereenvolgende sege agter die rug lyk hul wedstryd teen Boland Landbou hierdie Saterdag asof dit een van die hoogtepunte van die naweek kan wees.
Die Boland manne bly onoorwonne by die jaar se byeenkoms, nadat hulle op dag een vir Noord-Kaap kon aftrap en Vrydag vir Diamantveld met 139 lopies kon klop.
Stefan Conradie en Francois Prins kon albei 101 moker teen die Diamonds, en Rynhard van der Schyff se blitsige 89 van 63 aflewering het sake verder vir die besoekers moeilik gemaak.
Simon Liversage was weereens ‘n uitblinker vir die span van Kimberley, maar selfs met sy bydrae van 58 lopies en Hendrik van Staden se 47 lopies was daar nie genoeg om Boland se massiewe 357/8 in te haal nie.
Charl Prinsloo was aan die voorpunt van Centurion se boulaanval met 3/17 om die Kapenaars vir slegs 103 terug kleedkamers toe te stuur. Sy spanmaat, Stefan de Villiers se bydra van 52 lopies het die besoekers sonder moeilikheid tot by die wentotaal gehelp.
Montana het sy spiere gebult teen Brackenfell met ‘n omvattende vertoning. Eers het Rowan Sweetnam (84) en Marco Rudolph (70*) die Brakkies se boulaanval pakslae gegee en toe kon Luca Bairos vyf paaltjies opraap vir die verlies van slegs 13 lopies.
Cornwall Hill College kon vasbyt vir ‘n naelskraaps orwinning teen Hoërskool Durbanville ondanks ‘n beurt deur Tobias Roelofse wat byna hul planne omver gegooi het.
Roelofse kon 39 in die doodsnikke van die wedstryd aanteken om die Durbies tot binne 12 lopies van oorwinning te bring, voordat Obakeng Mokonyane die laaste twee paaltjies kon neem vir Cornwall Hill.
Sy spanmaats, Mohale Pitso en Yueerin Govender, kon vroeër in die wedstryd vir die tuisspan onder druk plaas en het albei drie Durbie kolwers se beurte kortgeknip.
Beknopte telkaarte | Dag 2
o.19
Boland Landbou 357/8 (Stefan Conradie 101, Francois Prins 101, Rynhard van der Schyff 89; Nathan Baird 3/44, Isak-Vernon Rossouw 2/3); Diamantveld 218 (Simon Liversage 58, Hendrik van Staden 47, Luhan de la Rey 37; Lyle Lewis 2/20, Marius du Plessis 2/68). Boland Landbou wen met 139 lopies.
Stellenberg 90 (Yiva Dwaleni 20, Ekstras 20; Henricus Meyer 6/14, Xander Jackson 2/18); Helpmekaar 91/2 (Kyle Swanepoel 60*, Anrich Liebenberg 29; JJ Rothman 1/7). Helpmekaar wen met agt paaltjies.
Garsfontein 148/9 (Christiaan Wege 3/27, Aden Batt 2/17); Hoër Jongenskool Paarl 150/8 (Dian van der Westhuizen 55). Hoër Jongenskool Paarl wen met 2 paaltjies.
Montana 238/4 (Rowan Sweetnam 84, Marco Rudolph 70*, LT van der Nest 38*, Ekstras 24; JJ Mans 1/31); Brackenfell 80 (Aiden Barnardo 20; Luca Bairos 5/13, Du Preez Prinsloo 3/25). Montana wen met 158 lopies.
Curro Durbanville 103 (Caleb Jonkers 30*, Ekstras 29; Charl Prinsloo 3/17, Evert Kleynhans 2/11, Morné Venter 2/12); Hoërskool Centurion 107/3 (Stefan de Villiers 52, Ekstras 25; Janre Lourens 1/8). Hoërskool Centurion wen met sewe paaltjies.
Cornwall Hill College 218 (Oliver Richards 45, Lethabo Phahlamohlaka 34, Tshepo Molete 33 Evan Nixon 28, Ekstras 28, Amogelang Tshoagong 21; Divan Bosman 3/42, Juan Smith 2/21); Hoërskool Durbanville 207 (Tobias Roelofse 39, Jan Kriel 31, Ekstras 31, Elandré Pienaar 23; Mohale Pitso 3/36, Yueerin Govender 3/49, Obakeng Mokonyane 2/37). Cornwall Hill College wen met 11 lopies.