SuperSport Schools Plus

Menlopark weer nederlaag teen Nelspruit se Rhinos net-net af

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2021-05-09 Tags: ,

NewsGChristiaanGatesDean van der Watt en Braam Pretorius, afrigters van Menlopark, sal saamstem dat daar aanstaande week harde werk wag met die oog op die groot Pretoriase Virsekerbeker-derby teen Waterkloof.

Menlo kon ‘n nederlaag teen die Rhinos vanmiddag in ‘n vriendskaplike wedstryd eers in die doodsnikke met ‘n gelykmakende doel afweer.

Eerlike selfondersoek sal wys dat Menlo se probleme by die lynstane begin het waar die verstandhouding tussen die ingooier en springers só benedede peil was dat bloot te veel besit in hierdie belangrike faset van die spel prysgegee is. Van die lynstane waarin dinge so lelik skeefgeloop het, was op Nelspruit se doellyn.

Simptomaties van Menlo se vertoining was juis dat hulle weens swak afronding tot laat in die tweede helfte nog agtergeloop het. Die tuisspan het baie ongedwonge foute gemaak en hulself daardeur onder onnodige druk geplaas. Die twee ligpunte was Menlo se skrumwerk en die feit dat hulle nooit bes gegee het nie. Die span kan net beter speel en was boonop weens beserings nie op vol sterkte nie.

Die Rhinos kan hulself skop dat hulle ‘n oorwinning deur die vingers laat glip het, want hulle het in die voorlaaste minuut met ‘n strafdoel misluk wat Menlo in staat gestel het om besit om te keer. Die tuisspan het goed kopgehou, besit deur die een fase na die ander geneem wat uitendelik tot die gelykmakemde punte gelei het.

Wat baie van die besoekers beïndruk het, was hul spel by die afbreekpunte en die wyse waarop hulle verdedig het. Die Rhinos se eerste duikslae het baie skade aangerig.

Menlopark se beste speler was die flank Francois Oosthuizen. Hy het baie veld met sy kraglopies gewen en met een van hulle langs die kantlyn afgesuiker vir sy span se drie in die spreekwoordelike doodsnikke.

Nelspruit se losskakel, Christiaan Gates, het groot indruk gemaak met sy posisionele spel en 11 punte aangeteken wat ‘n langafstand onderskepdrie ingesluit. Voorlangs het die flank Udo Cilliers baie goed in sy rol as baljagter geslaag.

FOTO: Riaan de Bruyn

Puntemakers

Menlopark 21 (7) – Drieë: Zander West, Nathan Mong en Francois Oosthuizen. Doelskoppe: Shaun Calitz (3). Nelspruit 21 (7) – Drieë: Drikus Greeff, Ricardo Correira, Christiaan Gates. Doelskoppe: Gates (3).

Ander uitslae: 2des: MP wen 26-12; 3des: NS wen 23-16; o.16A: MP wen 38-7. o.15A: MP wen 31-5. o.14A: MP wen 33-7.

[powr-comments id=”809c7ac4_1620552469289″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.